August 2014
CHRIS VENTER, makelaar: JSE Kommoditeite, BVG
Graanbemarking word elke jaar hewig beïnvloed deur mark- en weersomstandighede en dit maak dit essensieel vir produsente om hulself te beskerm teen markbewegings en ook steeds hulle winste te optimaliseer.
Elke seisoen is uniek met baie veranderlikes en dus benodig elke produsent ‘n aanpasbare bemarkingstrategie. Dié strategie moet aangepas kan word om die produsent die beste te beskerm deur die seisoen. Indien die produsent niks doen nie, is hy totaal afhanklik van wat die mark doen, maar as die produsent ‘n sinvolle bemarkingsplan volg, beskerm hy hom op só ‘n wyse dat dit die beste vir hom inhou in meeste kondisies.
Daar word somtyds aanbeveel om die oes in dele te verdeel en dit dan in verskillende stadiums te bemark. Deur een derde van die oes in November, een derde in Maart en dan een derde ná oestyd te bemark, kan daar op hierdie wyse ‘n aanpasbare strategie gevolg word wat die verandering in kondisies deur die seisoen in ag kan neem.
Produsente wat finansieel gesond is, kan hulle mielies doodeenvoudig hou tot Maart die volgende jaar en geleenthede benut soos wat hierdie jaar die geval was. Dit is egter nie vir alle produsente moontlik nie en produsente is soms gedwing om mielies onmiddellik ná strooptyd te verkoop. In dié geval is ons ondervinding om die beste te maak van kondisies tydens die voorstroopperiode.
Wat hier van belang is, is om net te begin met die graanbemarking en dan te sien hoe die seisoen vorder asook die markpryse.
Deur sy insetkoste so gou as moontlik te beskerm, haal die produsent ongelooflik baie druk van homself af. Enige persoon neem beter besluite as hy nie onder druk is nie. Wanneer die seisoen sy tweede helfte bereik, is daar ‘n baie duideliker prentjie ten opsigte van die reënval en die prysbewegings.
As die seisoen begin wys dat die prys gaan styg, kan gewag word met graanbemarking. As dit begin reën en die pryse val, kan daar meer verskans/verkoop word.
Uit die artikel wat in April vanjaar in SA Graan/Grain geplaas is (Kundigheid is nodig vir effektiewe graanbemarking), is die waardes geneem wat in Tabel 1 weergegee word.
Indien geen graanbemarking gedoen word nie, is die inkomste totaal afhanklik van die Safex-prys. Uit Tabel 2 (waar geen bemarkingsplan gevolg word nie), kan ons die volgende sien: Die gelykbreekpunt van die produsent is op ‘n Safex-prys van R2 100. Onder die prys word ‘n verlies gemaak en bo R2 100 word ‘n wins gemaak.
Gedurende Februarie was die prys van witmielies op die JSE vir die Juliemaandkontrak R2 320/ton. Gedurende Februarie word 'n voorseisoenkontrak geteken vir 500 ton mielies teen ‘n prys van R2 100 (ex-silo). Die totale inkomste hieruit verkry is R1 050 000. Die inkomste verander nie soos die prys verander nie. Hiermee saam, het die produsent 2 000 ton se 2 300 put opsies gekoop teen ‘n premie van R180/ton.
Uit Tabel 3 is dit duidelik dat die gelykbreekpunt nou geskuif het van R2 100/ton na R1 900/ton en dat die waarde van die vaste kontrak onveranderd bly op R1 050 000 oor die prysreeks, maar dat die inkomste uit die koop van die put opsies toeneem hoe laer die prys gaan. Dit is die doel van die put opsies: Dit beskerm die produsent teen laer pryse.
Indien die produsent sy totale verwagte opbrengs van 3 500 ton verskans deur 30 kontrakte (3 000 ton) se put opsies te koop, is die geheelbeeld soos in Tabel 3. Ons het dus die hele 3 500 ton verskans.
Uit Tabel 4 is dit duidelik dat al daal die pryse, is die kliënt verskans teen die laer pryse. Tabel 5 wys die uitslae van die drie verskillende scenario’s.
Tydens die skryf van hierdie artikel, het die Julie-witmielieprys verhandel in die omgewing van R1 820/ton. Die verskil tussen 'n produsent wat vol verskans het en geen verskansing gedoen het nie, is die verskil tot R1 150 000.
Daar is baie markspelers wat voel die pryse vir die put opsies is baie hoog en hul is dus nie bereid om die premies te betaal nie. Die produsent kan die put opsies later verkoop wanneer hy die mielies verkoop. Die put opsies het dan nog waarde en dit kan verkoop word om van die koste te delg. Die doel is nie om die put opsies te hou tot dit verval nie, maar dit slegs as verskansingsmiddel te gebruik.
Die voordeel van opsies is dat dit die produsent in staat stel om te verskans terwyl hy nog onseker is oor hoe die seisoen kan verloop. Deur dit te doen, posisioneer hy homself om net beter besluite te neem. Produsente wat gebruik maak van al die beskikbare finansiële instrumente om hulself te verskans in die mark, verseker dat hewige fluktuasies in die mark hulle nie ontkant vang nie.
Met inagneming van hierdie voorbeelde is dit duidelik dat verskansing ‘n kritieke deel van enige produsent se beplanning moet uitmaak. Dit is ook uiters belangrik dat die produsent saam met ‘n graanhandelaar gaan sit en deur die hele bemarkingsproses werk om gemaklik te raak oor die risiko’s en homself ook duidelik te vergewis van hoe die hele proses werk. Options en futures is daar om gebruik te word en is binne bereik van elke graanprodusent.
Publication: August 2014
Section: On farm level