• Login
  • Search Icon

Hersiene Kanola Produksiehandleiding

February 2014

- alles wat kanolaprodusente behoort te weet
 

PROF ANDRÉ AGENBAG, UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH

Die hersiene uitgawe van die Kanola Produksiehandleiding, wat pas bekend gestel is, volg sewe jaar nadat die eerste uitgawe die lig gesien het. Gedurende die afgelope sewe jaar het etlike veranderinge en ontwikkelings in die kanolabedryf plaasgevind wat kanola ‘n kontantgewas in eie reg gemaak het.

Die Raad van die Proteïennavorsingstigting (PNS) het onder meer besluit om vanaf 2010 etlike miljoene rande beskikbaar te stel vir navorsing en tegnologie-oordrag met die klem op die generiese bemarking van kanola, met die mikpunt om teen 2015 ‘n tonnemaat van 75 000 ton en 50 000 hektaar te produseer.

Hierdie insette van die PNS het beslis ‘n merkbare verskil gemaak en die vonk verskaf wat die kanolabedryf nodig gehad het om die volgende fase van ontwikkeling binne te gaan. Die beoogde tonnemaat vir 2015 is reeds in 2012 verbygesteek met ‘n totale opbrengs van meer as 79 000 ton en hierdie groei is in 2013 voortgesit om meer as 110 000 ton op sowat
75 000 hektaar te produseer.

image Voortdurende navorsing en skakeling met buitelandse instansies en kundiges het groter diepte in die kanolakundigheid tot gevolg gehad, maar het ook leemtes uitgewys in die eerste uitgawe van die Kanola Produksiehandleiding. Dit het aanleiding gegee tot hierdie hersiene uitgawe wat onder leiding van prof André Agenbag deur ‘n span kundiges in die kanolabedryf saamgestel is.

Hierdie hersiene uitgawe bevat onder meer ‘n nuwe hoofstuk oor die ekonomie van kanola, terwyl die hoofstuk oor die oes van kanola, herskryf is om die nuutste inligting in te sluit oor tegnieke om oesverliese te bekamp – sekerlik een van die grootste hoofpyne van die kanolabedryf.

Die morfologie en fisiologie asook die groei en ontwikkeling van die kanolaplant is volledig bygewerk en so ook inligting oor die optimale gebruik van chemiese middels vir die beheer van onkruide, insekte, plae en siektes in kanola. Groter klem word ook gelê op die gesondheidswaardes van kanola vir die verbruiker.

Deur die finansiering van hierdie hersiene Kanola Produksie handleiding wat alle aspekte van kanolaverbouing dek, bevestig die PNS sy volgehoue steun aan die kanolabedryf en vertrou dat almal wat hierdie besondere naslaanwerk gebruik, dit uiters nuttig sal vind en dat dit sal meehelp tot die verdere vestiging en verstewiging van die kanolabedryf in Suid-Afrika. Kopieë van hierdie publikasie is beskikbaar by die PNS-kantoor in Rivonia by 011 803 2579 asook by prof André Agenbag in Stellenbosch by 021 808 4803.

Publication: February 2014

Section: Other Articles

Search