• Login
  • Search Icon

Hoeveel “weg”-wedstryde lê nog voor?

February 2019


Jannie de Villiers, HUB

Ons ouer produsente het altyd na die tagtigerjare verwys wanneer hulle oor uitdagende landbou-era’s gepraat het. Dan sou hulle vir die jonger manne sê dat dit wat hulle beleef, niks is teen wat hulle in daardie jare moes deurmaak nie. Maar nou begin selfs hulle anders dink...hulle begin nou ’n ander deuntjie sing. 

Die graanbedryf hou deesdae groot uitdagings in. Dit is jaar na jaar ’n gesukkel en dit is kompleet asof alles en almal teen jou is. Hoe gaan ons hierdeur kom? Dit raak nou selfs erger as dít wat produsente van die tagtigerjare onthou – en ek dink regtig nie daar is fout met daardie manne se geheue nie!

Ek het die afgelope vakansie weer gaan oplees wat die slim mense skryf oor wanneer jy al jou wedstryde “weg” (op die opponente se velde) speel. Niemand moedig jou aan nie, alles is vreemd en dit voel asof almal en alles teen jou is. Omtrent alles om jou is onbekend en die taalgebruik langs die veld is ook nie juis opbouend nie. 

Ek is daarvan oortuig dat ons in landbou op dié stadium al ons wedstryde “weg” speel: Die klimaat is nie gunstig nie, die beleidsomgewing is nie vriendelik nie en die politiek bly negatief – ongeag al ons beste pogings. Ons bankbalanse en emosionele tenks is nie vol genoeg om alles te kan hanteer wat na ons kant toe kom nie. Dit is gewoon net bitter uitdagend.

Wanneer uitdagende scenario’s soos hierdie oor my lessenaar kom, doen ek gewoonlik ’n paar dinge: Ek lees meer Bybel om te kyk wat die mense in sulke tye gedoen het. Mense soos Daniël en Jeremia en ook Sadrag, Mesag en Abednego. Ek bid ook meer. Ek raadpleeg my mentors en die mense wat al meer as een van dié uitdagende tye deurleef het. 

’n Ander ding wat ek doen, is om seker te maak ek neem nie besluite sonder om al die feite sorgvuldig na te gaan nie. Emosies laat ’n mens soms in die steek wanneer dit so benard gaan. Dan sorg ek ook dat ek my verhoudinge met die mense naaste aan my (veral diegene wat my emosioneel ondersteun) verbeter. Ek is veral ook fyn ingestel op ander mense rondom my se behoeftes en emosies. Dit is nie net ek wat swaarkry nie; almal het aanmoediging in sulke tye nodig.

Die graanmarkte het op die klimaat gereageer en pryse vir die seisoen sien sover ietwat beter daar uit, maar daar is maar min lande wat lyk of dit bevredigende opbrengs gaan lewer (veral in die weste). Om al dié tyd van die jaar oeste te skat, bly maar net ’n groot risiko. Sommige lande moet nog geplant word, dan skat hulle al! Gunstige pryse lewer egter nie ’n bydrae as daar nie ’n oes is nie. 

Die een saak waarmee die wetenskaplikes in die kol was, is dat daar ’n besliste middellyn – wat klimaat betref – tussen oos en wes gaan wees. As ons nog daaroor getwyfel het, herinner hierdie seisoen ons weer daaraan. Geen graanprodusent kan meer dieselfde oor die toekoms dink as wat ons tans oor die hede doen nie. Hoe die pad vorentoe daar gaan uitsien, weet ons nie, maar saam sal ons moet bepaal wat die alternatiewe is wat ons kan oorweeg: Hoe ons ons besigheid moet aanpas by dit wat ons tans weet en hoe ons ons moet posisioneer vir die toekoms. 

Graan SA se kernfokus bly steeds om te verseker dat graanprodusente volhoubaar bly. Daarom moet ons saam met julle alles in ons vermoë doen om oplossings te vind om dit te verwesenlik – selfs al speel ons al ons wedstryde “weg”. Dit is juis die spanne wat hulle “weg”-wedstryde ook wen, wat met die wenbeker, op die tuisveld, in die finaal, kan spog. Sterkte!

Publication: February 2019

Section: Features

Search