• Login
  • Search Icon

Holistiese bestuur van interne parasiete by beeste, skape en bokke – 'n moet vir elke plaas

March 2013

image

PROF GARETH BATH EN DR JAN VAN WYK, FAKULTEIT VEEARTSENYKUNDE, UNIVERSITEIT VAN PRETORIA EN DR FAFFA MALAN, VEEARTSKONSULTANT

Tydens die afgelope dekade het die al groter wordende probleem met parasiete se weerstandigheid teen middels, ons gedwing om bestaande strategieë en aannames oor die bestuur van interne parasiete dringend te hersien.

Dit het stilweg gelei tot ‘n drastiese verandering in baie van die oorgeërfde wyshede wat die afgelope eeu die grondslag van ons advies aan produsente was. Dit is belangrik dat veeartse en helmintoloë op die voorpunt van die veranderings bly en hulle steeds koördineer en soos nodig aanpas. Slegs goed geïntegreerde, holistiese beplanning sal op die lange duur sukses behaal en indien die volle arsenaal van ons huidige kennis nie toegepas word nie, sal die resultate selfs rampspoedig wees.

Beginsels vir die bestuur van interne parasiete

Dit is belangrik dat produsente moet besef dat parasiete en die besmetting van vee deur parasiete, bestuur kan en moet word. Produsente moet op die plaas begin om alles binne hul vermoë te doen om dit vir parasiete so ongunstig moontlik te maak.

Vervolgens moet die vee-genetika ook aangewend word om vee te beskerm. Dit is ook belangrik dat die produsent ‘n metode moet kry om die parasietbesmetting mee te meet om sodoende te bepaal wanneer en waarmee die parasiete beheer moet word. Sonder die regte aanwending van die parasietmiddels kan optimale beheer nie verwag word nie.

Skeiding van klasse

Diergroepe, met ander woorde nie-dragtige, dragtige en swaar dragtige diere, vervangingsverse, een tot twee jaar en kalwers, verskil in hul vatbaarheid en verdraagsaamheid vir parasiete. Daarom behoort diere dus in klasse verdeel te word wat apart wei en bestuur kan word. Indien dit nie moontlik is nie, sal die hele kudde volgens die behoeftes van die mees vatbare diere behandel moet word.

Navorsing het getoon dat suip- en pas-gespeende lammers en kalwers en lakterende of dragtige diere die kwesbaarste is. Produsente moet dus meer aandag aan hierdie groepe gee.

Verdeling van weiding

As weiding in kampe verdeel is, kan dit ook help met parasietbestuur. Indien weidings nie in kampe verdeel word nie, sal alle vee, hetsy vatbaar vir of weerstandig teen besmetting, aan dieselfde daging blootgestel word wat tot gevolg kan hê dat diere meer besmet word.

Deur weidingskampe te rus, kan dit help om beter kwaliteit weiding daar te stel, maar in dieselfde asem word die parasiete ook benadeel. Alhoewel die tydperk om weiding effektief te rus na aanleiding van die klimaat, die weer en die wurmspesies wissel, is ‘n rustydperk van minstens drie maande meestal beduidend op parasiete.

Vog bevorder die oorlewing van wurmlarwes en daarom moet baie aandag aan weiding wat baie nat is, soos vleie en langs strome, gegee word. Om hierdie rede moet die weiding strategies aangewend word. Onoordeelkundige gebruik van die weiding sal tot oormatige wurmblootstelling aanleiding gee.

Bykomend tot optimale weidingsbestuur is die doel ook om “veilige” (nie noodwendig parasietvry nie) weidings te skep. Deur die beweging tussen kampe goed te beplan, word diere in ‘n mindere mate aan wurmbesmetting blootgestel en is wurmbestuur minder van die gebruik van wurmmiddels afhanklik.

Proteïenaanvullings

Aangesien diere se weerstand teen en verdraagsaamheid vir wurmlading op voldoende voeding berus en proteïene as die belangrikste voedingstof geïdentifiseer is, kan die impak van parasiete teëgewerk word deur diere beter te voer. Om dit prakties te maak, moet ons egter weet hoeveel, van watter aanvulling en wanneer dit gegee moet word vir watter trop/klas diere asook wat die koste-/voordeelverhouding sou wees.

Afwisseling van gashere

Skape en bokke word deur dieselfde groep wurmsoorte geparasiteer, maar beeste, perde en volstruise is gewoonlik nie vatbaar vir die meerderheid parasiete wat skape en bokke aanval nie. Skape en beeste kan dus gesamentlik as bestuursmiddel aangewend word om wurmlarwes te beheer. Indien beeste voor of onmiddellik ná beweiding deur skape of bokke op die weiding geplaas word, dien hulle as “stofsuiers” wat wurmlarwes van kleinvee verwyder.

