May 2013
PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER
Johan en Elize van Huyssteen en hul seun, Johan, is die vierde en vyfde Van Huyssteen-generasie wat op die familieplaas, Bloekom, in die Virginia-omgewing boer. Hier bedryf dié Graanprodusent van die Jaar-finaliste hoofsaaklik ‘n mielieboerdery met ‘n klompie vee en wild om die weiding te benut.
Die gesaaides word vernaamlik op diep, sanderige Avalon-gronde aangeplant met ‘n langtermyn gemiddelde reënval van ongeveer 550 mm en daarom is vogbewaring ‘n hoofvereiste vir sukses. Vir hierdie rede word net 50% van hul lande jaarliks beplant en die res word braak gehou om vog op te gaar.
In hierdie boerdery is volhoubare, winsgewende graanproduksie ‘n werklikheid en konstante strewe en nie net ‘n gesegde nie. Dit het veroorsaak dat hulle hul jarelange beproefde verbouingsmetodes aangepas het om oor te skakel na nuwe praktyke; praktyke wat loodreg teenoor die omgewing se praktyke op daardie stadium was, maar vandag pluk hulle die vrugte van hul brawe besluite.
Bewaringsbewerking
Die konvensionele metodes is oorgeskakel na ‘n bewaringsbewerkings - praktyk wat spoorverkeer, rip-op-die-ry en ruslande insluit. Hierdie praktyk pas dan ook die sanderige Avalon-gronde soos ‘n handskoen en sodoende kon die potensiaal van die grond ontsluit word.
Behalwe hoër opbrengste is die produksiekoste en risiko ook dramaties verlaag. Die meerderheid bewerkings is uitgeskakel en sodoende is beide brandstof en herstelwerk dramaties verminder. Verder het hierdie stelsel dit ook vir hul moontlik gemaak om werk uit te kontrakteer met die gevolg dat minder geld in masjiene belê moes word. Slegs die trekkers word deur die kontrakteurs voorsien, terwyl hul self die implemente om die taak uit te voer, verskaf. Die implemente wat gebruik word, is aangepas sodat vogverliese tot die minimum beperk word.
Omdat die bewerking van die lande tot die minimum beperk word, is die primêre bewerkingsimplement so ontwerp dat dit sommer terselfdertyd die land weer gelyk maak en ‘n gedeelte van die kunsmis insit. Hierdie stap skakel die maak van ‘n saadbed uit en so word daar koste bespaar. Die rye word jaarliks geswaai om sodoende die jong mielieplantjie die beste kans te gee om lekker sterk te ontwikkel.
Fokus op mielies
Mielies is tans die enigste gewas wat verbou word, want vir die Van Huyssteens maak dit nie ekonomies sin om wisselbou toe te pas nie. Verder kan hul spesialiseer, wat sorg dat elke taak korrek, doeltreffend en effektief uitgevoer word.
Om op noodsaaklike insette te spaar, maak ook nie vir hierdie boerdery sin nie. Deur op winsgewendheid en op die optimering van beperkings te fokus, het daartoe gelei dat groot veranderings gemaak is.
Ja, nuwe tegnologie, soos glifosaat, het dit ook makliker gemaak. Klein onkruidjies word vroegtydig chemies beheer en sodoende word op onkruiddodergebruik bespaar. Die braaklande word die hele jaar chemies skoongehou en sodoende word die stoppels bewaar wat weer water en winderosie voorkom. Winderosie was ook ‘n groot beweegrede om na min bewerking oor te skakel om die stoppels te behou.
Mieliestoppels word in hierdie boerdery aangewend om die volgende mielie-oes te beskerm. Vir dié rede word die lande nie bewei nie. Volgens die Van Huyssteens word die stoppel oor tyd op die lande meer en terselfdertyd neem die opbrengste toe.
Bemesting speel ‘n sleutelrol
Bemesting van die gewasse is en bly belangrik op die plaas. Hulle het lankal besef dat grond-pH belangrik is en tans word die kalk veranderlik toegedien aan die hand van presisiegrondontledings.
Hier is die landboukundiges van insetverskaffers van uiterste belang. Die doelwitte waarvoor hul boer, is aan die insetverskaffers bekend en sodoende word daar saam planne gemaak om hierdie doelwitte te bereik.
Gewasopbrengste speel ‘n belangrike rol in die bemestingsbesluit. ‘n Gedeelte van die bemesting word alreeds met die primêre bewerking toegedien en sodoende word daar weer koste bespaar.
