• Login
  • Search Icon

Gebruik die Guide to machinery costs om bewerkingskoste te bepaal

August 2012

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Om die koste van ‘n bewerkingsaksie te bereken, is nie so eenvoudig nie. Daar is meer as net die dieselkoste wat in aanmerking geneem moet word. Sommige van die koste is verskuil en nie so maklik om te bepaal nie.

Twee tipes koste is ter sprake, naamlik vaste koste en veranderlike koste. Vaste koste spruit uit die besit van ‘n masjien en die veranderlike koste van masjinerie spruit uit die gebruik daarvan.

Vaste koste

Vaste koste bestaan uit ‘n nie-kontant en ‘n kontantgedeelte. Die niekontant-uitgawes sluit aspekte soos waardevermindering en rente op kapitaalbelegging in. Die rente op kapitaal word bepaal om die geleentheidskoste van die masjien aan te dui. Die kontantuitgawes van die vaste koste bestaan gewoonlik uit versekering en lisensiegelde.

Waardevermindering verwys na die verlies of afname in ‘n masjien se waarde. Die reglynige metode word algemeen gebruik om waardevermindering te bereken. Trekkers word gewoonlik oor 12 000 uur afgeskryf. Die lewensverwagtinge van die implemente verskil en word ook in die gids aangedui.

Om die rentekoste te bereken, word die gemiddelde kapitaalbelegging vermenigvuldig met die rentekoers wat op ‘n mediumtermynbelegging verdien kan word. Hierdie bedrag word deur die gemiddelde jaarlikse gebruik van die masjien, wat op 1 000 uur aanvaar word, gedeel om die koste per uur te bepaal.

Veranderlike koste

Veranderlike koste word saamgestel uit die herstel en onderhoud asook die brandstofkoste van ‘n masjien. Hierdie veranderlike koste word deur baie faktore beïnvloed, soos byvoorbeeld die vaardigheid van die bestuurder, die werktoestande, onderhoud en baie meer.

Om die herstelwerk van ‘n masjien te voorspel, is ‘n ingewikkelde proses. As ‘n norm word die herstelwerk oor die trekker se lewe op 120% van die aankoopprys van die trekker aanvaar.

Die herstelwerk van implemente word beïnvloed deur die tipe implement en sy werk wat weer die slytasie bepaal. Implementherstelwerk word net soos die van trekkers, ook as ‘n persentasie van die aankoopprys oor die lewensverwagting van die implement bereken en word in die gids aangedui.

Die berekening van brandstofkoste is baie meer ingewikkeld as die van herstelwerk. Aspekte soos die brandstofprys, drywingsvereiste, die liters gebruik per kilowatt-uur en die persentasie kilowatt gebruik, speel ‘n belangrike rol in die brandstofkoste. Ander aspekte, soos die trekkeroperateur en die grondtoestand beïnvloed die trekker se brandstofgebruik. Om hierdie veranderlikes in aanmerking te neem, word vir drie drywingsbehoeftes, naamlik hoe, medium en laag, voorsiening gemaak en dit beïnvloed die hoeveelheid brandstof gebruik.

Koste per aksie

Om die koste per aksie te bereken, is dit belangrik om beide die trekker en die implement se koste bymekaar te sit. Die trekker en die implement het beide vaste en veranderlike koste. Indien die koste nie saamgetel word nie, kan dit tot onderskatting van koste lei. Die koste kan of per uur of per hektaar bereken word.

Koste per hektaar

Om die koste per uur om te skakel na koste per hektaar, is dit belangrik om te weet hoeveel hektaar per uur bewerk word. Die hektare bewerk per uur, word deur die werkspoed van die trekker, die werkswydte van die implement en die land effektiwiteit bepaal.

Die land-effektiwiteit sal bepaal word deur die hoeveelheid kere wat die trekker moet draai, stop en wag en hoe ver die trekker op die wenakker moet ry. Hoe minder die trekker moet draai, hoe korter die tyd wat die trekker wag en hoe minder op die wenakker gery word, hoe hoër sal die effektiwiteit van die trekker wees. Al hierdie syfers word in die kostegids aangetoon.

Gebruik van Guide to machinery costs

Hierdie gids stel die produsent in staat om elke masjinerie-aksie se koste te bereken sodat besluite geneem kan word. Die gids word op gemiddelde waardes gebaseer en word onafhanklik opgestel. As daar kontrakwerk tussen produsente gedoen word, kan hierdie bron as riglyn dien om die koste te bepaal en dit kan deel uitmaak van die ooreenkoms tussen die partye.

Hierdie inligting kan ook gebruik word om begrotings mee op te stel. Dit sal daartoe bydrae dat gewasbegrotings meer akkuraat opgestel word en dat herstelwerkkoste op ‘n meer wetenskaplike wyse bereken word. Dit is tot elke produsent se beskikking en is nie moeilik om te gebruik nie.

Die Direktoraat Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye publiseer jaarliks die publikasie Guide to machinery costs, waarin die meeste masjineriekoste verskyn.

Hierdie inligting kan vanaf die Direktoraat Kommunikasiedienste by (012) 319-7141 bestel word en is ook op die internet beskikbaar. Ander bronne wat ook kostegidse vir masjinerie publiseer, is die landboubesighede, soos NWK, Senwes, GWK en VKB. Daar is ook privaatpersone wat die kostegidse publiseer, soos Koos le Roux, en hy kan gekontak word by koosleroux@absamail.co.za.

Vir enige verdere navrae, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search