• Login
  • Search Icon

Hoe lyk die markte vir grondbone en kanola?

February 2017

image

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA

Wanneer daar van oliesade gepraat word, is sojabone en sonneblomme gewoonlik die eerste gewasse waaraan ‘n mens dink. Hierdie twee gewasse is die twee “grootste” oliesade in terme van produksie en verwerking in Suid-Afrika en regverdig dus hierdie persepsie.

Ander oliesade wat in Suid-Afrika verbou word, is grondbone en kanola. Hierdie oliesade speel ‘n kleiner rol in die totale konteks en is nie so alombekend soos die ander twee nie, maar dit speel tog ‘n belangrike rol – veral in die spesifieke streke waar dit verbou word. Dit dien ook vir vele produsente as goeie alternatiewe gewasse om vir diversifisering en risikobestuur aan te wend.

Inligting oor hierdie gewasse is nie so algemeen beskikbaar soos dié van ander kommoditeite nie en daarom word die internasionale en plaaslike markomgewing kortliks in hierdie artikel bespreek.

Grondbone
Internasionale perspektief
Internasionaal word die grondboonproduksie in die nuutste wêreldvraag- en-aanbodsyfers op 29,78 miljoen ton geskat. Dit is 2 miljoen meer as die 27,78 miljoen ton produksie van die 2015/2016-seisoen.

Wêreldproduksie is hoër ten spyte van die laer-aangepaste Amerikaanse produksievooruitsigte (wat nou slegs op 1,93 miljoen ton geskat word); gemeet teen die vorige skatting van 2,12 miljoen ton.

Goeie produksie word onder andere in China verwag. Hulle pro duksie word op 12 miljoen ton geskat (11,6 miljoen ton in 2015/2016) en Indië se produksie vir die 2016/2017-seisoen word op 4,65 miljoen ton geskat, teenoor die 3,20 miljoen ton van die 2015/ 2016-seisoen.

Die internasionale syfer vir die pers van grondbone vir die 2016/2017-seisoen word op 10,140 miljoen ton geskat, terwyl die internasionale uitvoere op 2,589 miljoen ton geskat word. Die pers van 10,140 miljoen ton grondbone is aansienlik hoër as die 8,971 miljoen ton grondbone wat in die 2015/2016-seisoen gepers is.

Plaaslik
Plaaslik was die 2016/2017-bemarkingseisoen oor die algemeen vir meeste van die gewasse in die somersaaigebiede ‘n uiters uitdagende jaar met die enorme droogte wat oor groot gedeeltes van die land geheers het.

Net só het grondboonproduksie in Suid-Afrika ook swaar gebuk gegaan onder hierdie strawwe toestande en was die geskatte grond boonproduksie van slegs 18 850 ton, volgens die NOK se finale produksieskatting vir 2016/2017-bemarkingseisoen, die kleinste produksie wat Suid-Afrika nóg opgelewer het. Die produksie is verkry op ‘n aangeplante area van 22 600 ha – wat op ‘n gemiddelde opbrengs van 0,83 t/ha uitwerk.

Grafiek 1 toon die plaaslike produksie, asook totale vraag en aanbod, van grondbone vanaf die 2005/2006-bemarkingsjaar tot en met die 2016/2017-bemarkingsjaar. Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die produksie sowel as verbruik redelik siklies is.

‘n Beduidende daling in produksie kan duidelik in die 2016/2017- bemarkingsjaar waargeneem word. Suid-Afrika is in die huidige seisoen heelwat meer afhanklik van invoere ten einde aan die plaaslike vraag te voldoen.

Die nuwe seisoen-vooruitsigte lyk egter beter as dié van die vorige seisoen. Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se eerste opsomming van produsente se voorneme om te plant vir somergewasse (soos uitgereik middel Oktober verlede jaar) word die totale area wat vir grondbone geallokeer word vir die komende seisoen op 33 500 ha geskat.

Dit is ‘n 48,2% verhoging in aantal hektare vanaf die vorige seisoen se 22 600 ha wat met grondbone beplant is. Tans lyk die produksietoestande van die grondbone wat reeds aangeplant is, gunstig met goeie reën wat oor groot gedeeltes van die land se somersaaigebiede geval het.

