• Login
  • Search Icon

Hoe beskryf verbruikers rooivleis van goeie gehalte en kwaliteit?

October 2015

HESTER VERMEULEN, Buro vir Voedsel- en Landboubeleid

Die rooivleishandel sal ‘n balans moet vind tussen die verpligting wat daar op hulle rus om die verbruiker (en hulself) te beskerm en die verskaffing van inligting aan die verbruiker wat hom of haar kan help om ingeligte produkkeuses te maak.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) was betrokke by navorsing wat gedoen is oor die verbruiker se perspektief oor rooivleis asook die regulatoriese veranderinge in rooivleisetikettering.

In dié projek wat deur Rooivleis Navorsing en Ontwikkeling SA gefinansier is, is die Suid-Afrikaanse rooivleisverbruiker se optrede en persepsies ondersoek. ‘n Tweede ondersoek het gefokus op die manier waarop die produk se eienskappe aan verbruikers gekommunikeer word by wyse van inligting op etikette wat op vars vleisprodukte voorkom. Die wetlike vereistes is ook ondersoek.

Suid-Afrika se bevolking word volgens hul lewenstandaarde in drie LSM-groepe verdeel. LSM 1 tot 4 verteenwoordig die laeinkomsteverbruikers, LSM 5 tot 7 verteenwoordig die middelklas of opkomende verbruikers, terwyl LSM 8 tot 10 die hoër-inkomsteverbruikers verteenwoordig.

Altesaam 22% van die bevolking is deel van LSM 1 tot 4, sowat 53% is deel van LSM 5 tot 7, terwyl 25% deel is van LSM 8 tot 10.

LSM 1 tot 4 bestaan hoofsaaklik uit mense in die landelike gemeenskappe, maar tog is daar ook ‘n groot persentasie in die stedelike gebiede. Die werkloosheidsyfer in dié segment is so hoog soos 45% en mense spandeer tot soveel as 50% van hul inkomste aan kos. Die gemiddelde maandelikse inkomste is tussen R1 909 en R3 785 per maand per huishouding.

LSM 5 tot 7 verwys na ‘n groep mense wat toenemend besig is om te verstedelik. Hulle bestee ongeveer 25% tot 35% van hul maandelikse inkomste aan kos. Hierdie maandelikse inkomste word gemiddeld op tussen R4 550 en R12 325 per huishouding per maand bereken. Die werkloosheidsyfer in dié segment is tussen 24% en 38%.

LSM 8 tot 10 bestaan hoofsaaklik uit mense wat in die stedelike gebiede woonagtig is. Verbruikers in dié groep bestee ongeveer 10% tot 20% van hul inkomste aan kos. Hul maandelikse inkomste is R16 573 en meer per maand. Daar kom nie noemenswaardige werkloosheid in dié sektor voor nie.

Die hoë, middel en lae LSM-groepe is in drie afsonderlike ondersoeke geteiken. ‘n Professionele maatskappy het die opnames behartig, wat onder meer bestaan het uit ‘n vraelys en persoonlike onderhoude, waarna die data ingesamel en geanaliseer is.

In ‘n ope vraag het die lae-inkomstegroep aangedui dat hulle die volgende aspekte in volgorde van belangrikheid met rooivleis van ‘n goeie gehalte vereenselwig: Varsheid, ‘n rooi kleur, skoon vleis, voorkoms, gradering en prys; met voedingswaarde, raklewe, reuk, sagtheid en smaak as die mees onbelangrike faktore.

Die middel-inkomstegroep vereenselwig die kleur van die vleis die meeste met goeie gehalte, gevolg deur varsheid, voorkoms, skoon vleis, gradering en die reuk van die vleis.

Die hoë-inkomstegroep kyk ook eerste na die kleur van die produk, daarna na varsheid, ‘n lae vetinhoud, ‘n goeie reuk, skoon vleis, gradering, sagtheid, voorkoms, ‘n goeie snit en smaak as hulle besluit of dit ‘n rooivleisproduk van goeie gehalte is.

Die twee aspekte waaroor die lae-inkomstegroep die meeste bekommerd is as dit by rooivleis kom, is gesondheid en prys, terwyl kookperiode, raklewe, kwaliteit en vetinhoud minder prominente aspekte is.

