• Login
  • Search Icon

Geen einde aan die vervoerdifferensiaal debakel nie

May 2011

Jannie de Villiers, Hoof uitvoerende beampte

Die vervoerdifferensiaal is een van daardie dinge wat maar net nie ‘n einde het of sy lê wil gaan kry nie. Hy is soos ‘n nat hond wat draai en draai en nie weet hoe om op die sak te gaan lê nie, dat hy eintlik sommer eensklaps droog is.

Soms wonder ek of die JSE nie dit so moeilik as moontlik maak dat almal sal instem dat dit finaal afgeskaf moet word nie. Daar was blykbaar vroeër jare ‘n professor op Tukkies wie se leuse was dat as jy ‘n probleem het waarvoor jy nie ‘n oplossing kry nie, skaf hom af!

Wat ek nie verstaan nie, is dat alle deelnemers aan die JSE almal gedwing word om die mark te waarsku as daar groot of betekenisvolle afwykings van hulle winste gaan wees of as hulle in onderhandelings gaan wat die prys van die aandele kan beïnvloed, maar self waarsku die JSE nie die mark as hulle op kort kennisgewing reuse-aanpassings in die differensiaal afkondig nie. Hoe werk dit?

Ek is nie nou besig om weer die debat oor die vervoerdifferensiaal oor te voer nie, maar waar was die proses van konsultasie met die mark? Daar was aan die metode van berekening ‘n verandering gemaak wat die uitkoms beïnvloed het, maar die JSE se Advieskomitee is nie daaroor geraadpleeg nie.

My pleidooi is dus dat die JSE moet besin oor die kennisperiode wat hulle die mark gee oor veranderinge wat betekenisvol afwyk van die verwagtinge. Ek is beslis ‘n voorstander dat daar verbeterings aan elke sisteem en som gemaak moet word wat tot voordeel vir die mark is, maar daar is ook ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van konsultasie en behoorlike kennis. Dan het ons ook alle rolspelers se insette nodig om al die somme te maak.

Graan SA se versoek is dat rolspelers wat nie data vir die JSE vir die berekeninge wil gee nie, ontbloot moet word dat ons almal kan weet wie hulle is. As van die rolspelers boonop ‘n monopolie is, moet die Mededingingsowerhede tog daarvan kennis neem of hoe? Dalk het dit ook tyd geword dat hierdie tipe inligting ten opsigte van watter persentasie per pad en per spoor vervoer word van elke silo by SAGIS gepubliseer word. Dan sal niemand mos verras wees as die differensiaal gepubliseer word nie.

Dit is een ding om altyd die eerste te wees om oor kospryse te kla as dit styg, maar dit is ‘n ander om self verantwoordelikheid te neem as oneffektiewe vervoersisteme die produsente ontmoedig om kos te produseer. Het ons land se spoorvervoerowerhede regtig hulle aandeel in voedselsekerheid behoorlik geanaliseer?

In die lig van die klem wat die owerhede vandag op werkskepping plaas, sal die buitengewone aanpassing in die vervoerdifferensiaal ‘n negatiewe uitwerking op werkskepping hê. Landbou is en bly die ideale sektor om werk in te skep, maar as die sektor werksgeleenthede moet verminder omdat ons land se oneffektiewe vervoerstelsel produsente penaliseer, is dit kontraproduktief. Produsente kan net aan die kostes werk waaroor hulle ‘n mate van beheer het. Arbeid se minimum vergoeding word voorgeskryf, maar nie die hoeveelheid nie.

Wat staan ons nou te doen? Een opsie is dat die differensiaal nou finaal nek omgedraai word met die uitsluitlike voorwaarde dat ons seker maak dat die inligting wat gebruik moet word om die liggingskostes te bereken, deursigtig vir almal beskikbaar is. As die groot kopers, silo-eienaars en handelaars met al die inligting gaan sit en produsente moet een-een met hulle oor die vervoerkoste onderhandel, kan daar mos net een wenner wees.

Ons moet nie aan die einde van die proses nog slegter af wees nie. Die ander opsie is om die berekening se formule en die veranderlikes daarvan te publiseer sodat niemand onkant gevang word nie.

Dan werk dit nes die invoertarief. Niemand hou daarvan om dit te betaal nie, maar dit is ‘n bekende veranderlike. Daar is wel ‘n paar aannames en jy kan ‘n berekende risiko neem.

Publication: May 2011

Section: Editorial

Search