April 2014
Ou Neef, wanneer laas was jy by ‘n veiling? Dis mos ‘n ander soort opwinding (baie beter as Blou Bul rugby). Eintlik werk dit eenvoudig – as die afslaer lostrek, hou jy bloot jou hand in die lug tot die ding joune is, of so maak ou Blink Stefaans as ‘n buurplaas in die mark kom. Van die jong boertjies wou die dag van die veiling by hom weet of hy beplan om eendag die hele Vrystaat op te koop. Ewe bedees antwoord hy toe dat hy net grond koop as dit aan hom grens...Die uiteinde kán dus wees dat hy naderhand oor die walle van die Vaal uitbrei.
Hoe dit ook al sy, ‘n veilingdag is ‘n jollie dag. Of dit nou vee, wild, ou implemente of grond is, daar is afwagting in die lug. Dit begin gewoonlik met ‘n pamflet in die posbus of ‘n advertensie in die geel bladsye van die weekblad. Sommer gou word daaroor gesels op die koöperasiestoep of ná kerk in die ouderlingsbank.
‘n Veiling het, soos ‘n magneet, sy eie aantrekkingskrag. As die tyding eers uit is, kom die mense van heinde en ver. Wanneer jy aanstap vir die registrasieproses en jy sien bakkies met vreemde nommerplate, dan weet jy sommer, vandag is die vet in die vuur!
So tien minute of wat voor die veiling, begin almal aanstryk na die ring of die lokaal waar die afslaer en sy helpers wag. Die sieldodende deel is om deur die voorwaardes te luister. Die meeste manne sit en lees dan die katalogus, of maak ‘n praatjie om die tyd om te kry. En dan slaan die vendusieklok en almal is wakker.
‘n Afslaer is ‘n ander soort van dierasie. Hy kan ‘n groep kopers vinniger opsweep as ‘n lekeprediker ‘n gemeente op die Kaapse Parade.
As hy eers sien daar is aptyt met manne wat koppe knik en bie, gee hy sulke spronge in honderde dat eenduisend gou drie- en vierduisend raak. En dis nou waar die kuns kom, om betyds in- of uit te klim as dit begin warm raak om jou. Daar is nie ‘n beter gevoel as wanneer ‘n bod op jou toegeslaan word vir die prys wat jy daarvoor wóú betaal het nie. Eweneens is dit goor om ná die tyd te staan en kopkrap of jy nie dalk ‘n kat in die sak gekoop het, wat boonop nog te dik vir ‘n daalder was nie. Dit gebeur in die beste van families!
As die hamer egter geval het, is dit “finish en klaar” met die lot. Dis soos tandepasta uit die buis uit, jy kan dit nie terugdruk nie. Maak maar jou sommetjies mooi vir die kommissie en transport wat nog moet bykom...
‘n Goeie afslaer het ‘n skerp oog vir ‘n koper. Baie keer sit ‘n koper doodstil en wag dat die juniors mekaar moeg jaag met ‘n prys, om dan teen die einde as almal dink dis oor en verby, in te kom met ‘n bod. Dis súlke kopers wat die afslaer se oog trek met ‘n hand wat effe roer of ‘n kop wat knik. As ‘n afslaer eers sulke manne raaksien, kan jy hoor hoe sit hy sy stem in diff lock om die prys verder aan te praat! Almal se sakke is egter nie ewe diep nie en as die afslaer sien die laaste lot is gewerp en bieërs begin oogkontak vermy, is dit tyd om die bod toe te slaan.
By die laaste veiling waar ek en Buurman was, kon ‘n koper en die boer mekaar net nie vind nie. Een van die manne skree toe, “laat loop die goed ou Piet, dis wêreldsgoed!”. Die kortaf antwoord was, “jou agterent is ook wêreldsgoed...”. Nodeloos om te sê, die kraal beeste is terug Soetvlei toe...
By een plaasveiling het die manne wild en wakker gebie. Tussen die jollifikasie het ek ‘n man eenkant en kop onderstebo sien staan. Hy het van lot tot lot saamgestap. Die goed was maar so in klompies en in kraaltjies onder die bloekomlaning ingepas. Eers die losgoed en toe die vee.
Later het ek verneem dit was die baas van die plaas. En ook die laaste keer dat hy op sy plaas gekom het, want dié middag is sy hart en siel met elke vrag by die hek uitgery...En was die grond waarop hy gestaan het eintlik lankal reeds die Land Bank s’n.
Groete op die Oosgrens
Kleinneef
Publication: April 2014
Section: E-mails