• Login
  • Search Icon

Goeie landboupraktyke vir grondboonproduksie

October 2014

FRANS MINNAAR en LEON EKSTEEN, Grondboon Spesialiswerkgroep, Graan SA

Voedselveiligheid word al hoe belangriker in graanbedrywe in ons land en grondboonprodusente moet hiervan kennis neem. By grondbone is aflatoksiene en chemiese residuvlakke veral ter sprake. Aflatoksiene kan lewerkanker en in akute gevalle selfs die dood veroorsaak. Aflatoksiene se groot gevaar is waar dit in stapelvoedsel voorkom en oor lang tydperke onwetend ingeneem word.

Die volgende wetgewing is ter sprake: Voedselveiligheid en Voedselhigiëne van Gereguleerde landbouvoedselprodukte van plantoorsprong bedoel vir uitvoer (Regeringskennisgewing 707 van 13 Mei 2005).

Goeie landboupraktyke en voedselveiligheid

Soos produsente weet, moet verwerkers aan Hazard Analysis and Critical Control Points (HACCP) regulasies voldoen vir die uitvoer van grondbone. Bogenoemde wetgewing maak voorsiening vir goeie landboupraktyke op plaasvlak om voedselveiligheid te verseker. Alhoewel die wetgewing bedoel is vir uitvoer, word verwag dat alle grondboonprodusente goeie landboupraktyke in die toekoms sal toepas.

Die rede daarvoor is dat daar nie op plaasvlak al bepaal kan word of die produk plaaslik of internasionaal bemark gaan word nie en dat binnelandse voedselveiligheidsregulasies in elk geval soortgelyke beheer noodsaak.

Oorsig oor goeie landboupraktyke tot op hede

Grondboonprodusente is in Oktober 2010 vrygestel van voedselveiligheidsvoldoening op plaasvlak indien verwerkers waar lewering plaasvind aan HACCP-regulasies voldoen.

Tydens ‘n besoek in Maart 2011 van die Food and Veteninary Office van die Europese Unie, is gevind dat daar risiko’s op plaasvlak bestaan ten opsigte van voedselveiligheid. In Julie 2012 is die vrystelling aan produsente teruggetrek as gevolg hiervan. Tydens die eerste fase van die goeie landboupraktyke oudits in 2012 en 2013 is bevind dat daar lae vlakke van voldoening was.

In Julie 2013 is ‘n tegniese werkgroep gestig om voldoeningskriteria op plaasvlak te ondersoek en alle oudits is opgeskort tot September 2013. Dit is ook in bogenoemde tegniese werkgroep waar Graan SA in samewerking met die Grondbone Forum en ander rolspelers bydraes gemaak het om die ouditproses te vereenvoudig. In September 2013 is vereenvoudigde, hersiene voldoeningskriteria deur die Perishable Products Export Control Board (PPECB) vrygestel en deur die Grondbone Forum gepubliseer.

In Maart vanjaar moes die verwerkers die PPECB voorsien van die name van produsente wat 80% van hulle voorraad lewer. ‘n Derde van hierdie produsente is toe gekies vir fase twee van die goeie landboupraktyke oudits met die hersiene kriteria.

In die Grondbone Forum is besluit dat verwerkers van grondbone die hersiene goeie landboupraktyke riglyne aan produsente sal kommunikeer. Dit is egter so dat alle verwerkers nie aktief aan die Grondbone Forum deelneem nie, of nog nie daarby uitgekom het om produsente hieroor in te lig nie. Op die Grondbone Wegbreeksessie tydens vanjaar se Graan SA Kongres is gevind dat min produsente nog geweet het van die nuwe hersiene ouditprosesse asook die tweede fase oudits.

Verwerkingsaanlegte moet ook chemiese residu toetse doen om aan HACCP-regulasies vir uitvoere te voldoen. Daar word nie van produsente verwag om op plaasvlak daarvoor te toets nie. Belangrik egter, is dat afskrifte van die gelewerde oes se toetse van die aanleg bekom word en deur produsente op rekord gehou word vir ouditdoeleindes.

Ouditkoste bly uit die aard van die saak die verantwoordelikheid van die party wat geoudit word, maar daar word voorgestel dat produsente vooraf met verwerkers onderhandel oor wie vir die koste van ‘n goeie landboupraktyke oudit verantwoordelik sal wees.