Grondbone se gemiddelde opbrengs oor die afgelope tien jaar in Suid-Afrika is 1,35 t/ha. Indien gemiddelde opbrengste in die komende seisoen realiseer, kan dit moontlik ‘n grondboonproduksie van 45 225 ton tot gevolg hê – wat weer ‘n aansienlike beter oes as in die vorige seisoen sal wees.

Daar is egter steeds ‘n legio faktore wat ‘n rol gaan speel by die ontwikkeling van die grondboonoes, waarvan opvolgreën die bepalende een sal wees vir die grondboonproduserende streke.

Die eerste produksieskatting van somergrane vir die komende seisoen word op 28 Februarie vanjaar vrygestel. Daaruit sal ‘n beter afleiding gemaak kan word rakende die produksieverwagting vir die seisoen.

Kanola
Internasionale perspektief
Uit ‘n internasionale perspektief lyk die Australiese kanolaproduksie vir die seisoen beter is as wat aanvanklik verwag is. Die Australiese kanolaproduksieskatting vir die seisoen word op 4,1 miljoen ton geskat – wat 1,16 miljoen ton hoër as verlede jaar se produksie is.

Die verhoogde produksie in Australië kan heel moontlik tot gevolg hê dat die Australiese uitvoere ‘n vier jaar hoogtepunt van 3,1 miljoen ton vir die periode Oktober 2016 tot en met November 2017 sal bereik. Die uitvoere vanuit Australië het alreeds in November 2016 begin toeneem – met die meeste verskepings na die Europese Unie, China en ander lande in Asië.

Die verwerking en uitvoere van kanola vanuit Kanada het ‘n rekord van ‘n geskatte 8,2 miljoen ton vanaf Augustus tot Desember verlede jaar bereik. Dit is hoër as die 7,3 miljoen ton gedurende dieselfde tydperk in 2015. Dit verteenwoordig 3,9 miljoen ton geperste kanola en 4,3 miljoen ton uitvoere.

Uitvoere van Kanadese kanola na die Europese Unie is laer as wat die verwagting vir hierdie tyd van die seisoen is, maar hoër uitvoere na Pakistan, die Verenigde Arabiese Emirate, Mexiko en ander bestemmings is wel vanuit Kanada aangeteken.

Daar word verwag dat die totale uitvoere vanuit Kanada vanaf Augustus 2016 tot en met Julie 2017 ongeveer 10 miljoen ton behoort te bereik, of dit selfs kan oorskry.

Plaaslik
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se vyfde produksieskatting vir wintergrane word die Suid-Afrikaanse kanolaproduksie vir die seisoen op 108 860 ton geskat. Dit is laer as die vorige skatting van 112 260 ton, maar steeds ongeveer 17% meer as die 93 000 ton van die vorige seisoen.

Die aantal hektare aangeplant in die huidige seisoen is 68 075 ha – wat minder is as die vorige seisoen se 78 050 ha (Grafiek 2). Die produksie is dus hoër as die vorige seisoen en die hoër opbrengste is hoofsaaklik te danke aan die gunstige weersomstandighede wat die grootste gedeelte van die groeiseisoen oor die kanolaproduserende streke van die Wes-Kaap geheers het.

Opsommend
Risiko’s is ‘n integrale deel van besigheid in die hedendaagse landbousektor. Dit is belangrik dat produsente die verskeie risiko’s wat daar in die mark is identifiseer en sodoende hul beplanning aanpas om die risiko’s sover moontlik te beperk.

Die beperking van risiko’s kan op ‘n verskeidenheid maniere gedoen word; daarom is dit belangrik vir produsente om vas te stel wat die beste opsie vir hulle en hul omge wings is. Diversifikasie is ‘n manier waarop produsente hul risiko’s kan bestuur. Dit is daarom belangrik dat produsente verskillende gewasse oorweeg en die beskikbare inligting analiseer.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.

Publication: February 2017

Section: On farm level

Search