Herstel waterlekkasies

Waterlekkasies by drinkplekke, soos krippe en windpompe, bevorder die welige groei van gras. Vee is geneig om hierop saam te drom om hierdie gras te vreet, met die gevolg dat besmette mis hier versamel. Die besmette mis lei weer tot hoër wurmladings en vee word hieraan blootgestel.

Verwyder gras in en onmiddellik om krale

Indien skape/bokke gereeld gekraal word (gewoonlik snags om diefstal en roofdiere te vermy), kan daar ‘n fatale opeenhoping van larwes op die gras plaasvind. Skape veral vreet snags die gras en neem dan ‘n massiewe aantal larwes in. Dit is dus noodsaaklik dat die gras in sulke plekke verwyder word.

Kwarantyn en behandeling

Gekoopte diere bring hul eie parasiete saam wat nog nie op jou plaas is nie. Daarom moet aangekoopte diere nie sondermeer op weiding vrygelaat word nie. Plaas hulle aanvanklik onder kwarantyn in wurmonvriendelike krale (sonder gras, anders met sementvloere), behandel hulle intensief (liefs met ‘n seleksie van middels uit verskeie wurmmiddelgroepe) en plaas hulle daarna op besmette weiding. Laat eiertellings ná ‘n week tot tien dae doen en spreek dringend ‘n veearts indien daar ná hierdie behandeling nog wurmeiers in die mis teenwoordig is.

Genetiese seleksie

Met genetiese seleksie word die diere self gebruik om die effek van parasiete teë te werk. Hiervoor moet die produsent baie waarnemings self doen, maar met ‘n plan kan dit tot die stelsel se voordeel wees.

Selekteer diere om wurms te kan weerstaan

Weerstandigheid van die gasheer teen parasiete is die aangeleerde of verworwe vermoë om besmetting deur parasiete te voorkom of om immuniteit teen herbesmetting te ontwikkel. Dit is oorerflik en daar kan vir hierdie eienskap geselekteer word deur met diere met lae eiertellings te teel en dié met hoë tellings uit te skot. Vir praktiese en ekonomiese redes word hierdie toets hoofsaaklik met ramme of bulle gedoen. Verskeie suksesvolle teelprogramme is al onderneem, maar dit verg goeie bestuur en presiese rekordhouding.

Selekteer vir verdraagsaamheid

Verdraagsaamheid, die vermoë van ‘n dier om sonder buitensporige verlaging in produksie die uitwerking van wurmbesmetting te weerstaan, is oorerflik. Tans word twee beproefde metodes gebruik om aanpasbaarheid in skape te beraam, naamlik die FAMACHA©-sisteem (vir kliniese beoordeling van bloedarmoede aan die hand van ‘n spesiale kleurkaart) en bepaling van die hematokrit, die persentasie rooibloedselle in die bloed (wat spesiale apparaat benodig). Voorlopige toetse toon dat die gebruik van die kondisietelling, waarby die vetbedekking van skape en bokke klinies geklassifiseer word, ook nuttig kan wees.

Metingsisteme

Ten einde te kan bepaal watter stappe gedoen moet word, is dit belangrik dat metingsisteme aangewend word. Daar is verskeie metodes wat aangewend kan word en vir elke situasie is daar ander maatstawwe.

Miseiertelling (MET)
Maandelikse of tweemaandelikse miseiertellings van tien tot 20 diere per kudde of klas kan waardevolle inligting oor die nodigheid en effektiwiteit van dosering op ‘n gegewe tydstip verskaf. Ewe belangrik sal dit daartoe lei dat dosering uitgestel of selfs tydelik afgestel kan word met die gevolg dat die dosering meer effektief sal wees.

Miseiertelling reduksietoets (METRED)
Hierdie toets bepaal die weerstandigheid van die parasiete. Elke produsent behoort sy kudde ten minste elke twee jaar te laat toets om te bepaal of daar weerstand is en teen watter wurmmiddels daar weerstand is.

FAMACHA-evaluering
Die FAMACHA-sisteem is baie waardevol by kleinvee omdat die produsent en sy werkers dit self, sonder die nodigheid van laboratoriumtoetsing, kan toepas. Aangesien die FAMACHA-metode bloedarmoedsvlakke meet, is dit slegs vir bloedsuiende wurmsoorte bruikbaar. Tot dusver is dit alleenlik vir gebruik teen haarwurm deeglik getoets, maar voorlopige aanduidings is dat dit ook vir lewerslakwurmbesmetting aangewend sal kan word.

Kwakkeel, vuil broek en liggaamskondisieevaluering
Hierdie simptome is elk tipies van ‘n bepaalde parasiet. Kwakkele is ‘n aanduiding van ‘n haarwurm, lewerslakwurm of peervormige slakwurmbesmetting. Deur gereelde kondisietellings bykomend tot FAMACHA-evaluerings te doen, kan diere wat hoogsvatbaar vir parasiete is, soos byvoorbeeld bankrotwurm, bruinmaagwurm en knoppieswurm, ook geïdentifiseer, behandel en uitgeskot word. Vuil broek is ‘n teken van diarree en dikwels dus ook van oormatig vatbare diere en moet soos in die geval van FAMACHA en kondisietelling gereeld geëvalueer en aangetaste diere behandel word.

