January 2018
Beste Grootneef
Die ander dag hoor ek die hoogste burger van die Goudstad murmureer oor lamppale wat weg is. Net so in die vergetelheid weg – asof die paal nooit sy staan op die sypaadjie gekry het nie.
Ou Neef, maar hoe op aarde steel jy ‘n lamppaal en wat maak jy met die ding? Jy kan dit tog nie in jou broeksak sit en wegloop nie. Jy sal lyk soos ‘n vuurvlieg op steroids. Dis ook nie net vir vat en laai op ‘n bakkie nie – die bakkie sal lyk en voel soos ‘n oorgewig slak op Kerkplein.
Die enigste ander verklaring vir die verlore lamppaal, is dat my korporaal van ouds opgedaag het vir bondel sports. Dit was sy manier as hy gedink het daar is te min aksie – om die troepe en ‘n teerpaal vir sports op ‘n bondel te jaag, op en af teen Potch se artilleriekoppe. Maar waarskynlik is die korporaal nou ook oud en gedaan en nie meer lus vir teerpale en troepe nie. ‘n Peloton met ‘n lamppaal op die rug sou ook ‘n verkeersknoop van hier tot by Tant Koek se hoenderhaan veroorsaak het.
Die enigste ander manier om ‘n lamppaal te steel, is om die paal soos ‘n brood in snye op te saag. Maar so ‘n gesaag sou selfs vir Lazarus uit die dood opgewek het. Probeer soos jy wil, om ‘n lamppaal op te saag, is nie iets wat jy suutjies kan doen nie.
Ou Neef, die groot vraag is egter, as jy al die moeite gedoen het om ‘n lamppaal te steel, wat maak jy met die ding? Dit sal tog in geen voorkamer pas nie, al is jy hóé kitch. As buitelig in die agterplaas by die braai, sal dit ook nie deug nie – bure praat mos.
Die groot vraag bly dus, hoe steel 'n mens ‘n lamppaal? Dalk is die antwoord verskuil in hoe ‘n ystervark kleintjies kry. Die antwoord is: Baie versigtig. Ou Neef, dalk het die lamppaal ‘n gelukkige einde gevind by iemand wat nog altyd ‘n lamppaal wou hê om sy liggie te laat skyn. Met die skrywe hiervan was die paal nog soek.
Ou Neef, die Kaapse waterpenarie moet nie onderskat word nie. Water kan nie in ‘n fabriek aanmekaargeslaan word nie. Dis genade uit die hemel of grondwater onder uit die aarde uit. Jy kan dit dalk skoonmaak of ontsout, maar jy kan nie water uit niks optower nie. Sonder water word die wêreld ‘n Namib, ‘n Sahara of ‘n Gobi.
Die inwoners van Windhoek spog lankal dat hul die skoonste water in die wêreld het – teen die tyd dat jy daarvan kry, is dit al deur sewe pare niere. Dis waarskynlik die lot wat op almal in die Suidland wag, want daar is eenvoudig nie genoeg water om dit net weg te spoel nie. Die alternatief is om jaarliks ‘n paar ysberge in Antarktika te gaan vang en aan te sleep Kaapstad toe. Water in die Kaap sal nooit weer dieselfde wees nie. Dis eers as iets weg is, dat jy dit van waarde ag. Vir die kinders in die noorde: Moenie in die water speel nie, die ou mense wil dit drink.
Ou Neef, voorspoed vir 2018 in die vreemde, vreemde land waarin ons woon.
Publication: January 2018
Section: Features