February 2015
FRANS MINNAAR, voorsitter: Grondbone Spesialiswerkgroep, Graan SA
In die westelike dele van die graanproduserende streke, speel grondbone ‘n belangrike rol as alternatiewe gewas en hou dit wisselbouvoordele vir produsente in. Alhoewel die totale gemiddelde grondboonoes maar sowat 0,6% van die totale mielie-oes is, was ‘n ton grondbone vanjaar tot vyf keer meer werd as ‘n ton mielies.
Nog ‘n belangrike rol wat grondbone speel, is die groot vermenigvuldigingseffek in die informele markte waar straatsmouse ‘n bestaan uit grondbone maak.
Met verlede jaar se Graan SA Kongres is besluit dat grane gedifferensieerde heffings moet betaal wat rofweg 0,1% van die randwaarde per ton op daardie stadium was. Die heffing vir grondbone is R13/ton.
Gewasse kompeteer onderling met mekaar vir hektare as dit by aanplantings kom. In die Noordwes Provinsie is sojabone op oorlêlande; en in die Wes-Vrystaat is mielies in hoëprysjare die belangrikste kompetisie vir grondbone. Sojabone begin ook ‘n rol in die Wes-Vrystaat speel. Nietemin is daar nog baie boerderye waar grondbone elke jaar effektief verbou word ook as gevolg van die voordele vir wisselbou en grondboonhooi vir veevertakkinge.
Graan SA se rol
Hoe verteenwoordig Graan SA sy lede? Wat is die omvang van Graan SA se invloed? Dit is aansienlik: Met 16 interne werkgroepe en komitees waarvan sewe na die verskillende bedrywe se belange omsien.
Graan SA het sitting op die vyf graantrusts, vier graanforums en vier graan tegniese en advies komitees. Op die vlak van georganiseerde landbou, het Graan SA sitting op Agri SA se algemene raad en Bedryfskamer en nog sewe ander komitees.
Verder is daar afgevaardigdes na al tien provinsiale landbou-unies en TLU SA se kongresse. Graan SA het ook sitting op agt Landbounavorsingsraadkomitees, twee Departement van Landbou komitees, sewe kwaliteitstandaarde komitees en sewe ander komitees en direksies.
Vir grondbone het Graan SA ‘n Spesialiswerkgroep en verteenwoordiging op die Grondbone Forum asook op die Oliesade Advieskomitee en die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust. Dit illustreer hoe wyd die invloedsfeer van Graan SA strek.
Die Grondbone Spesialiswerkgroep
‘n Spesialiswerkgroep se taak is om alle inset-, produksie- en markverwante aspekte van die betrokke kommoditeit te hanteer. Dit word via verkose en gekoöpteerde Graan SA-lede gedoen. Verder sluit dit ook die identifisering en evaluering van navorsingsbehoeftes in, die verantwoordelikheid om toe te sien dat die navorsing uitgevoer word asook die monitering en vordering van die spesifieke navorsing.
Graan SA is by uitstek ‘n produsente-organisasie. Dit is egter ook so dat sommige van ons lede ook grondboonverwerkers is en dat verwerkers ‘n belangrike rol in die bedryf speel. Produksie van gesertifiseerde saad is ingewikkeld.
Verwerkers speel ‘n belangrike rol hier en hou só die bedryf aan die gang. Die Grondbone Spesialiswerkgroep het homself ten doel gestel om altyd eerste die produsent en dan die res van die bedryf se belange te bevorder.
Missie en visie van Graan SA se Grondbone Spesialiswerkgroep
Missie
Die bevordering van die primêre grondboonbedryf deur produksie, markte, mededinging in 'n vryemarkomgewing, die sake- en beleidsomgewing, navorsing en meganisasie aan te spreek tot voordeel van al Graan SA se lede asook die grondboonbedryf.
Visie
‘n Vooruitstrewende primêre grondboonbedryf met stabiele produksie in 'n vryemarkomgewing waar veilige, hoëkwaliteit voedsel tot ekonomiese voordeel van opkomende en kommersiële produsente geproduseer word ten bate van voedselsekerheid en werkskepping.
Strategiese doelwitte
Produksie
In terme van produksie, het Graan SA ‘n Bewaringslandbouwerkgroep waar verminderde bewerkingspraktyke ondersoek word. Daar is ook van die werkgroeplede wat alreeds hiermee eksperimenteer. ‘n Uitdaging hier is hoofsaaklik winderosie nadat grondbone uitgehaal is en dit kan moontlik deur dekgewas aanplantings aangespreek word.
