March 2011
DR MARYKE CRAVEN, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Elke vorm van bewerkingspraktyk het implikasies vir die verskillende swampopulasies wat in grond teenwoordig is. Op sy beurt is die swampopulasies weer verantwoordelik vir die graad van siektes, soos byvoorbeeld wortel- en stamvrot, wat op gewasse voorkom.
Vanuit ‘n patologie-oogpunt is dit dus belangrik om kennis te neem van die effek wat elk van die aspekte wat kenmerkend van bewarings boerdery is – naamlik min of geen grondversteuring, plasing van ‘n deklaag en wisselbou – op die swampopulasies het.
Dit is belangrik vir enige produsent wat in bewaringsboerdery belangstel om te verstaan wat verwag kan word in terme van wortel- en stamvrotte, voordat daar na bewaringsboerdery oorgeskakel word. Dit is nie sodat die produsent deur die potensiële gevare afgeskrik moet word nie, maar sodat hy beter kan beplan.
Wanneer daar op plantsiektes gefokus word, kan elk van die drie bene van bewaringsboerdery nie los van mekaar gesien word nie, aangesien die een opmaak vir die ander se gebreke of nadelige effekte.
Die deklaag verseker verbeterde waterretensie en vermindering van gronderosie, maar is inherent ‘n potensiële rampgebied in terme van peste en plae. Aangesien baie plantsiektepatogene op plantresidue oorleef, het menige produsent onwetend siektebeheer toegepas deur stoppel op die konvensionele manier in die grond in te werk.
Deur plantmateriaal op die land te los, word die kanse vir patogene (siekteveroorsakende organismes, byvoorbeeld swamme) beter om te oorwinter en te oorleef totdat die volgende gewas gevestig is. Minimum bewerking kan dus ‘n hoër potensiële impak hê op plantsiektes wat kan voorkom.
Kliek op https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Maart%2011_Impak%20v%20bewaringsboerdry.pdf vir die volledige artikel.
Publication: March 2011
Section: Wenartikels