October 2014
HANNES DREYER, besturende direkteur, VBRSA
Wat is gerieflikheidseienskappe (convenience traits)? Dit is dié eienskappe van vleisbeeste wat ‘n direkte bydrae lewer tot ‘n besparing in tyd, arbeid, fasiliteite en middels.
Voorbeelde hiervan is temperament, poenskoppe, hitte-, siekte- en parasietweerstand. Die belangrikste en ‘n eienskap wat dikwels nie so beskou word nie, is aanpasbaarheid. Ander eienskappe wat ook hieronder genoem kan word, is moederseienskappe, kalwingsgemak en uiergesondheid.
In hierdie artikel sal net op temperament en aanpasbaarheid gekonsentreer word.
Aanpasbaarheid
Die begrippe aanpasbaarheid en gehardheid word dikwels met mekaar verwar en daarom is dit nodig om die begrippe eers duidelik te definieer.
Aanpasbaarheid kan gedefinieer word as die vermoë van diere om in ‘n spesifieke omgewing te oorleef, te reproduseer en te produseer.
Gehardheid verwys na ‘n dier se aanpasbaarheid by sub-optimale omgewingstoestande, soos byvoorbeeld die ariede gedeeltes van Suid-Afrika (Herselman, 1996).
Neser (1999) beklemtoon dit dat diere so gekies moet word dat hulle optimaal kan produseer en reproduseer onder die omstandighede waar met hulle geboer word, dit wil sê hulle moet aangepas wees onder veldtoestande. Die vermoë van diere om onder swak weidings toestande aan te pas, is egter ‘n eienskap wat in die verlede tot ‘n groot mate geïgnoreer is in seleksieprogramme.
Seleksie is hoofsaaklik op produksie onder optimale toestande toegespits (Herselman, 1996). Tom Lasater, vader van die Beefmasterras, het dekades gelede reeds gesê: “Livestock should be bred, born, raised, performance tested and sold under the conditions they will produce”.
Al hoe meer getuienis kom deesdae na vore wat toon dat genotipe X omgewingsinteraksies ten opsigte van produksie-eienskappe wel voorkom.
Die vraag is: Is aanpasbaarheid ‘n gerieflikheidseienskap? Daar is verskeie nadele aan onaangepaste diere. Hierdie diere het gewoonlik swak weerstand teen parasiete en siektes en moet meermale behandel word as aangepaste diere. Die klassieke werk wat deur prof Jan Bonsma gedoen is ten opsigte van die tropiese degenerasie van swak aangepaste diere, is alombekend.
‘n Nuwe vorm van swak aanpassing word deesdae gevind waar diere en veral bulle, op 'n jong ouderdom groot hoeveelhede kragvoer (veral graan) ontvang en dan sukkel om aan te pas onder veldtoestande. Dit het tot gevolg dat hierdie diere ekstra gevoer moet word en in kritieke tye ekstra versorging nodig het.
Kan aanpasbaarheid gemeet word? Die maklikste metode is sekerlik om na die kondisie van diere te kyk onder normale boerderytoestande, byvoorbeeld op die veld. Die swakker aangepaste diere sal altyd in swakker kondisie wees as goed aangepaste diere.
Temperament
Lasater het ook op ‘n stadium opgemerk: “Nobody likes wild cattle – so why breed them?” Hierdie stelling is vandag nog net so waar.
As ‘n mens die beskrywings van verskillende beesrasse lees, dan moet jy tot die gevolgtrekking kom dat daar feitlik geen ras bestaan met ‘n swak temperament nie! Weeg jy egter bulle van verskillende rasse teen mekaar op, sal jy agterkom dat daar wel groot verskille in die temperament van bulle is.
Navorsing gedoen in Colorado in die VSA het aangetoon dat Britse vleisrasse ‘n kalmer temperament vertoon as Europese rasse en laasgenoemde weer beter temperament vertoon as Bos Indicus-tipes.
