February 2017
NEELS WEGNER, produkspesialis: Gauteng, PPECB
Wat is die werklike verskil tussen standaardgradering en wanneer grondboongradering opgedeel word in keur 1 en keur 2 asook pers 1 en pers 2?
As vertrekpunt is dit nodig om uit te lig dat die gradering van produsentegrondbone nie gereguleer word nie en daarom word daar vir etlike jare al graderings gedoen volgens ‘n graderingsriglyn wat deur die bedryf aanvaar was. Hierdie graderingsriglyn is tot dusver met groot sukses aangewend om die waarde van produsentegrondbone (hetsy in gedopte of ongedopte vorm) te bepaal, maar soos met alles is dit soms nodig om te vernuwe.
Die vraag wat met reg gevra kan word, is: Wat is die rede vir die voorgestelde wysigings aan hierdie graderingsriglyn?
Die rede hiervoor is bloot dat daar ‘n behoefte bestaan om die gradering verder te verfyn om die produsent sodoende direk te vergoed vir die kwaliteit van sy grondbone – hetsy goeie kwaliteit of slegte kwaliteit.
Daar is twee fasette wat geraak word met die wysiging, naamlik die opdeel van keurgraad in twee grade en die opdeel van persgraad in twee grade.
Die opdeel van grade het ten doel om ‘n prysverskil in te bou en sodoende die produsent wat ‘n beter kwaliteit lewer, dienooreenkomstig te vergoed.
Keurgraad
Die standaardgradering verwys na keurgraad as ‘n enkele begrip en sluit in alle groottes eetmark-grondbone wat tydens die sifaksie bo-op die 6,75 mm-gleufsif agterbly. (Met eetmarkgrondbone word bedoel alle grondbone wat oorbly nadat defekte pitte verwyder is.) Grondbone wat tydens die sifaksie deur die 6,75 mm-gleufsif val, is te klein en daar kan nie daarna as keurgraad verwys word nie.
Die nuwe riglyn wat voorgehou word (keur 1 en keur 2), veronderstel ‘n opdeling van die keurgraadpitte. Daar word tydens die sifproses nog ‘n sif tot die rak van siwwe bygevoeg. Die groter addisionele sif, naamlik die 7,50 mm-gleufsif word bo-op die 6,75 mmgleufsif gebruik om sodoende die keurgraad te verdeel in kleiner keurgraadpitte (die pitte wat bo-op die 6,75 mm-gleufsif agterbly) en groter keurgraadpitte (die pitte wat bo-op die 7,50 mm-gleufsif agterbly).
Die motivering vir hierdie skeiding van keurgraadpitte is om ʼn prysverskil tussen die groter pitte (hoër prys) en kleiner pitte (laer prys) daar te stel.
In wese word die beginsels van die vorige standaardgradering steeds dieselfde toegepas.
Persgraad
Die standaardgradering verwys na persgraad as ‘n enkele begrip en sluit die volgende pitte in by die bepaling van die persgraadpersentasie:
Bogemelde pitte sou dan gesamentlik geweeg word, ‘n persentasie bepaal word en die produsent sal daarvolgens vergoed word teen ʼn persgraadprys.
Die nuwe riglyn wat voorgehou word as pers 1 en pers 2, veronderstel egter ‘n opdeling van die persgraadpitte.
Daarvolgens word tydens die graderingsproses ‘n onderskeid getref tussen eetbare persgondbone en oliepersgrondbone, deurdat gebruik gemaak word van ‘n addisionele 5,15 mm-gleufsif wat tydens die sifproses bo-op die pan ingesluit word.
Die motivering vir hierdie skeiding van persgraadpitte is om sodoende die persgraad te verdeel in eetbare persgondbone (met hoër prys) en oliepersgrondbone (met laer prys).
Eetbare persgrondbone sal bestaan uit die somtotaal van:
Oliepersgrondbone sal bestaan uit die somtotaal van:
In wese word die beginsels van die vorige standaardgradering steeds dieselfde toegepas in die nuwe formaat, maar met twee verskille: Die produsent met ‘n beter kwaliteit produk sal beter vergoeding ontvang vir keur 1- en pers 1-grade, soos duidelik weerspieël word in Tabel 1.
Publication: February 2017
Section: Focus on