• Login
  • Search Icon

GROENSKRIF: GRONDSAKE

November 2011

image

Die kommersiële produsent is vandag in ‘n baie ongemaklike posisie wat ons land se geskiedenis ten opsigte van grondsake betref. Die produsent is aan die een kant die probleem vir die regering, maar ook terselfdertyd die oplossing.

Oor die “wat” ons te doen staan, is daar konsensus: Ons moet vir ‘n tydperk (daar moet ‘n begin en einde wees) ‘n regstelling doen om die grond meer regverdig te verdeel, terwyl ons voedselproduksie in plek moet hou. Hierdie regstellende aksies moet ook van so ‘n aard wees dat die sektor steeds groei en werk skep. Dit is dus oor die “hoe” wat daar groot verskille bestaan.

Die “hoe”-gedeelte het te make met die prys van grond, die tydperke waarin dit gedoen moet word asook die keuse van produsente wat hierdeur bevoordeel word. Almal, insluitend die regering, is baie bewus van die redes vir die mislukkings. Van die belangrikste faktore wat bygedra het tot die mislukking van die huidige beleid, is korrupsie, ‘n tekort aan fondse en kundigheid, geen ondersteuning nie, staatsgrond onaangewend en administratiewe onbeholpenheid, byvoorbeeld die grondbesit-oudit. ‘n Mens sou kon dink dat die heel elementêrste aspek van grondhervorming, ‘n databank sou wees om aan te dui wie besit die grond in die land.

Ek haal my hoed af vir die JSE wat met groot moeite (en waarskynlik koste) die oefening gedoen het om te bepaal watter deel van die aandele in swart mense se besit is. Hulle kon nog nie deur alles werk nie, maar is al by ten minste 30%.

Vir hoe lank sal ons as landbouers nog moet hoor dat ons nie vordering maak met transformasie nie? Anders as die JSE, het ons nie toegang tot die staat se titelaktes om so ‘n oefening te kan doen nie. Menige poging deur georganiseerde landbou om ‘n hand uit te steek om met die proses te help, is bloot geïgnoreer. Dalk wil die staat nie weet nie, want solank die onsekerheid bestaan, word dit as ‘n sweep gebruik om ons te dryf.

Dit was die ander dag verfrissend om te kon aankondig dat Graan SA alreeds meer ingeskrewe ontwikkelende swart produsente in ons studiegroepe het, as opbetaalde kommersiële produsente (wit en swart). Hierdie is die resultaat van baie jare se volgehoue pogings van ‘n bedryf en organisasies wat ‘n verskil wil maak. Ons sien dit op die grond, maar ongelukkig wil die mense in die raadsale dit nie hoor nie. Dit pas hulle nie. Die tipe ondersteuning wat Graan SA aan hierdie produsente bied, is presies die oplossings waarna die Minister van Grondsake nou soek. Dit is nie afwesig nie, dit is tot dusver bloot net geïgnoreer!

Albei partye in dié saak moet nou hulle trots in hulle sakke steek en hulle hande na mekaar uitsteek. Graan SA moet sy ondersteuning stelsel vir die staat aanbied as ‘n onontbeerlike bousteen tot suksesvolle grondhervorming en die staat gaan sy hand in sy sak moet steek om vir hierdie diens te betaal om voedselsekerheid op ‘n volhoubare wyse te verseker.

Die oplossing lê nie in meer houe met die sweep nie, maar in vennootskappe sodat die vertroue in ons Grondwet ten opsigte van eiendomsreg en regverdige vergoeding behoorlik in plek kan bly.

Die ander pleidooi wat ek graag wil rig, is om saam te begin droom oor die “nuwe normaal” (new normal). Hoe lyk Suid-Afrikaanse landbou as die periode van regstelling verby is? Wanneer is dit klaar en kan die mark sy koers kry na ‘n nuwe normaal? ‘n Tydperk waar net die Grondwet van die land geld en die onvoorspelbaarheid van politieke inmenging op ‘n absolute minimum is.

In die landbou is daar soveel onvoorspelbare uitdagings, soos pryse, die weer en die wisselkoers dat ons nie wakker gaan lê oor ons verveeld is nie. Soms wonder ek of boerdery in die Europese Unie nie een van die verveligste beroepe is nie? Bykans alles daar is voorspelbaar, behalwe waar die hoender môre op die stoep gaan mis.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: November 2011

Section: Editorial

Search