By al die veldbultoetse wat onder beskerming van Veldbul Suidelike Afrika (VBSA) uitgevoer word, word daar met elke weging ‘n temperamenttelling aan bulle toegeken. Hierdie telling word gedoen volgens die metode van dr Temple Grandin, maar op ‘n aangepaste skaal van 1 - 9, waar 1 = mak en 9 = onhanteerbaar is.
Resultate behaal by die Oos-Vrystaat Veldbulklub het getoon dat daar groot variasie in temperament is tussen rasse en binne-rasse.
Verskeie navorsers het getoon dat temperament oorerflik is en dat daar met vrug daarvoor geselekteer kan word. Grandin (1998) toon aan dat die oorerfbaarheid van temperament volgens drie verskillende studies onderskeidelik 0,40, 0,53 en 0,45 is. Dit beteken dat hierdie eienskap in werklikheid medium tot hoog oorerfbaar is en dat seleksie daarvoor wel moontlik is.
Navorsers in die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland het gevind dat beeste wat baie wild is, swakker groei in die voerkraal as beeste wat mak en kalm is. Die groei van beeste met ‘n swak temperament was in gevalle soveel as 500 g/dag swakker as beeste met 'n goeie temperament (Hammack, 1997). Die vraag is of hierdie situasie ook onder veldtoestande geld? Nêrens in die literatuur kon enige bewyse opgespoor word dat temperament ‘n invloed het op groei onder veldtoestande nie. Die data van die Beefmasterbulle by die Oos-Vrystaat Veldbulklub is vir twee jaar statisties ontleed asook die data van ‘n teelgroep van 118 bulle en die verband is in Tabel 1 en Grafiek 1 aangetoon. Dit is duidelik dat daar geen verband tussen groei op die veld en temperament is nie.
Die nuutste navorsing van prof Bernie Bindon van Australië, toon dat temperament ‘n groot invloed het op die sagtheid van beesvleis. Volgens Bindon smaak die vleis van beeste wat stadiger beweeg, beter as die vleis van beeste wat vinnig beweeg.
Dit is belangrik om te onthou dat daar net teen diere met ekstreme temperament gediskrimineer moet word. Bulle wat effens “lewendig” is, het nie noodwendig ‘n swak temperament nie, maar 'n mens wil ook nie met bulle werk wat jou uit die kraal uit jaag nie. Die belang rikste is om ‘n goeie balans te handhaaf en temperament behoort nie meer as 10% te tel in ‘n seleksie-indeks nie.
Opsomming
Bogemelde gerieflikheidseienskappe is maar twee aspekte waaraan beesboere aandag kan skenk om arbeid en koste te bespaar en die lewe in die algemeen ‘n bietjie makliker te maak. Gee dus aandag daaraan, maar behou asseblief perspektief oor die belangrikheid daarvan.
Literatuur
Grandin, T. 2003. Assessment of temperament in cattle and its effect on weight gain and meat quality. http://www.grandin.com/behaviour/principles/assessment. temperament.html.
Grandin, T. 1998. Review: Reducing handling stress improves both productivity and welfare. The Professional Scientist, Vol 14, Nr 1, March, 1998.
Hammack, S.P. 1997. Cattle types and breed characteristics and uses. Texas Agricultural Extension Service, The Texas A&M University System.
Schmutz, S. 2001. Behaviour genetic studies using the Canadian beef reference herd. http://sask.usask.ca/~schmutz/behaviour.html.
Schoeman, S.J. & Jordaan, G.F. 1997. The influence of testing environment on the ranking of young growing bulls. S.Afr.J.Anim.Sci., 27 (3).
Science News, 2001. Better beef through genetics. http://www.cosmiverse.com/science08220101.html.
Smith, S.R., Hall, J.B., Johnson, G.D. & Peterson, P.R. 2002. http://www.ext.vt.edu/pubs/forage/418-050/418-050.html.
Publication: October 2014
Section: Focus on