Verbruikers in die middel-inkomstegroep is die meeste bekommerd oor die bekostigbaarheid van rooivleis en tweedens oor die gesondheid van rooivleis. Vetinhoud kry ‘n derde plek, gevolg deur kookperiode, kwaliteit en raklewe.

In die hoë-inkomstegroep is verbruikers die meeste bekommerd oor die bekostigbaarheid van rooivleis, gevolg deur vetinhoud. Gesondheidsaspekte is in die derde plek, gevolg deur kooktyd en raklewe.

Tog het 100% van die respondente aangedui dat hulle beesvleis eet, terwyl 90% van die respondente aangedui het dat hulle lamsvleis of skaapvleis eet, ondanks die faktore wat hulle bekommer. Dit kan verklaar word deur die feit dat daar betekenisvolle positiewe persepsies oor rooivleis bestaan.

Verbruikers in die middel-inkomstegroep het die volgende positiewe aspekte oor beesvleis geïdentifiseer: Voorbereiding (veelsydigheid, bekend, maklik om voor te berei en lekker om te braai), smaak, sagtheid, gewild om aan gaste voor te sit en voedingswaarde.

In die hoë-inkomstegroep hou verbruikers van beesvleis omdat hulle weet hoe om dit voor te berei, dit is maklik om te bekom, geurig, veelsydig, ideaal vir onthaal van gaste, maklik om voor te berei, hoog in voedingswaarde, lekker om te braai en dit word oor die algemeen nie ingevoer nie.

Verbruikers in die middel-inkomstegroep voel positief oor skaap- en lamsvleis omdat dit lekker, veelsydig en sag is. Die meeste voel hulle weet hoe om dit voor te berei, dit is ideaal vir die onthaal van gaste, maklik om te kook, hoog in voedingswaarde, ‘n goeie bron van proteïen, dit bevat yster en dit word plaaslik geproduseer.

In die hoë-inkomstegroep het die betrokke respondente die volg ende positiewe aspekte van skaap- en lamsvleis uitgewys: Hulle weet hoe om dit voor te berei; dit is ‘n proteïenbron van hoë gehalte; dit is veelsydig; smaaklik, maklik bekombaar; hoog in voedingswaarde; lekker om mee te onthaal; ideaal vir ‘n braai; maklik om voor te berei; en dit help die liggaam om te groei.

Die aspekte wat die belangrikste vir verbruikers is wanneer hulle ‘n besluit oor die aankoop van beide bees- en skaapvleis neem, het hoofsaaklik oor veiligheid, voorkoms, prys en eetkwaliteit gegaan.

Vir die lae- en middel-inkomstegroep is die prys van beide bees- en skaapvleis baie belangrik, terwyl die middel- en hoë-inkomstegroep meer fokus op die vervaldatum van bees- en skaapvleis.

Die ondersoek na vleisveiligheid het getoon dat dit nie ‘n prominente spontane bekommernis onder rooivleisverbruikers is nie, hoewel dit ‘n groot rol in die verbruiker se aankoopoorwegings speel. ‘n Sterk verbintenis is gevind tussen rooivleiskwaliteit en rooivleisveiligheid.

Rooivleiskwaliteit word vereenselwig met kleur, varsheid, lae vetinhoud, reuk, of die vleis skoon is, gradering, sagtheid, voorkoms, die tipe snit en smaak. Rooivleisveiligheid word vereenselwig met faktore soos varsheid, kleur, gesondheid van vleis, reuk, gradering, dat dit mense nie siek maak nie, algemene kwaliteit, verpakking, die geloofwaardigheid van die handelaar en voorkoms van die produk.

Rooivleisklassifikasiestelsel

In die ondersoek met betrekking tot die rooivleisklassifikasiestelsel was dit duidelik dat die verbruikers in die lae-inkomstegroepe ‘n baie beperkte begrip van vleisklassifisering het en bitter min aandag daaraan gee. Die middel- en hoë-inkomsteklasverbruikers het ook ‘n beperkte begrip van die klassifikasiestelsel. Minder as die helfte van dié verbruikers ondersoek hulle vleis vir die klassifikasiemerk.

