• Login
  • Search Icon

Hoekom die etiket van landbouchemiese produkte lees?

September 2014

ELBÉ HUGO en MARLENE VAN DER WALT, LNR-Instituut vir Graangewasse

image

Jaarliks word daar deur beide landbouchemiese maatskappye en produsente baie tyd spandeer aan klagtes rakende chemiese produkte. Hierdie klagtes varieer van swak of geen beheer van onkruide, tot gewasskade in ‘n mindere of meerdere mate.

Die groot vraag, wat nie noodwendig altyd ‘n antwoord het tydens die klagteperiode nie, is wie dan nou aanspreeklik is vir die skade of oneffektiewe beheer van ‘n produk? Meeste van hierdie klagtes kon egter voorkom gewees het as die etiket(te) van die produk(te) gebruik, deeglik gelees en verstaan is.

Die houding van produsente om die lees van die etiket af te skuif na landbouchemiese verteenwoordigers/verspreiders is baie gevaarlik en dit is reeds hier waar die eerste probleem sy kop uitsteek.

Toegegee, produsente se tyd is beperk en aandag word onder verskeie fasette van 'n boerdery verdeel, maar in vandag se ekonomiese klimaat kan ondeurdagte opmerkings, soos “ek het nie tyd om 'n etiket te lees nie,” produsente duur te staan kom.

Wie se verantwoordelikheid is dit dan om die etiket te lees? Die antwoord is eenvoudig: Dit is die persoon s’n wat die landbou-chemikalieë/middel aangekoop het om te gebruik (toe te dien); wat in die meeste gevalle die produsent sal wees.

Die volgende netelige vraag is dus: Waar stop die verantwoordelikheid van die chemiese verteenwoordiger/verspreider en waar begin die verantwoordelikheid van die produsent? Die verantwoordelikheid van ‘n chemiese verteenwoordiger/verspreider is om die regte chemiese produk aan sy kliënt te verskaf vir die doel waarvoor die produsent dit wil gebruik.

Daarom moet produsente seker maak dat hulle by ‘n chemiese verteenwoordiger/verspreider met die nodige kennis van chemiese middels aankope doen. Hoewel rand en sent seker in meeste gevalle die deurslaggewende faktor kan wees by die aankoop van chemiese middels, sal dit produsente baat om by opgeleide (AVCASA geakkrediteerde) verteenwoordigers van landbou-chemikalieë besigheid te doen.

Produsente is ongelukkig uitgelewer aan ‘n landbouchemiese klimaat waar winsbejag 'n groot rol speel by die verkope van produkte. Net so word goeie (betroubare) landbouchemiese verteenwoordigers egter gekonfronteer met wisselvallige kliënte wat ook net rand en sent in gedagte het. Op die lang duur verloor beide die produsent en die landbouchemiese verteenwoordiger wanneer foutiewe of ondeurdagte aanbevelings deur onopgeleide agente aan oningeligte produsente gemaak word.

Die wet bepaal dat elke landbouchemiese produk ‘n produketiket moet hê en dat die persoon wat die landbou-chemikalieë gaan gebruik, vertroud moet wees met die inhoud van die etiket.

Miljoene rande word deur landbouchemiese maatskappye spandeer om ‘n produk uiteindelik geregistreer en op die rak te kry. Inligting vervat in ‘n etiket is met ‘n spesifieke doel nagevors, geëvalueer en in ‘n bepaalde volgorde saamgestel om die effektiewe gebruik van so ‘n produk te waarborg.

Dieselfde beginsels geld vir onkruiddoders, insekdoders en swamdoders. Behalwe vir die ooglopende inligting, soos die maatskappy- en produknaam, die aktiewe bestanddele asook die lot- en registrasienommers op die voorkant van die etiket, word die reëls van effektiewe toediening en voorwaardes vir die gebruik van die produk breedvoerig verduidelik.

