April 2017
Wêreldwyd het die manier waarop besighede na mense kyk ‘n klemverskuiwing ondergaan. ‘n Mens sou graag wou glo dat hierdie verskuiwing te danke is aan die feit dat die wêreld ‘n beter plek geword het, maar die waarheid is dat dit eerder ekonomiese druk is wat besig is om hierdie verandering af te dwing.
Werknemers het duur geraak – nie net om aan te stel nie, maar ook om op te lei en te versorg. Ons wêreld is ook besig om al hoe meer kompleks te raak; wat beteken dat, waar die skade van een verkeerde besluit van ‘n werknemer in die verlede relatief beperk was, dit nou eksponensieel toegeneem het.
Die verandering in denke wat derhalwe plaasgevind het, is dat mense nie meer as ‘n koste bestuur kan word nie, maar as ‘n bate.
Nêrens is hierdie feit meer waar as in die landbousektor nie. Die trekkerdrywer wat vroeër ‘n Ford 5000 bestuur het, se vermoë om skade aan te rig is beduidend minder as vandag se landbouvoertuigbestuurders wat honderde kW beheer. Voeg daarby ‘n redelikgesofistikeerde rekenaarstelsel en die prentjie verander drasties.
Die vraag wat hieruit ontstaan, is of ons as landbouers aangepas het of sal kan aanpas by hierdie nuwe stel omstandighede?
Wie is ons menslike hulpbronne?
Enige persoon wat op die plaas aankom om advies of hulp aan te bied, sonder of teen vergoeding, behoort deel van ‘n produsent se menslike hulpbronpakket te wees. Dit sluit, behalwe vir sy direkte werknemers, veral sy vrou en volwasse kinders in wat deel vorm van die boerdery.
Verder is betroubare bemarkers ook deel van hierdie span mense wat ’n bydrae moet lewer om van ‘n komplekse onderneming soos ʼn boerdery ‘n sukses te maak.
Een van die uitstaande kenmerke van Suid-Afrikaanse produsente is dat hulle nie nodig het om alles van alles af te weet nie. Hulle het slegs nodig om te weet wie die mense is wat weet en wat nodig is om te weet.
Boerdery is uit die aard van die onderneming nie ’n besigheid waar besluite eers na ‘n komitee verwys kan word nie. Besluite moet vinnig en effektief geneem kan word.
Dit beteken dat die grootste bate van enige plaas die produsent self is.
Alhoewel hierdie stelling vanselfsprekend klink, is die vraag hoe ons na ons bates kyk? Pas ons ons bates op? Maak ons seker dat ons bates in optimale kondisie is, sodat die mees moontlike fondse uit elke bate gegenereer kan word?
As mense dus ‘n bate is en nie net ‘n las nie, sal ons in die toekoms al hoe meer moet kyk na hoe ons maksimum opbrengs kan verdien uit die tyd wat ons by ons menslike hulpbronne koop.
Soos met enige bate, begin hierdie proses by die aankoop. Hoe stel ons mense aan? Die tyd dat ons maar aanstel wie by ons op die plaas aankom, is vir altyd verby. In die eerste plek het werkers te duur geraak en in die tweede plek het goeie mense skaarser geraak.
Maatskappye het lankal besef dat as jy goeie mense soek, jy hulle aktief sal moet werf. Die kern van die saak is dat jy soveel as moontlik mense wil hê wat aansoek doen, sodat die poel waaruit jy kan kies so groot as moontlik is.
Voordat iemand aangestel word, moet jy seker maak dat jy presies weet wat die kwaliteite is waarna jy soek. Jy moet weet watter tipe persoon op jou plaas gaan aanpas; iemand wat saam met die bestaande mense op jou plaas kan werk.
Die belangrike ding om hier te onthou, is dat as jy hier die verkeerde besluit geneem het, dit baie moeilik kan wees om so ‘n besluit ongedaan te maak. Neem dus eerder tyd, dink oor jou besluit en luister na jou eie gevoelens.
Mensbestuur is ‘n onderwerp waaroor daar al baie geskryf is en nog baie geskryf sal word. Daar is geen manier waarop hierdie hele onderwerp op ‘n bladsy of twee gedek kan word nie, maar ek dink dat daar tog een of twee goed-nagevorste beginsels is wat ons kan toepas.
Die eerste beginsel van mensbestuur is dat ons net kan bestuur wat ons verstaan. Dit is dus belangrik dat ons ‘n paar konsepte verstaan waarop die menslike brein werk.
