September 2016
JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO
Wanneer interaksie tussen mense stormagtig en hetig word, is dit verstaanbaar as jy deurmekaar raak met waarop dit nou eintlik aankom.
Graan SA was die afgelope tyd, onder andere, betrokke by sake om die staat te dwing om sy verantwoordelikheid na te kom. Die Minister van Handel en Nywerheid het ‘n klompie jare gelede ‘n tariefbeleid vir koring goedgekeur en nou wil/kan hulle dit nie self uitvoer nie.
Ons advokaat noem so in die verbygaan dat dit nou redelik praktyk is om die staat uit die howe te bestuur...hoe is dit moontlik dat ons as land so verval het? Die beredenerings en aannames is só vals dat ‘n mens sommer gou feite met fiksie verwar. Die aanloop tot die verkiesing en die resultate daarna het beslis ‘n rol gespeel in die hoeveelheid adrenalien in elke beleidmaker se kop. Dit lyk vir my dít is waar die probleme inkom.
As elkeen net sy verantwoordelikheid nagekom het en op meriete aan gestel is/was, behoort niemand in hierdie dae paniekerig te geraak het nie. Daar is, veral binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, ‘n reël: “Om nie te verstaan nie, is nie ‘n verskoning nie.” Met die koringtarief se aanpassing geld dit tog immers ook? Dit was ‘n droogtejaar – noord en suid. Tog is daar weinig tot geen hulp van die staat na produsente te bespeur nie, maar die meulenaars word wel gehelp! Hoe is dit moontlik?
Die verlaging in die internasionale prys vir koring het die koringtarief opwaarts laat skiet, maar die staat versuim om aanpassings vir Suid-Afrika te maak. Die koring word dus goedkoper, brood duurder en die meulenaars se beursies dikker. Volgens ons berekeninge het die vorige rondte op R133 miljoen voordeel vir die maalbedryf beloop en die bestaande berekeninge dui alreeds op ‘n addisionele R185 miljoen. (Hoe verlang ek dan nou na die ou dae!)
Die staat voer aan dat die rede waarom hy voete sleep, daarin geleë is om die verbruikers te bevoordeel, maar intussen bly die broodprys opgaan! Graan SA moes hom ten einde laaste tot die howe wend met die hoop dat daar íémand is wat sal verstaan wat nou eintlik hier aan die gang is. Iemand het die situasie nogal raak opgesom toe hy onlangs so droogweg opgemerk het: “Om kundigheid oor ‘n saak te hê, beteken tans nie meer noodwendig dat jy ook ‘n sê daaroor het nie. Mag het alles geword!”
Ek wil afsluit met ‘n opmerking oor ‘n kort sinnetjie wat ek onlangs in ‘n scenario-uitleg oor grondhervorming in Suid-Afrika gelees het: Een faktor wat ‘n groot invloed op ons toekoms gaan hê, is die agteruitgang van Suid-Afrika se institusionele kapasiteit.
Prof Michael Porter van Harvard Business School in die VSA noem in sy boek oor die mededingendheid van nasies dat een van die belangrikste faktore geleë is in die sterkte van jou instellings. Landbou was gelukkig nog altyd goed georganiseerd en kan hom op goeie institusionele kapasiteit roem.
Graan SA is deesdae druk besig met die evaluering dáárvan en om die nodige aanpassings – waar nodig – te maak sodat dit deel vorm van ons volhoubaarheidstrategie. As ons akademiese of navorsingsinstellings nie meer kan bydra tot ons mededingendheid nie, móét ‘n ander plan gemaak word. Volhoubaarheid sluit immers die hele ketting in – van die plaas tot op die verbruiker se bord.
Publication: September 2016
Section: Features