Onkruide beheer

Wanneer ‘n produsent byvoorbeeld ‘n onkruiddoder kies, moet hy seker maak dat die spesifieke probleemonkruid(e) in die lys van “Onkruide beheer” vervat is. Wanneer onkruidspesies nie in die betrokke lys getoon word nie, sal geen of wisselvallige beheer verkry word.

Meeste etikette is verkrygbaar op die internet en wel by die spesifieke maatskappye se webtuistes en so kan produsente dus seker maak watter onkruiddoder die beste beheer vir spesifieke onkruide gaan gee. Daar sal ook aan die onderkant van so ‘n tabel “Notas” wees wat die effektiwiteit van beheer sal uitlig en verduidelik.

Só kan wisselvallige beheer van sekere onkruide verwag word, dosisse moet soms verhoog word of mengbaarheid met ander doders vir effektiewe beheer word bespreek. Dit is dus belangrik dat die produsent hierdie notas in ag moet neem by die keuse van ‘n produk.

Gebruiksaanwysings

Die “Gebruiksaanwysings” lig veral punte uit soos onder meer omgewingsfaktore, toediening op spesifieke kultivars, grondtoestande, gewasbeperkinge en wagperiodes. Hierdie tipe inligting lyk op die oog af onbenullig, maar wanneer die produsent nie vertroud is met hierdie punte nie, kan dit aanleiding gee tot oneffektiewe beheer van onkruide of gewasskade.

‘n Volgende baie belangrike afdeling is die “Menginstruksies” van 'n produk. Die formulering van aktiewe bestanddele in ‘n produk is 'n fynuitgewerkte chemiese resep wat uit verskeie chemiese samestellings en verbindings bestaan. Dit is dus onmoontlik dat chemiese produkte net sommer lukraak met mekaar gemeng kan word sonder enige (nadelige) gevolge.

Tenkmengsels moet met die uiterste versigtigheid gedoen word om steeds effektiewe beheer te waarborg. Die goue reël is eenvoudig: Hou by die voorgeskrewe aanbevelings vir tenkmengsels wat op elke produketiket verskyn.

Mengsels

Sommige produsente maak hulle eie mengsels (cocktails) en kan dalk goeie resultate kry in die kort termyn, maar die skade sal in die lang termyn aan sulke produsente se sakke gevoel word. Kortom: Dit is teen die wet om ongeregistreerde tenkmengsels aan te beveel (landbouchemiese verteenwoordiger) en toe te dien (produsent).

Elke plantseisoen word gekenmerk deur ondeurdagte mengsels en aanbevelings wat gewasskade tot gevolg het, of erger nog om by oestyd te wonder hoekom is daar nie die gewenste tonnemaat afgehaal nie. Dit is sulke ondeurdagte (en dikwels ongeërgde) en uiters riskante gebruik van landbou-chemikalieë wat die hele landboubedryf skade berokken.

Menginstruksies

In die “Menginstruksies”-afdeling sal daar ook ‘n spesifieke volgorde aangedui word van watter produk eerste by die tenkwater gevoeg moet word, tot die laaste een. Wanneer hierdie instruksies noukeurig nagevolg word, sal die tenkmengsel effektiewe beheer verskaf.

Produsente en landbouchemiese verteenwoordigers moet egter daarop bedag wees dat nie alle generiese produkte met produkte van internasionale maatskappye gemeng kan word nie, alvorens dit nie so op die etikette van produkte aangedui word nie. Wanneer produsente en landbouchemiese verteenwoordigers af wyk van voorgeskrewe aanbevelings, rus die onus uitsluitlik op hulle en kan geen maatskappy verantwoordelik gehou word nie. Hierdie aspekte van die vermenging van produkte kan nie genoeg beklemtoon word nie.

‘n Ernstige beroep word op beide landbouchemiese verteenwoordigers en produsente gedoen om nie te verval in die (onwettige) gebruik van ongeregistreerde mengsels nie. Die effek wat sulke mengsels op grondorganismes, opvolggewasse en die omgewing in geheel het, sal miskien nie in die kort termyn sigbaar wees nie, maar eers wanneer dit te laat is.