Die middel-inkomstegroep assosieer die rooivleisklassifikasiestelsel met die volgende:

  • Dit is ‘n aanduiding van die gehaltestandaard
  • Dit is ‘n aanduiding van die beste kwaliteit
  • Graad A is die beste kwaliteit
  • Eerste graad is die beste kwaliteit
  • Hoër grade is duurder
  • Klassifikasie word aangedui deur die vleisgradestempel

Die hoë-inkomstegroep assosieer die rooivleisklassifikasiestelsel met die volgende:

  • Dit het iets te doen met die vet wat aan die vleis voorkom
  • Gradering word in verskillende kleure gedoen
  • Dit het iets met die dier se ouderdom te doen
  • Produksertifikasie
  • Daar is A- en B-grade
  • Daar is ‘n groen of ‘n pers stempel
  • Eerste grade is die beste
  • A - AB verwys na die dier se ouderdom
  • 0 - 6 verwys na vetklassifikasie
  • Dit is gebaseer op vetinhoud en kwaliteit
  • Hoër grade is duurder
  • Daar is ‘n stempel op die vleis
  • In die etikette wat deur vleishandelaars op die produk aangebring word, word daar baie min aandag aan klassifikasie gegee.

Etikettering

In die ondersoek na die etikettering van vars rooivleis is daar gevind dat die grootste gedeelte van rooivleis wat by die betrokke handelaars wat aan die ondersoek deelgeneem het van die hand gesit word, “generies” bemark word. Die prys, spesifieke snit en datum van verpakking, is oor die algemeen al wat op die etikette aangebring word.

By die handelaars wat aan die studie deelgeneem het, het die volgende inligting op die etikette verskyn:

  • Produk se prys (prys per kg, prys per pakkie, gewig van produk) (100%)
  • Handelsmerk: Die winkel se handelsmerk (100%)
  • Verpakkingsdatum (92%)
  • Klassifikasie: Lam- of skaapvleis (43%)
  • Bygevoegde geurmiddels (30%)
  • Handelsmerk: Unieke handelsmerk (32%)
  • Datum waarteen produk verkoop moet wees (32%)
  • Sagtheid (22%)
  • Waarborg van gehalte (22%)
  • Land van oorsprong (16%)
  • Vervaldatum (14%)
  • Gaarmaakvoorstelle (14%)
  • Byvoegings (14%)
  • Aanduiding van vetgehalte (11%)
  • Resep of voorbereidingsinstruksies (11%)
  • Geurigheid (8%)
  • Aanduiding of produk verouderd is (8%)

Regulerende omgewing

Die regulerende omgewing raak al meer ingewikkeld. Tans word die etikettering van vars rooivleis deur drie stelle wetgewing beheer:

  • Regulasie 146/2010 oor die etikettering en advertering van voedselsoorte, wat deur die Departement van Gesondheid toegepas word.
  • Regulasie 863 ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde, wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye toegepas word.
  • Die Verbruikersbeskermingswet wat deur die Departement van Handel en Nywerheid toegepas word. Dit behels onder meer dat die verbruiker geregtig is op inligting oor ‘n spesifieke produk in eenvoudige en verstaanbare taal. Die verbruiker is ook geregtig op eerlike etikettering en bemarking en moet duidelik gewaarsku word teen bestanddele wat allergieë kan veroorsaak.

Soos vroeër in die artikel genoem, fokus Suid-Afrikaanse verbruikers veral op veiligheid, voorkoms, prys en eetkwaliteit as hulle rooivleis koop. Die belangrikheid van prys is gewoonlik groter soos inkomste daal.

Verder is dit belangrik om in ag te neem dat “eetkwaliteit” ‘n baie omvattende term is wat aspekte soos smaak, aroma en die sagtheid van die vleis insluit. Moontlik as gevolg van gebrekkige kennis van die rooivleisklassifikasiestelsel speel klassifikasie-inligting nie op hierdie stadium ‘n groot rol in verbruikers se besluitneming nie.

Dit is van kritieke belang dat verkopers van rooivleis, etiketinligting verskaf wat betroubaar is en ook die behoeftes van die verbruiker aanspreek.

Publication: October 2015

Section: Focus on

Search