October 2013
Die maande van Augustus en September was uiters besige maande vir georganiseerde landbou. Die rede was die vele ingrypende voorstelle en beleidsveranderinge wat vanuit owerheidskringe gekom het.
Dit was nie net die tempo waarteen dit uitgesit was vir kommentaar nie, maar veral die omvang daarvan wat baie druk op ons kapasiteit geplaas het. Amper was dit asof alles wat die afgelope vier jaar moes klaarkom, nou in vier maande afgehandel moes word.
‘n Mens sou ook nog kon debatteer of twee weke vir kommentaar werklik as konsultasie met rolspelers beskou kan word. Dit is egter die werklikhede van dit waarmee Graan SA die afgelope paar maande gekonfronteer was.
Die hoë vlak en ook die omvang van die sake was van so ‘n aard dat ons bykans met elke saak verdere regspleging moes doen. Regspleging raak nodig wanneer daar ‘n groot kans bestaan dat die verskil in opinie en siening van ons leierskap in so mate van dié van die regering verskil, dat ons onsself vir toekomstige hofsake moet voorberei.
Party mense sal sê: “Raak rustig, dit is verkiesingsjaar!” Graan SA hoop van harte dat diesulkes reg sal wees kom die middel van 2014, maar dit sou bloot onverantwoordelik wees om absoluut niks te doen nie.
Die sake waarna ek verwys, het te make met wat ek noem, twee grondplate diep onder die see in die aardkors waarop ons ekonomie en samelewing gebou is, naamlik die vrye mark en privaat eiendomsreg. Die nuutste voorstelle vir veranderinge aan die bemarkingswet is daarop gefokus om die Minister van Landbou meer beheer oor landbou te gee. Beheer oor die in- en uitvoer van graan en beheer oor al die fondse en uitgawes van die landboutrusts.
Indien die minister meen dit is verkiesingsjaar en dat kos in Suid-Afrika goedkoop moet wees vir die kiesers, kan sy alle mielie-uitvoere verbied en die surplus kan pryse afdruk om haar in haar doel te laat slaag. Die volgende jaar sal byna niemand mielies plant nie, want die pryse sal nie hul produksiekoste dek nie en dan styg alles weer hemelhoog en sal die landbousektor as die skuldige party uitgewys word. Die vrye mark het sedert 1997 (16 jaar) ‘n fantastiese rekord opgebou om voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verseker.
Die ander grondplaat is dié van eiendomsreg. Voorstelle om grondhervorming te bespoedig en meer regverdig te doen, het met die laaste voorstelle selfs die land se eie Grondwet begin ondermyn. Voorstelle word nie meer aan die Grondwet getoets nie, maar dit is nou die verweerders wat moet bewys dat dit nie grondwetlike voorstelle is nie.
Dit is amper asof jy soort van skuldig is tot jy onskuldig verklaar word. Minister Nkwinti se voorstelle om jou grond uit te deel aan die werkers volgens hulle jare diens, plaas die hele kwessie van privaat eiendomsreg met geen vergoeding, opnuut op die tafel.
‘n Tipiese reaksie van produsente kan wees om hul heel beste en lojaalste werkers te laat gaan uit vrees vir sulke voorstelle. Dit sal tot almal se nadeel wees.
Die uitdagings vir georganiseerde landbou is reusagtig. Sou een van die twee grondplate skuif, gaan hier beslis ‘n tsunami oor Suid-Afrika spoel. ‘n Mens wonder net wat die groot voedselbesighede en die land se leiers hiervan dink. Dit is asof dit hulle nie pla nie. Weet hulle nie, of is ons maar net te skepties oor sulke voorstelle?
Bo-op al hierdie groot sake was dit toe weer tyd vir die koring se differensiaal om afgekondig te word. Die menigte e-posse en telefoonoproepe dui vir my daarop dat ons organisasie se lede baie aktief is. Dit is baie gesond. Ons het selfs oproepe van nie-lede ontvang!
Die impak en beginsel van die differensiaal is al vir baie ure gedebatteer en beredeneer. Ek weet nie van een hoek of draai waar ons nog nie was nie. Hopelik sal daar goeie nuus wees vir die koringprodusente teen die tyd dat hierdie artikel sy verskyning maak. Om al die druk op die verhoë en media te verwerk tot agterdie-skerms-onderhandelinge om die strategie se doelwitte van die organisasie te bereik, neem ‘n klompie vernuf en geduld.
Ons wens die wintergraanmanne en -vroue ‘n mooi oestyd toe, veral ná die lekker reën in die suide en mag die reën vroeg in die noorde val vir ‘n beter somerseisoen – veral vir die manne en vroue van die Noordweste!
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Publication: October 2013
Section: Editorial