Markbevordering
Vir binnelandse markbevordering moet daar veral gekyk word na die mededingendheid van grondbone as ‘n proteïenbron. As gevolg van twee jare van ondergemiddelde produksie, het grondboonpryse baie gestyg en sodoende hoë pryse behaal wat weer ‘n kopersweerstand laat ontwikkel het. Konstante verskaffing van hoëgehalte voorraad teen bekostigbare pryse sal hierdie probleem help aanspreek.
Selfs in oorsese markte het ons swak oeste die voorafgaande twee jaar veroorsaak dat kopers ander lande van oorsprong geïdentifiseer het vir aankope. Alhoewel die VSA, Brasilië en Argentinië nie dieselfde kwaliteit as Suid-Afrika produseer nie, het Japannese en Europese markte nou gewoond geraak aan hulle tipe produk en bederf geraak deur hul laer pryse.
Japan en Europa is dus huiwerig om tradisionele premies te betaal en reken dat die Suid Afrikaanse produk te duur is. ‘n Rotterdam-handelaar by Aldebaran Kommoditeite, mnr Paul van Velzen, reken dat daar ook net kleiner grade soos 70/80, 60/70 en 50/60 uit Suid-Afrika beskikbaar is en dat Suid-Afrikaanse grondbone buite perke hoog geprys is.
Suid-Afrika was tradisioneel gesien as ‘n Spaanse-tipe produserende land en die smaak en pitvorm het ‘n rol gespeel. Moet ons hierin lees dat buitelandse markte groter pitte soek en ook ander tipes sal aanvaar?
Interessant is dat Runner- en Valencia-tipe grondbone in die VSA 'n pryspremie bo Spaanse tipes het. Grondboonprodusente ontvang internasionaal maar tussen 0 en 0 per ton peule gelewer, in vergelyking met Suid-Afrikaanse produsente se tussen 0 en 0 die afgelope seisoen.
Binnelands het ons ‘n groot potensiële mark, maar opbrengs per hektaar sal moet toeneem sodat grondbone meer bekostigbaar raak en dat produsente steeds insentief het om grondbone aan te plant. Daar sal hard gewerk moet word aan buitelandse markte om ons reputasie terug te wen en dit moet as ‘n nismark behou word. Verder moet daar ondersoek ingestel word na nie-tradisionele uitvoermarkte wie se vereistes dalk nie so streng is nie. Graan SA se personeel het opdrag om elke moontlike nuwe graanuitvoerland te ondersoek vir grondboonuitvoere.
Goeie landboupraktyke
Voedselveiligheid speel ‘n al hoe groter rol en die implementering van goeie landboupraktyke op plaasvlak is nie meer onderhandelbaar nie. Die Grondbone Spesialiswerkgroep het die Bederfbare Produkte Uitvoerbeheerraad (PPECB) ook versoek om kursusse by verwerkers aan te bied om produsente op te lei in goeie landbou praktyke sodat hulle daaraan kan voldoen.
Opkomende landbouprodusente
Grondbone kan ook baie sinvol as ‘n peulgewasrotasiestelsel by opkomende landbouprodusente aangewend word vanweë stikstofoordraging en wisselbouvoordele. Graan SA het ‘n graan produsentontwikkelingsprogram onder leiding van me Jane McPherson wat opleiding en leiding aan hierdie produsente verskaf en groot sukses behaal.
Die Grondbone Spesialiswerkgroep het die samewerking van twee verwerkers om te help met grondboonproduksie onder opkomende produsente. Verder poog ons om loodsprojekte aan die gang te kry vir die 2015/2016-produksieseisoen. Tans bly finansiering die grootste probleem, want kommersiële banke en selfs die Land Bank sien opkomende landbou as té riskant.
Sake-omgewing en beleidvorming
Graan SA het verteenwoordiging op die Grondbone Forum en kry dus die geleentheid om insette te lewer wat die sake-omgewing en beleidvorming deur staatsdepartemente, soos die PPECB en die Departemente van Landbou en Gesondheid kan beïnvloed.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is die saamstel van goeie landboupraktyke op plaasvlak waar Graan SA insette gelewer het. Deur produsente se belange hier te beskerm, verseker ons dat produksie volhoubaar en sonder onnodige regulasies en wette kan voortgaan.
