August 2012
MARTIN STRUTHERS, BEHEERINGENIEURS TEGNIKUS, DEPARTEMENT VAN LANDBOU, LANDELIKE ONTWIKKELING EN GROND ADMINISTRASIE
Bogrondverlies, hoofsaaklik as gevolg van watererosie, is die vinnigste metode om hulpbronne te beskadig. Grondbewaring deur middel van waterafloopbeheerbeplanning word sedert 1946 in Suid-Afrika toegepas. Aanvanklik was die lande klein en kon die lande net deur middel van kontoere beskerm word en sodoende is grondverliese op individuele lande beperk.
Namate die landerye egter uitgebrei het, het probleme met afloopwater ‘n toenemende probleem veroorsaak. Vloedwaters het begin om ernstige skade en probleme teweeg te bring. Buurmanne was ook naderhand vies vir mekaar en twis oor afloopwater het begin voorkom.
Gedurende die sestigerjare het die departement oplossings begin soek om die probleem hok te slaan. Dit het gelei tot ‘n holistiese benadering met waterafloopbeheer, waar plaasgrense nie meer in ag geneem word nie, maar die effek van afloopwater bestuur is.
Beginsels van waterafloopbeheerbeplanning
Waterafloopbeheerbeplanning het as doelwit die beheer en die bestuur van oortollige water (oppervlakte-afloop) uit ‘n bepaalde gebied om gronderosie te beperk sodat lande bewerk kan word.
Kunsmatige maatreëls word beplan en aangewend om by die natuurlike dreineringspatroon aan te pas en sodoende word die oortollige oppervlakte-afloop sinvol uit die gebied verwyder. Produsente moet besef dat die gemeenregtelike beginsels deur waterafloopbeheerbeplanning eerbiedig word.
Die kunsmatige maatreëls moet binne die volgende raamwerk ontwerp en geïmplementeer word:
Die aanvaarde beginsel dat vloedwater nooit op onnatuurlike plekke of in ‘n meer gekonsentreerde vorm iemand se grens kan bereik vanaf ‘n hoërliggende gebied nie.
Die Grondbewaringswet bepaal dat elke grondeienaar verplig is om toe te sien dat sy grond nie aan erosie onderhewig is nie.
Dat die beginsel van natuurlike aanspreeklikheidsaanvaarding ten alle tye eerbiedig sal word.
Doel en toepassing van waterafloopbeheerbeplanning
Die doel van waterafloopbeheerbeplanning is om binne die raamwerk van die natuurlike dreineringspatroon maatreëls daar te stel om grond te kan bewerk met so min as moontlik verlies daarvan en die behoud van die natuurlike ewewig.
Waterafloopbeheerbeplanning help om die volgende te voorkom:
gekonsentreerde afloopwater wat erosie op bewerkte landerye veroorsaak;
afloopwater op intensiewe bewerkte oppervlakte wat grenswaterprobleme tussen bure veroorsaak;
afloopwater wat probleme veroorsaak by die aanlê van paaie en spoorweë;
afloopwater vanaf bestaande paaie en spoorweë wat reeds probleme veroorsaak; en
afloopwater wat versuiping en verbrakking veroorsaak.
Reëls vir waterafloopbeheerbeplanning
Bo en behalwe die beginsels moet die volgende reëls by ‘n waterafloopbeheerbeplanning in ag geneem word:
Natuurlike waterskeidings moet eerbiedig word asook elke afsonderlike opvanggebied.
Natuurlike waterloopgebiede moet eerbiedig word. Sodanige gebiede moet nie bewerk word nie en indien dit bewerk is, moet dit herskep word met ‘n kunsmatige waterbaan.
Waterafloopbeheerbeplanning begin normaalweg op die hoogste plek en eindig helling af tot waar dit ‘n hoër-orde stroomgebied, soos ‘n spruit, vlei of rivier bereik.
Deeglike studie van die grond met sy fisiese eienskappe is nodig, byvoorbeeld versuipagtige en erosie-kwesbare grond, sal die beperking van kontoerlengtes tot gevolg hê, wat moontlik die plasing van meer afleibane sal benodig.
Beplan volgens die beginsels van natuurlike aanspreeklikheidsaanvaarding van waterafloopbeheerbeplanning. Met ander woorde, die topografie moet die beplanning dikteer en nie grense of voor- en afkeure nie.
