August 2013
DR HENDRIK SMITH, BEWARINGSLANDBOUFASILITEERDER, GRAAN SA
Tydens ‘n besoek aan Australië in 1980 het Hans van Rooyen gesien hoe bewaringslandbou toegepas word en nadat hy besluit het om self ook daardie rigting in te neem, het hy intussen nog nie weer een keer in die afgelope 30 jaar geploeg nie.
Hy het in 1972 (tydens die oliekrisis) so bietjie minimumbewerking gedoen (grond toegehou soos in die natuur) en het toe besef dit kan gedoen word, maar alles moes eers in plek wees, soos byvoorbeeld implemente en onkruiddoders.
Hans is vasberade om bewaringslandbou te maak werk, alhoewel daar ‘n paar faktore teen hulle tel – dié praktyk is onder andere nuut in sy streek en daar bestaan min kennis en inligting daaroor. Hy voel dit is nodig om eers enige grondverdigting op te hef en dan die grondchemie reg te stel volgens die Albrecht-stelsel – dán glo hy sal hy bewaringslandbou suksesvol kan toepas.
Gewasverbouingstelsels
Hans doen tans bewaringslandbou met sojabone omdat dit die maklikste gewas daarvoor is. Sy gevoel is dat gewaskeuses deesdae beperk is as gevolg van markpryse en risiko, terwyl die Clocolan-gebied nie regtig ‘n hoëpotensiaalgebied is nie, met wisselvallige reënval.
‘n Diversifikasie van die stelsel is dus belangrik om risiko te versprei. Hans het altyd wisselbou met permanente gras gedoen (vir weiding om beeste af te rond) en wil daarop verbeter asook meer graangewasse inbring.
Een van die opsies wat Hans wil toets, is om permanente gras-peulgewasmengsels (gebruik dit drie tot vier jaar vir weiding) te wissel met mielies. Hy kan mielies net op hoëpotensiaalgrond produseer en soek nog na die beste opsie vir marginale gronde.
Dekgewasse
Hans voel dekgewasse kan dalk oplossings bied en verskeie doelwitte in sy boerderystelsel bevredig. Die twee vernaamste doelwitte is om gronde te bedek vir beter grondgehalte en beter kwaliteit en om diversiteit in veevoer (staande hooi) te verskaf.
Hy ondersoek tans verskeie gewasse, veral grasse en peulgewasse vir meerjarige wisselstelsels (ley cropping), soos Brachiaria (Brachiaria brizantha), wat veral baie in Brasilië gebruik word en wat byvoorbeeld die grond baie goed kan herstel oor ‘n periode van drie tot vier jaar.
Volgens hom is dit baie duur om stikstofbemesting op permanente graswisselboustelsels (staande hooi) toe te dien en kan lusern (peulgewas) dalk ‘n beter opsie wees, veral as die grondstatus reggestel is.
Verder kan ‘n mengsel tussen gras en peulgewasse dalk die heel beste opsie wees. Vir hom is assegaaiklawer (Trifolium vesiculosum) en armmanslusern (Sericea cuneata) goeie opsies vir die somer, veral in die plek van oulandsgras. Om die gaping (veral vir veevoer) in die winter te vul, oorweeg hy die volgende wintergewasse: Kroonwieke (Coronilla varia), sainfoin (Onobrychis viviaefolia) (het ‘n goeie penwortelstelsel) en geelblommetjie lusern (Lotus corniculatus). Hy wil ook probeer om hierdie gewasse met grasse, soos kropaargras (Dactylis glomerata) en Smutsvinger (Digitaria eriantha) te meng.
Tans eksperimenteer Hans met verskeie dekgewasse en dekgewasmengsels. Hy voel dit is noodsaaklik om te streef na dié twee doelwitte deur ‘n goeie kombinasie en mengsels van eenjarige en meerjarige dekgewasse te gebruik en het ‘n reeks klein demonstrasiepersele naby sy huis waarop hy die geskiktheid van verskeie eenjarige en meerjarige dekgewasse toets (Foto’s 1 tot 7).
‘n Hele reeks van hierdie gewasse word ook op groter strookplotte op sy lande getoets voordat dit finaal in sy stelsels geïntegreer sal word.
Die mees indrukwekkende dekgewasmengsel wat alreeds op 'n redelike groot stuk grond gevestig is, bestaan uit elf gewasse, naamlik:
Hans het hierdie mengsel op van sy marginale gronde gevestig en die opkoms daarvan was uitstekend (Foto 8). Die diversiteit van die dekgewasmengsel behoort 'n baie positiewe impak te maak op die kwaliteit (diversiteit) van die mikro-organismes in die grond, wat 'n belangrike maatstaf is van grondgehalte en volhoubare produktiwiteit. Hy gebruik die Brix-maatstaf om die kwaliteit van sy weidingsgewasse te toets – die suikergehalte en minerale inhoud van die gewasse moet op die regte vlakke wees. Die peulgewasse is veral nodig omdat dit goeie voeding is, dit stikstof in die grond vaslê en die grondgehalte(veral erdwurms) baie bevoordeel. Hierdie stelsel kan oor 'n periode van drie tot vier jaar gebruik word om gronde se produktiwiteit betekenisvol te verhoog.
Hans gebruik ook dieselfde beginsel om sy natuurlike veld te bestuur en te versterk. Hy gebruik 'n tweekampstelsel en rus 50% van die veld vir twaalf maande, terwyl die ander 50% van sy veld "hard" bewei word ('n tipiese hoëdrukstelsel) en die grond "stukkend" getrap word om geleentheid vir nuwe plantegroei te skep. Daar word dan peulgewasse(assegaaiklawer en armmanslusern) ingesaai om die veld te versterk, voordat dit weer vir twaalf maande rus.
Meganisasie
Hans het 'n John Deer 7000-planter gemodifiseer na 'n sewe-ry-geenbewerkingsplanter. Hy gebruik ook 'n Tatu sewe-ry-geenbewerkingsplanter. Hy dink 'n kouterplanter (sonder tand) is die antwoord, want hy wil nie rip tydens planttyd nie; dit gebruik tyd en perdekrag. Hy span wel somtyds 'n vlak tand-implement in om oppervlakverdigting op te hef en 'n skottel-implement om kalk in te werk voordat hy die land omskakel na bewaringsbewerking. Daarna word kalk op die grond oppervlak toegedien.
Toegang tot kennis en inligting
Hans gebruik hoofsaaklik die internet om inligting te verkry. Hy is ook lid van 'n plaaslike studiegroep van twaalf produsente wat belangstel in bewaringslandbou in die Clocolan-distrik. Hy besoek ook graag produsente in ander distrikte by wie hy kan leer.
Tans is daar minder as 5% aanvaarding van bewaringslandbou in die distrik. Die grootste behoefte is toegang tot plaaslike kennis, maar spesifiek ook kennis om grondgehalte op die plaas te ondersoek – produsente moet weet waarna om te kyk.
Kontakbesonderhede
Vir meer inligting, kontak Hans van Rooyen by hans@umpukane.co.za of 072 564 0440.
Publication: August 2013
Section: Input Overview