Navorsing
Die grootste, huidige enkele uitdaging vir die grondboonbedryf in terme van navorsing, is sekerlik die identifisering of teel van kultivars wat aan nodige kwaliteitstandaarde voldoen en verhoogde opbrengste lewer.
‘n Belangrike beperking hier is die kort groeiseisoen en die hoogte bo seevlak. Laasgenoemde veroorsaak dat nagtemperature koeler is as op seevlak en as gevolg hiervan het sommige oorsese kultivars plaaslik sowat 20 tot 30 dae langer groeityd nodig om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.
Graan SA ondersteun ook die LNR in hul pogings om befondsing te kry vir ‘n nasionale kultivarteelprogram en sal behulpsaam wees met die daarstel van wetenskaplik gefundeerde teeldoelwitte.
Een van die mees onderskatte probleme in grondboonproduksie, is die Afrika peulaalwurm wat eie aan Suid-Afrika is en groot kwaliteit-, sowel as opbrengsverliese veroorsaak. Die Grondbone Spesialiswerkgroep sal ook ander belangrike navorsing identifiseer en tot uitvoer bring soos nodig.
Kultivarevaluering
Soos genoem, werk die Grondbone Spesialiswerkgroep nou saam met die LNR om weer 'n nasionale kultivarevalueringsprogram aan die gang te kry. Ons ondersteun verder ook OPOT se ELITE-kultivarprogram, waar oorsese lyne ingevoer en geëvalueer word deur die LNR.
Ons is ook bereid om enige ander instansie te ondersteun met die inbring en toets van buitelandse kultivars met dien voorwaarde dat dit vir die hele bedryf beskikbaar gestel word. Sulke programme moet ook binne die wette en regulasies van die plantverbeteringswet gedoen word sodat bioveiligheid nie in gedrang kom nie.
Meganisasie van veral die droogproses
Verhoogde meganisasie, veral van die droogproses, is onvermydelik om die bedryf weer volhoubaar te kry. Goedkoper metodes van droging moet veral ondersoek en geïmplementeer word. Gradering van grondbone teen hoër vogpersentasies en die bepaling van vreemde materiaal verskil van die ou riglyne. Die Grondbone Spesialis Werk groep het die PPECB versoek om nuwe riglyne oor gradering en droging saam te stel sodat produsente meer ingelig kan wees.
Grondboonproduksiebevordering
Graan SA bevorder die produksie van grondbone deur aan verwerkers hulp te verleen op hulle boeredae met die verskaffing van personeel om markinligting oor te dra. Sodanige verwerkers moet as invorderingsagente geregistreer wees en vroegtydig reël vir beplande boeredae. Dit is verder ook onderhewig aan personeelbeskikbaarheid en dat Graan SA 'n billike spreekbeurt sal kry op die boeredae. Verder sorg die organisasie ook dat relevante artikels in die SA Graan/Grain-tydskrif gepubliseer word sodat die produksie van grondbone daardeur bevorder kan word.
Ten slotte
Goeie landboupraktyke is van kardinale belang veral ten opsigte van aflatoksienvoorkoming. Nakoming hiervan sal vir ons markte in die buiteland verseker.
Kultivars wat verhoogde opbrengste lewer en peulaalwurmweerstandbiedend is, moet gevind of geteel word. In die proses moet gehoor gegee word aan bioveiligheid, want roekelose handeling hiermee het die potensiaal om die hele bedryf te vernietig. Verhoogde meganisasie is onafwendbaar en grondbone moet oor die regte redes verbou word en nie net om uit die mieliekoste-knyptang te ontsnap nie.
Daar is baie werk te doen in die primêre grondboonbedryf. Ongelukkig is die bedryf baie ingewikkeld en klein en kan besluite op plaasvlak en andersom ook die res van die bedryf beïnvloed.
Dit is egter ook waarin die uitdaging is. Hierdie werk word deur toegewyde produsente en personeel van Graan SA gedoen en daarvoor is fondse nodig. Onthou net: Daar is niemand anders wat jou as grondboonprodusent se belange op die hart dra nie.
Die voortbestaan van jou produsente-organisasie, Graan SA, is van kardinale belang. So, of jy verwerker of produsent is, betaal asseblief jou heffing en neem ook aktief deel, raak self ook betrokke, dit sal in die langer termyn dividende oplewer.
Publication: February 2015
Section: Focus on