Waterafloopbeheerbeplanningstrukture
Die volgende strukture vorm deel van waterafloopbeheerbeplanning:
Natuurlike waterlope of veilige ontlaaiplek vir kontoere
Water kan in natuurlike waterlope of natuurlike veld ontlaai word indien dit goed gevestig is met gras en daar nie gevaar is vir erosie in die veld nie.
Kunsmatige afleibaan
‘n Kunsmatige afleibaan word gebruik om meer water te vervoer as wat kontoere kan vervoer en gewoonlik mond kontoere in waterbane uit. Dit word meestal gebou om kontoerlengtes te beperk of waar daar deur die natuurlike loop bewerk is. In die somerreënvalgebiede word daar gebruik gemaak van grasafleibane, maar in die winterreënvalgebiedeen onder besproeiing, word betonbane gebou. Dit is die laaste struktuur in die beplanning, maar wat eerste, voor die ander strukture, gebou moet word.
Stormwatervoor
Die struktuur word aan die bokant van die land geplaas om die afloop na die land weg te voer na ‘n veilige ontlaaiplek, soos ‘n afleibaan of natuurlike veld. Die vorm van die struktuur is dieselfde as kontoere, maar word só ontwerp dat dit die afloopwater van bo af kan hanteer.
Kontoere
Dit is die eerste strukture in die beplanning en word gewoonlik laaste gebou. Kontoere word gespasieer volgens die soort grond, erosiekwesbaarheid van die grond, helling van die land en die reënval in die gebied.
Voordele van ‘n behoorlike waterafloopbeheerbeplanning
Alhoewel daar grond deur kontoerwalle en waterbane opgeneem word, bly dit die moeite werd om hierdie strukture op te rig.
Hier volg ‘n paar voordele:
Minder gronderosie wat ook minder verliese van voedingstowwe beteken.
Die vertraging van afloop, beteken dat meer water in die grond inbeweeg.
Indien die grondprofiel versadig is, sal die kontoere die oortollige water veilig wegvoer.
Vloedwater kan beter hanteer word en minder skade aan die lande veroorsaak.
Dit bring mee dat oesopbrengste verhoog.
Die waterbane kan gesny en gebaal word en sodoende kan dit ’n goeie bron van wintervoer word.
Is waterafloopbeheerbeplanning belang rik by die nuwe bewerkingsmetodes?
Daar word bespiegel dat met die nuwe bewerkingsmetodes, byvoorbeeld minimum- of geenbewerking, kontoere onnodig raak.
Dit kan wees dat die nuwe bewerkingsmetodes ‘n invloed kan hê op die afloop. Kontoere gaan steeds belangrik wees, veral as daar gekyk word na die uitermatige reënvalpatrone wat veroorsaak word deur aardverwarming. Baie van die lande word ook bewei, wat heelwat van die plantmateriaal verwyder.
Wisselbou word op meeste van die lande toegepas en van die gewasse, soos boontjies, het nie baie oesreste wat die gronde kan beskerm nie. Met hierdie ingedagte, sal die waterafloopbeheerbeplanning
steeds belangrik bly.
Navorsing sal gedoen moet word om te bepaal wat die invloed van die nuwe bewerkingsmetodes op die afloop het. Daarna kan daar moontlike aanpassings aan die spasiëring en die maksimum kontoerlengte gedoen word. Onthou egter dat die ontwerpe altyd gedoen word vir die swakste toestand.
Daar word algemeen geglo dat groot, plat lande, soos byvoorbeeld in die Noordwes-Vrystaat, Noordwes Provinsie en gedeeltes van Mpumalanga, te plat is vir behoorlike waterafloopbeheerbeplanning. Inteendeel, hierdie gebiede is net so blootgestel aan versuip en grond-erosie.
Baie van die huidige probleme wat produsente in hierdie gebiede ervaar, sal ook met waterafloop-beheerbeplanning reggestel word. Die huidige diep vore wat rondom lande gegrawe word, werk nie regtig nie en verskuif net die probleem na iemand anders. Produsente in hierdie gebiede word uitgenooi om hul probleme met kundiges te gaan bespreek en sodoende kan die probleem opgelos word.
Indien jy dink dat jou lande ‘n waterafloopbeheerbeplanning nodig het, sal dit raadsaam wees om met jou plaaslike voorligtingskantoor in verbinding te tree om te help met die beplanning. Indien jy nie daar regkom nie, kan Martin Struthers, die beheeringenieurstegnikus op Ermelo, by (017) 819-2076 gekontak word.
Publication: August 2012
Section: Input Overview