September 2018
“Biomimic” – die nabootsing van die natuur deur geenbewerking, dekgewasse en vee-integrasie. Dít is hoe mnr Izak Dreyer, ‘n produsent van Vrede in die Vrystaat wat al tien jaar bewaringslandbou toepas, die toer wat hy verlede jaar na Noord-Amerika meegemaak het, opsom.
Hy het oorsigtelik die kennis wat hy opgedoen het by produsente wat daar bewaringslandbou toepas, tydens die bewaringslandboukonferensie van die Ottosdal No-till Klub op 13 Maart vanjaar gedeel.
“Ons het verlede jaar in Augustus die voorreg gehad om bewaringslandbouprodusente in Noord-Amerika te gaan besoek. Die groep het bestaan uit twaalf produsente wat van Bismarck in Noord-Dakota tot by Kansas City in die suide – ongeveer 2 500 km in totaal – gereis het. Die grootste gedeelte van daardie area was bedek met mielielande. Die reënval by Noord-Dakota is ongeveer 460 mm/jaar, wat nie so hoog is nie en waarvan ongeveer ‘n kwart in die winter in die vorm van sneeu is, waarna dit toeneem na ongeveer 800 mm en ‘n bietjie minder by Kansas City.”
Hy het gesê dat die toer hulle oë oopgemaak het om sake anders te benader. Volgens hom is vog nie die grootste beperkende faktor in Suid-Afrika nie, maar wel grondorganiese materiaal om die vog doeltreffend aan te wend.
Grondorganiese materiaalinhoud is koning
“Ons het een dag by mnr Gabe Brown in Noord-Dakota deurgebring. Hy het vir ons ‘n ontleding van sy grond vergeleke met dié van sy bure, gegee – sien Tabel 1. Die bure wie se data gebruik is, is ‘n organiese produsent, ‘n geenbewerkingsprodusent met ‘n lae diversiteit van gewasse (byvoorbeeld mielie > sojaboonwisselboustelsel) en ook ‘n no-till-produsent (medium diversiteit, aansienlik chemikalieë, wat beteken kunsmis en onkruid- en plaagdoders).
Brown se eie benadering is geenbewerking, hoë diversiteit, geen chemikalieë en ‘n groot aantal lewende hawe (beeste, skape, varke, hoenders en bye).
“Op die vergelyking is sy stikstof (N) bykans sewe keer hoër as sy bure s’n, sy fosfaat (P) is omtrent vyf keer meer en sy kalium en organiese koolstof (OK) is albei oor ‘n duisend – wat beteken sy grondorganiese materiaalinhoud is by die 10%. In Suid-Afrika is ons grondorganiese materiaalinhoud ongeveer 1%,” vertel Dreyer.
Dieretuin onder ons voete
Hoe kry hy dit reg om hierdie “dieretuin onder ons voete” aan die gang te kry? Toe hy in 1993 met die herstel van sy grond begin het, was die organiese koolstofinhoud van die grond ook maar ongeveer 1%. Hy het weggespring met geenbewerking, waarna die koolstofinhoud so ‘n bietjie verbeter het. Nadat hy wisselbou ingespan het, het dit matig nog verbeter. Na monokultuurdekgewasse het dit nie regtig verbeter nie en met multispesie-dekgewasse het dit redelik begin toeneem.
Dit was egter eers nadat hy lewende hawe ingebring het, wat hy werklik goeie resultate bereik het. In 2013 was sy organiese koolstofinhoud op 6% en toe Dreyer-hulle verlede jaar die VSA besoek het, was dit op 10% (Foto 1).
“Tydens die besoek – dit was in Augustus, wat die ekwivalent van ons Februariemaand is – het hy vir die seisoen tot ‘n week voor ons besoek 50 mm reën gehad. Twee dae voor ons daar was, is nog 20 mm aangeteken. Sy dekgewasse het op daardie stadium besonder goed gelyk – sien Foto 1. Sy lewendehawe-integrasie sien soos volg daaruit: Beeste onder ultrahoëdrukbeweiding, dan skape, dan varke en uiteindelik hoenders wat hy in hoenderhuise met sonpaneeldeure huisves soos in Foto 2 gesien kan word. Die deurtjie gaan in die aand toe en in die oggend oop. Daarvandaan kry hy gesonde hoendereiers. Dan het hy boonop byekorwe en ook ‘n groentetuin.”
Wat maak hy met die voedsel wat hy produseer?
Omdat hy gesonde voedsel (waarop geen chemikalieë gebruik word nie) vir ‘n groeiende mark wat spesifiek daarom vra, produseer, is die bemarking daarvan via hul webtuiste (wat sy seun bestuur) na die inwoners van die stad Bismarck, wat naby hulle geleë is, geen uitdaging nie.
Twee maal ‘n week haal die tuisteskeppers hul produkte op spesifieke punte, waar sy seun dit aflewer, af. Volgens Brown doen hy per hektaar (in geldwaarde) 20 keer beter as sy bure.
“Dit is interessant dat Amerikaanse konsultante hul kliënte adviseer om hul plase kleiner te maak, omdat hulle nie groot plase doeltreffend kan bestuur nie.”
Navorsingsplase
In Amerika is daar per distrik, of ‘n paar distrikte, ‘n navorsingsplaas waarvan die produsente op die direksie dien en waar hul kundiges het wat navorsing doen.
“Op een van die plase was ons by ‘n navorser, mnr Dwayne Beck, van die navorsingsplaas Dakota Lakes Research Farm. Daar het ons erdwurms gesien – wat hulle nightcrawlers noem – wat so ‘n groot gat maak dat jy jou pinkie daar kan indruk. Op ‘n land waar dit die vorige week gehael het, het van die erdwurms van die mielieblare in hul gate ingetrek. Só benut die Amerikaners die natuur om hul infiltrasietempo maksimaal te benut.” Op Foto 3 kan ‘n mens sien hoe die struktuur van daardie grond lyk.