Nadoodse ondersoeke
Dit kan van groot waarde wees om enige vee wat vrek, spesifiek vir inwendige parasiete te laat ondersoek. Beide die betrokke wurmsoorte en die graad van besmetting kan hierdeur vasgestel word.

Gebruik wurmmiddels optimaal

Die wurmmiddels kan net werk as dit reg aangewend word en as die middel oor die vermoë beskik om die parasiete te dood.

Bepaal vir elke plaas die oorheersende interne parasietsoorte

Tensy die voorkoms en belangrikheid van wurmspesies presies bekend is, bly die bestuur van wurms gevaarlik en berus dit op blote raaiwerk.

Gebruik ‘n geskikte wurmmiddel

Slegs nadat parasiete volgens ekonomiese belangrikheid gerangskik en dit bekend is of die parasiet vatbaar vir wurmmiddels is, is dit moontlik om te besluit watter wurmmiddel en formulasie in hierdie omstandighede die beste is. Dit sluit koste en ‘n koste/voordele-analise in. Nóg die goedkoopste, nóg die heel duurste middel is noodwendig die beste keuse.

Vermy oormatige dosering

Die ou benadering om “skoon te doseer” moet totaal laat vaar word, maar nie deur die tempo van ondersoek en dosering van aangetaste diere te verminder nie. In terme van die bestuur van wurms moet die doel wees om slegs wanneer nodig en dan slegs individuele diere, te doseer, sodat die balans tussen parasiet, gasheer en omgewing behoue bly. Oormatige dosering veroorsaak dat slegs weerstandige parasiete oorleef. Noodsaaklike, geteikende dosering moet die nuwe uitgangspunt wees, maar dan moet seker gemaak word dat elke behandeling effektief is.

Behandel selektief

Dit is verkieslik om slegs daardie diere te merk en te behandel wat nie die huidige wurmuitdaging kan hanteer nie. Indien 20% of meer van die diere in ‘n gegewe trop teen die wurms uitsak, is dit raadsaam om liefs almal te behandel. FAMACHA is die ideale sisteem vir haarwurms en soos gestel, blyk kondisietelling volgens voorlopige waarnemings vir die nie-bloedsuiende wurmsoorte bruikbaar te wees.

Behandel almal en bly in dieselfde kamp

Hierdie benadering is ‘n totale afwyking van wat oor die afgelope eeu aanbeveel is. Indien alle vee gedoseer word, behoort hulle ná dosering in dieselfde kamp/weiding aan te bly. Dit sal voorkom dat die vee nuwe weiding met slegs die weerstandige parasiete wat dosering oorleef het, besmet.

Met dosering tydens verskuiwing word die vatbare wurms verwyder en slegs dié wat dosering oorleef het (en dus weerstandig teen die betrokke middels is), se nasate ontwikkel op die nuwe weidings.

Onwetend word daar vir weerstandige parasiete geselekteer. In die meeste gevalle behoort die diere vir minstens twee tot drie weke op dieselfde weiding te bly sodat hulle weer vatbare larwes kan inneem wat dan na die nuwe weiding geneem word.

Moenie langwerkende middels vir hierdie doel gebruik indien die gedoseerde diere binne ‘n maand ná die eindpunt van die nawerking van kamp verskuif word nie. Indien dit nie gedoen word nie, kan die diere nie voor die verskuiwing met vatbare wurms herbesmet raak nie en sodoende word ernstige seleksie vir weerstandige wurms gedoen.

Verskuif eers en behandel later

Die enkel belangrikste aksie in die voorkoming van weerstand is om diere nie tydens verskuiwing te doseer nie. Verkieslik ‘n aansienlike tyd tevore óf slegs daarna, kan vee gedoseer word. In laasgemelde geval word vee eers na die nuwe weiding verskuif en dan word daar met dosering gewag totdat ongeselekteerde wurms hierop gevestig geraak het.

Indien van die diere ten tye van die verskuiwing aan kliniese wurmbesmetting ly, kan diesulkes wel gedoseer word, mits die nie-anemiese diere met rooi slymvliese ongedoseer gelaat word om ongeselekteerde wurms op die nuwe weidings te vestig.

Maak gebruik van kenners

Ingeligte, ervare veeartse wat op hoogte is van die omgewing, boerderysisteme en risiko’s, kan ‘n eenvoudige, praktiese, ekonomiese en effektiewe wurmbestuursplan opstel. Hulle kan indien nodig met helmintoloë konsulteer.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search