Goeie landboupraktyke in ‘n neutedop

Goeie landboupraktyke behels hoofsaaklik die voorkoming en beperking van aflatoksiene en die naspeurbaarheid van grondboonprodukte tot op landvlak. Rekordhouding van produksie-insette op grondbone, soos kunsmis, chemiese middels asook plaagdoders en swamdoders se gebruik is ook van toepassing.

Verder word instandhoudingsrekords van spuittoerusting en die korrekte hantering van chemikalieë en chemiese houers vereis. Klimaat, oesgereedheid, optimum plantestand asook die droging en berging van grondbone speel ook ‘n rol. Ander punte van belang, is die skoonmaak van waens en toerusting waarmee grondbone geoes en vervoer word. Kwaliteit van besproeiingswater en sanitasie is ook belangrik.

Goeie landboupraktyke is dus risikobestuur, sodat aflatoksiene, kontaminasie en chemiese residuvlakke in grondboonproduksie voorkom kan word.

Die kern van goeie landboupraktyke is dat produsente tydens 'n oudit moet kan bewys dat voedsel veilig en op ‘n verantwoordelike manier geproduseer word. Punte waarop gekonsentreer moet word, is die aantekening van spuitprogramme en dat gifstore reg gemerk en ten alle tye gesluit is.

Waar foute deur ‘n oudit uitgewys word, het die produsent 30 dae om dit reg te maak. Die produsent kan dus steeds die oudit slaag indien korrektiewe aksie geneem word binne die voorgeskrewe tyd.

Die Grondbone Forum, in samewerking met die Oliesade Advieskomitee (OAK) en Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) het ‘n baie handige gids in hierdie verband uitgegee. Die gids is op versoek in gedrukte en elektroniese vorm beskikbaar. Dit bevat voorbeelde wat dit vir die produsent baie maklik maak om rekordhouding te doen. Die grondbonebedryf is die eerste primêre graanbedryf wat in so ‘n mate kennis maak met goeie landboupraktyke.

Ander graangewasse gaan ook in die toekoms hierdeur geraak word. Daar is byvoorbeeld nie net grondbone nie, maar ook ander verwerkte graanprodukte van Suid-Afrikaanse oorsprong uit die buite land teruggestuur weens aflatoksienvlakke wat hoog getoets het.

Skakel asseblief met die aanleg waar jy lewer indien jy nog nie bewus is van hierdie verwikkelinge nie. Jy is ook welkom om Graan SA te kontak met enige vrae in hierdie verband.

Handleidings kan by jou verwerker verkry word of direk bestel word vanaf: Die voorsitter (Suid-Afrikaanse Grondbone Forum) by oliesade@worldonline.co.zaof stuur ‘n faks na 011 234 3402/086 634 8067.

Uit die staanspoor wil dit voorkom asof produsente negatief is teenoor bogenoemde wetgewing. Die feite is egter dat niemand tog verantwoordelik gehou wil word vir iemand anders se dood as gevolg van onhigiëniese of besmette voedsel nie?

Dit is so dat die Europese Unie en Japan belangrike uitvoermarkte is wat hoë vereistes stel aan voedselveiligheid. Verder is dit nie so moeilik om aan goeie landboupraktyke te voldoen nie, aangesien ons as verantwoordelike produsente alreeds die meeste van hierdie dinge doen, dit moet net gedokumenteer word.

Die vraag wat ons as produsente onsself moet afvra is, wat is die voordele wat goeie landboupraktyke vir ons inhou?

Behalwe vir die produksie van hoëkwaliteit voedsel deur middel van veilige grondbone, verseker dit ook vir Suid-Afrikaanse produsente ‘n mark in die Europese Unie en in Japan. Hierdie markte soek Suid-Afrikaanse kwaliteit, smaak en pitvorm.

In die verlede is ‘n premie betaal vir Suid-Afrikaans geproduseerde grondbone. Soos die bedryf ontwikkel en meer gesofistikeerd raak, sal dit al hoe makliker word om grondbone te produseer. Dit is dus van kardinale belang dat Suid-Afrika uitvoerstatus na hierdie lande behou.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search