“Die struktuur van die grond was deur die bank die hooftema by elke plaas waar ons aangedoen het. Niemand is daar bekommerd oor gronddiepte nie; almal konsentreer op grondstruktuur.” Die grondstruktuur wat hulle nastreef, lyk soos dié op Foto 3.
Beck het vir 27 jaar lank met sojabone en mielies in ‘n 50/50-wisselbouproef geëksperimenteer. Na 27 jaar het hy besluit om dit te staak, want hulle het gevind dat te veel stikstof in grond die grond kliphard maak, aangesien dit die organiese materiaal te vinnig afbreek.
“Ons wat in die ooste van Suid-Afrika boer, is almal op hierdie stelsel, so dit was veral vir ons insiggewend,” het Dreyer gesê.
“In Beck se proefdata wat hy beskikbaar gestel het, het sojaboonopbrengs na ‘n monokultuurdekgewas met 500 kg/ha verhoog en in ‘n diverse dekgewasmengsel is sojaboonopbrengs met 1 t/ha verhoog. Die Amerikaners stroop oor die algemeen ongeveer 3 t/ha tot 4 t/ha.”
Sinergisme van dekgewasse bewys
Op Menoken, nog een van die navorsingsplase, is in ‘n proef in ‘n droë jaar vier verskillende monokultuurdekgewasse geplant en in die vyfde proef is al die gewasse gemeng. Uiteindelik was die droëmateriaalproduksie op die gemengde proef vier keer dié van die monokultuurdekgewasse.
Die sinergisme van dekgewasse (tussen verskillende spesies plante) word op dié manier uitstekend bewys. Dieselfde produsent pas ook hoëdrukbeweiding op sy dekgewasse toe. Hulle het nie genoeg werkers nie, daarom gebruik hy ‘n motorfiets om draad te span – plant penne in, rol draad af en koppel elektriese drade – om vir die beeste kampe te maak.
Insekbestuur
“By mnr Scott Gonnerman (York, Nebraska) het ons gesien hoe ‘n mens sonder om enige insekdoders te gebruik of deur BT-mielies te plant, insekte tot jou voordeel kan bestuur. Hy het kontak met entomoloë en ‘n laboratorium, so as hy ‘n plaag teëkom, neem hy foto’s van die plaag en die insekte wat dit veroorsaak en stuur dit vir die entomoloë. Volgens hom kom die boodskap dan 95% van die kere terug dat die insekte op sy foto predatore is en dat hy hul net so drie dae kans moet gee, dan sal die insekte mekaar self uitsorteer.
“Rondom die lande is bestuiwers geplant en hulle beplan ook die gras en bome daar rondom met die oog daarop om die insekte te kan bestuur.”
Dit was interessant dat sy spilpunte onbenut gestaan het – omdat hy nie nodig gehad het om te besproei nie, as gevolg van die verbetering in grondgehalte en waterhouvermoë.
Op een spesifieke land van Gonnerman (Foto 4) het sy pa gesê dat hy in sy lewe nooit ‘n oes daarop sou maak nie. Op die foto kan ‘n mens sien hoe lyk die sojabone wat hy daar geplant het na die regte bewaringslandboupraktyke.
Die antwoord lê in grondgesondheid
By Blue Dasher Farms naby Esteline, Suid-Dakota, is ‘n proef gedoen om ‘n vergelyking te tref tussen die impak van konvensionele boerdery en bewaringslandbou op biodiversiteit – veral insekte.
Op Foto 5 is studente besig om ‘n insekinventaris op te stel en daarmee saam doen hulle ook ‘n kostewinsvergelyking op konvensionele en bewaringslandbou. Hulle het bevind dat bewaringslandbou tien keer minder plae as konvensionele boerdery het – sien Grafiek 1.
Hulle het voorts gevind dat bewaringslandbou ‘n effe laer opbrengs het, maar sodra dit kom by winsgewendheid, dit dubbeld die wins van konvensionele boerdery genereer.
Die enigste verband wat hulle kon trek om die wins te verklaar, was grondgesondheid. Hulle het ook bepaal dat hoe hoër jou persentasie organiese materiaalinhoud (POM), hoe hoër jou wins en hoe laer jou gronddigtheid (hoe meer organiese materiaal jy in jou grond het – GOM), hoe hoër jou wins – sien Grafiek 2. Dit is die enigste korrelasie wat hulle in die navorsing kon vind.
Sojabone floreer met insekte en grondlewe
“‘n Algemene praktyk wat ons waargeneem het, is dat die produsente direk na koring ‘n dekgewas (mengsel met rog as hoofbestanddeel) plant. Hulle plant ook sojabone binne-in ‘n groen dekgewas en spuit of rol dan die dekgewas later dood.
“Só het mnr Chris Teachout van Shenandoah, Iowa, se sojabone vertoon – sien Foto 6. Mnr Lourens van Eeden (op die foto met sy rug na die kamera) is ‘n Kapenaar, wat heeltemal meegevoer geraak het met die insekte en die grondlewe in die land. Kyk ook hoe droog is daardie grond – hierdie produsent het vier weke gelede reën gehad en kyk hoe mooi is daardie sojabone,” het Dreyer opgemerk.
Boots natuur na
“In die VSA (waar ons was) word ultra-hoëdrukbeweiding oor die algemeen deurgaans toegepas by almal wat lewende hawe inbring. Al ons ervarings op hierdie toer het net weer bevestig: Gaan kyk wat die natuur doen en probeer om dit na te doen.”
Publication: September 2018
Section: On farm level