Toedieningsinligting

Die afdeling “Toedieningsinligting” bevat inligting rakende die spuittoerusting, watervolume, tyd van toediening, dosisaanbevelings en ander belangrike inligting rakende spesifieke gewasse. Hierdie afdeling is die hart van ‘n etiket en produsente en landbouchemiese verteenwoordigers moet hierdie voorgeskrewe inligting noukeurig deurwerk en verstaan.

Spesifieke inligting, soos byvoorbeeld die kleipersentasie van grond en die groeistadiums van onkruidspesies, is uiters belangrik en kan die effektiewe beheer van ‘n produk beïnvloed. Oor- en/of onderdosering van ‘n produk kan nie net tot oneffektiewe beheer van onkruide en/of gewasskade lei nie, maar kan ook ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot die opbou van weerstandige onkruidpopulasies.

image

Weerstandswaarskuwing

Op meeste etikette verskyn daar dan ook ‘n afdeling “Weerstandswaarskuwing” wat 'n aanduiding gee van die groepkode van die produk en moontlike bevestiging van weerstandige onkruidspesies asook die bestuur daarvan.

Onkruiddoders is in groepe (groepkode) ingedeel na gelang van die meganisme van werking van elke aktiewe bestanddeel. So byvoorbeeld is s-metolachlor in groep K3 en glifosaat in groep G. Om die opbou van weerstandige onkruide te beperk, moet die produkte in verskillende groepe met mekaar afgewissel word, om sodoende die herhaalde gebruik van een groep onkruiddoders te beperk.

Die ontwikkeling van onkruiddoderverdraagsame gewasse en spesifieke tegnologie en toerusting (van selfaangedrewe spuite tot Venturispuitkoppe) wat die toediening van gif net al hoe meer vergemaklik, is beskikbaar vir produsente.

Al hierdie tegnologie en toerusting help egter niks wanneer aanbevelings van landbouchemiese produkte en die toediening daarvan, deur landbouchemiese verteenwoordigers en produsente misbruik word. Dit is altyd raadsaam om ‘n skriftelike aanbeveling van 'n landbouchemiese verteenwoordiger te eis om sodoende enige misverstande uit die weg te ruim. Sodra die prop van landbouchemiese produk(te) op 'n plaas oopgedraai word om die hele bespuitingsproses te begin, is dit die verantwoordelikheid van die produsent om toe te sien dat hierdie produk(te) korrek geskud, gemeng en toegedien word.

Daarom is dit uiters noodsaaklik vir die produsent om vertroud te wees met die inligting verskaf in die produketiket, want hoe anders gaan die produsent weet wat is die korrekte toediening en vermenging van die produk(te)?

In meeste klagtes wat aanhangig gemaak word, is dit nie die produk wat foutief of oneffektief was nie, maar die toediening en/of vermenging daarvan (meestal buite-registrasie bespuitings). Dit is dus die verantwoordelikheid van die produsent om toe te sien dat landbouchemiese produkte korrek toegedien word.

Meeste landbouchemiese maatskappye probeer om wel chemiese houers deeglik en uitsonderlik te merk om verwarring te voorkom, maar wees as produsent ook bedag daarop om hierdie houers ooglopend of spesifiek te merk tydens die mengproses. Vir beide die produsent en die landbouchemiese verteenwoordiger is die lees en verstaan van 'n produketiket dus ewe belangrik – en kan die verantwoordelikheid nie verplaas word nie.

Die reëls is daarom eenvoudig – alle inligting is beskikbaar vir beide die produsent en die landbouchemiese verteenwoordiger om ingeligte besluite te neem volgens voorgeskrewe riglyne en wetgewing. Moenie die wet oortree nie en hou jou besigheid en boerderypraktyke eerlik – dit sal tot voordeel strek vir beide partye sowel as die landbouchemiese bedryf in geheel.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search