Schotomas
Schotomas beteken blinde kol. Waarop dit neer kom, is dat ons breine gemaak is om inligting uit te sif in terme van relevansie en gevaar. Die praktiese gevolg hiervan is dat ons brein hom nie gaan ophou met onnodige inligting nie.
As ons alles om ons moes raaksien en registreer, sal ons doodeenvoudig nie genoeg van hierdie inligting kon verwerk om ‘n sinvolle besluit te neem, gebaseer op die duisende stukkies data wat deur ons sintuie waargeneem word nie.
Die implikasie hiervan vir ons as bestuurders is dat mense gelukkig geleer kan word om byvoorbeeld trekker te bestuur sonder dat hy nodig het om daaroor te dink. Die negatiewe gevolg hiervan is dat die mense wat vir ons werk baie keer, letterlik nie kan sien wat ons sien nie.
Die gereelde baklei wat ek al baie op ‘n plaas gehoor het, is: “Maar kan hy dan nie sien dat daar fout is nie?”
Die Bybel verwys na hierdie verskynsel as ‘n “balk in die oog”. Ek let dit die meeste op as ons na netheid verwys.
As jy in ‘n omgewing grootgeword het waar rommel deel is van jou alledaagse bestaan, sien jy dit letterlik nie meer raak nie, want dit is nie relevant of gevaarlik nie.
Jy kan sien dat hierdie “verskillende manier van kyk na die wêreld” konflik kan veroorsaak. Die manier om schotomas te bestuur, is om in die eerste plek te weet dat daar so iets is. Prakties beteken dit dat jou manier van kyk na die wêreld nie noodwendig die enigste manier is waarop daar na die wêreld gekyk word nie.
Die probleem met blinde kolle is dat ons nie weet wat ons nie weet nie. Slegs as jy nederig genoeg is om te vra en te probeer verstaan, gaan jy bewus raak van jou eie blinde kolle.
Selfpraat
‘n Mens praat gedurig met jouself – bewustelik of onbewustelik. Terwyl daar woorde by jou mond uitkom, gaan daar ‘n reeks gedagtes deur jou onderbewuste waaruit jou brein van die wêreld om jou probeer sin maak, sodat jy daarop ‘n gepaste reaksie kan lewer.
Ons reaksies hang af van ons lewensfilosofie, gewoontes en vorige ervarings. Die meeste van die tyd het ons nie eers nodig om te dink oor dít waaroor ons dink nie, want dit is ‘n outomatiese proses. Een van die maniere waarop hierdie proses in ons “geprogrammeer” word, is dít wat ons vir onsself oor onsself en van die wêreld om ons sê.
Wat sê jy dus oor jouself? Ek het al baie interessante dinge gehoor wat mense van hulleself sê. Baie keer sê hul hierdie ding herhaaldelik van hulself en ander. Byvoorbeeld: “Jy weet mos, ek is maar ‘n ou sukkelaar” of “Al die mense wat vir my werk, is lui.”
Of dikwels sê jy sonder om te dink vir jouself: “Dom idioot!” Die probleem hiermee is dat jou brein konstant op ‘n onbewustelike vlak na jou woorde luister. Jou brein het geen manier om te onderskei of dit wat jy van jouself oor jouself sê, die waarheid is of nie. Op dié manier word jou woorde jou waarheid. Hierdie probleem kan bestuur word deur bewustelik te luister na wat jy van jouself sê. Hou op om sleg van jouself en jou mense te praat. Onthou: Jou brein luister.
Mensontwikkeling
Hoeveel tyd spandeer jy daaraan om terug te staan en te wonder of daar nie dalk ‘n beter manier van doen is nie? Hier praat ek nou van die waardevolste persoon op jou plaas: Jy.
Onthou, jy is die grootste bate op jou plaas. Hanteer jouself met die respek wat enige waardevolle bate verdien.
Belê in jou eie kennis en vaardighede. Doen alles in jou vermoë om jouself en jou mense te bemagtig. Die eenvoudigste manier om dit te doen, is om soveel as wat jy kan, te lees. Vra konstant vrae. Kyk wat werk vir ander en leer by hulle. Jy en almal om jou gaan die vrugte daarvan pluk.
Uiteindelik is ons nie net eienaars nie, maar eerder rentmeesters van ons plase en die mense wat aan ons toevertrou is. Wees wys met hierdie bate.
Vir meer inligting, gesels met Isak Staats by isak.staats@bkb.co.za.
Publication: April 2017
Section: Relevant