Tydens plant word weer ‘n gedeelte toegedien en die laaste word as ‘n topbemesting toegedien. Daar word beplan om hierdie bemestingtoedieningspraktyk te verander deur net tydens die primêre bewerking en tydens plant, kunsmis toe te dien. Deur dié stap kan die ekstra skoffelbewerking uitgeskakel word en kan ‘n na-werking onkruidbeheermiddel by die eerste spuitaksie gevoeg word. Om arbeid te bespaar, word hoofsaaklik vloeibare kunsmis gebruik.
Proewe
Die kultivars wat op die plaas aangeplant word, kom uit kultivarproewe wat jaarliks op die plaas aangeplant word. Daar word ook standproewe aangeplant en aan die hand van hierdie proewe se resultate is daar besluit om die plantestand per hektaar te verhoog. Dit sal interessant wees om te sien wat oor tyd op hierdie gebied gaan gebeur.
Daar word nie net op kultivarproewe gekonsentreer nie, maar ook op bewerkingsdiepteproewe. Tans is daar proewe aangeplant waar die bewerkingsdiepte verminder is om sodoende te bepaal of dit die moeite werd is om so diep te bewerk. Proefresultate word ontleed en sodoende kan die regte besluite vir hul omstandighede geneem word.
Elkeen weet wat sy verantwoordelikheid is
Al hierdie werk sal nie gedoen kan word as daar nie ‘n duidelike verdeling van take tussen Johan (sr) en Johan (jr) is nie. Johan (sr) is verantwoordelik vir die beplanning, rekordhouding en administratiewe pligte op die plaas. Johan (jr) is weer verantwoordelik dat die take buite gedoen word.
Sonder goeie kommunikasie is dit onmoontlik en daarom kom hul gereeld bymekaar om take te bespreek. Sodoende het hulle albei die geleentheid om hul unieke passie vir boerdery uit te leef en dit dra by tot beter prestasie aan die einde van die dag.
Bemarking
Graanbemarking en graanprysbestuur, soos by vele produsente, neem baie tyd in beslag. As die pryse nie reg bestuur word nie, kan selfs die heel beste produksie ongedaan gemaak word en dit het die Van Huyssteens al self ervaar.
Hulle spandeer daarom baie tyd om markinligting in die hande te kry en hul besluite hierop te berus. “Gelukkig is ons nou betrokke by ‘n instansie wat ons kan help om ons graanpryse vir ons omstandighede op die regte manier te bestuur,” sê Johan (sr). “Ons moet nog baie leer en alles doen in ons vermoë om sake reg te doen. Om te weet hoeveel dit kos om te produseer, help al klaar baie in die bemarkingsproses.”
Gemeenskapsbetrokkenheid
Die Van Huyssteens bring ook hul kant in die gemeenskap. Johan (sr) noem dat jy net kan oes as jy saai. Daarom is hul betrokke by studiegroepe en ‘n boerevereniging. “Ons ontmoet so baie nuwe mense en leer by almal iets wat ons weer in ons besigheid kan aanwend om dinge beter te maak.”
Hierdie boerdery het al ‘n geruime tyd gelede besluit om hul inkomstebronne te diversifiseer. Elize, die vrou en die ma van die huis, se hulp is ingeroep en ‘n onthaalbesigheid is op die been gebring. Paartjies kan op die plaas die knoop deurhaak en daarna word die fees sommer op die plaas gevier. “Heelwat glanspaartjies het al hier kom trou en sodoende leer ons baie nuwe mense ken,” sê Elize.
Johan (sr) span ook sy ander liefde, naamlik vlieg, in om produksie te verhoog. Uit die lug kan foute nie weggesteek word nie. Die effek van planters wat nie reg plant nie kan só baie makliker gesien word en sodoende word dan daarop in die volgende jaar gefokus om sulke foute uit te skakel.
Toerusting
Baie aandag word aan planters gegee en daar word gesorg dat alle toerusting voor gebruik reeds reg, getoets en ingestel is. As daar ge plant kan word, moet dit so gou as moontlik gebeur en moet kosbare tyd nie verlore gaan nie. Deur alle aspekte te optimeer, word seker gemaak dat winste oor tyd ook geoptimeer word: “Maar dit kon net gedoen word deur te besef wie ons is en wie ons in Christus is,” getuig die Van Huyssteens. “Sonder Sy genade is ons tot niks in staat nie en daarom probeer ons om in Sy voetspore te volg in alles wat ons doen.”
Publication: May 2013
Section: Other Articles