November 2011
PIETMAN BOTHA, SENIOR LANDBOUNAVORSINGSKUNDIGE, GRAAN SA
Verhoging in effektiwiteit en doeltreffendheid is van die min pyle in ‘n produsent se koker om die koste van produksie so laag as moontlik te kan hou.
Produsente moet hulself teenoor norme meet om te weet hoe hul vaar. Omrede die bewerking van gewasse een van die grootste uitgawes van produksie is, maak dit die besinning oor hierdie aksie soveel belangriker.
Dit is belangrik om te weet hoeveel per dag gedoen kan word en hoeveel dit kos om dié aksies uit te voer. Net so belangrik is om te sorg dat die aksie wat geneem word, aan die vereiste wat daarvoor gestel word, sal voldoen.
Verskeie hulpmiddels bestaan waarteen produsente hulself kan meet. Een hiervan is die Guide to machinery costs wat jaarliks deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye uitgegee word.
Daar is ook talle ander publikasies wat gebruik kan word om die werkstempo’s asook die koste van aksies te bepaal of te bereken.
Die werkstempo’s is wetenskaplik gemete en bepaalde norme wat deur opgeleide landbou-ingenieurs bepaal word. Hierdie tempo’s gee ‘n baie goeie aanduiding van hoeveel per dag of per uur in ‘n spesifieke omstandigheid gedoen kan word.
Om die koste van ‘n bewerkingsaksie te bereken, is nie so eenvoudig nie. Daar is meer as net die dieselkoste wat in aanmerking geneem moet word. Sommige van die koste is verskuil en nie so maklik om te bepaal nie en daarom is dit belangrik om die kostestruktuur te verstaan voor berekeninge gedoen word. Twee tipes koste is ter sprake, naamlik vaste koste en veranderlike koste.
Vaste koste spruit uit die besit van ‘n masjien en kom voor ongeag of die masjien gebruik word of nie. Dit is soos ‘n motor se boekiewaarde wat jaarliks afneem ongeag of die motor baie of nie so baie ry nie.
Die veranderlike koste van masjinerie spruit uit die gebruik daarvan. Veranderlike koste bestaan gewoonlik uit brandstofkoste asook herstel- en onderhoudskoste wat direk met die gebruik van die masjien korreleer.
Vaste koste
Vaste koste bestaan uit ‘n nie-kontant en ‘n kontantgedeelte. Die nie-kontantuitgawes sluit aspekte soos waardevermindering en rente op kapitaalbeleggings in. Die rente op kapitaal word bepaal om die geleentheidskoste van die masjien aan te dui. Die kontantuitgawes van die vaste koste bestaan gewoonlik uit versekering en lisensiegelde.
Waardevermindering verwys na die verlies of afname in ‘n masjien se waarde. Die reglynige metode word algemeen gebruik om waardevermindering te bereken, omdat dié metode sorg dat waardevermindering in gelyke gedeeltes oor die leeftyd afgeskryf word.
Om die waardevermindering van masjinerie as koste per uur te bepaal, word die aankoopkoste minus die skrootwaarde van die masjien gedeel deur die lewensverwagting van die masjien. Die gemiddelde lewensverwagting van trekkers word gewoonlik as 12 000 uur aanvaar en die skrootwaarde van trekkers word op 10% van die koopprys aanvaar.
Waardevermindering by implemente word op presies dieselfde wyse as by trekkers bepaal. Die enigste verskil is dat die lewensverwagting van implemente van mekaar verskil. In Tabel 1 en Tabel 2 word die verskillende implemente se lewensverwagting aangedui.
Om die rentekoste te bereken, word die gemiddelde kapitaalbelegging (aankoopprys plus skrootwaarde gedeel deur 2) vermenigvuldig met die rentekoers wat op ‘n mediumtermyn-belegging verdien kan word.
Hierdie bedrag word deur die gemiddelde jaarlikse gebruik van die masjien wat op 1 000 uur aanvaar word, gedeel om die koste per uur te bepaal.
Die lisensie- en versekeringskoste van masjinerie is ‘n kontantkoste waarby die ouderdom van die masjien ‘n rol speel. Daar is verskeie maniere om lisensie- en versekeringskoste te bepaal, maar daar word algemeen aanvaar dat 2% van die gemiddelde kapitaalbelegging die algemeenste koste is.
Tabel 1:
Tabel 2:
Veranderlike koste
Veranderlike koste word saamgestel uit die herstel en onderhoud asook die brandstofkoste van ‘n masjien. Hierdie koste is baie moeilik om te voorspel omdat daar so baie faktore is wat die veranderlike koste beïnvloed. Die vaardigheid van die bestuurder, die werkstoestande, onderhoud en baie meer beïnvloed die werkverrigting en herstelwerk van ‘n trekker.
Om die herstelwerk van ‘n masjien te voorspel, is ‘n ingewikkelde proses. Hoe meer werk die trekker verrig, hoe hoër sal die verwagte herstelkoste wees. ‘n Nuwe trekker sal nie noodwendig soveel herstelwerk soos ‘n ou trekker benodig nie, bloot omdat slytasie oor tyd plaasvind.
Tog blyk dit dat herstelwerk aan ouer trekkers toeneem tot op ‘n punt en dan afplat omdat daar op ‘n gereelde basis nuwe onderdele ingesit word wat dan eers weer moet slyt voor dit vervang word. Die gebruik van ‘n gemiddelde herstelwerkkoste per uur vir die trekker los in ‘n mate die probleem op.
Tans word ‘n norm aanvaar waar die herstelwerk oor die trekker se lewe bepaal word op 120% van die aankoopprys van die trekker. In Tabel 1 en Tabel 2 word hierdie norme aangedui en gebruik.
Die herstelwerk van implemente word beïnvloed deur die tipe implement en sy werk wat weer deur slytasie bepaal word. Implementherstelwerk word net soos dié van trekkers ook as ‘n persentasie van die aankoopprys oor die lewensverwagting van die implement bereken. In Tabel 1 en Tabel 2 word hierdie norme aangetoon.
Die berekening van brandstofkoste is baie meer ingewikkeld as dié van herstelwerk. Aspekte soos die brandstofprys, drywingsvereistes, die liters gebruik per kilowatt-uur en die persentasie kilowatt gebruik, speel ‘n belangrike rol in die brandstofkoste.
Ander aspekte soos die trekkeroperateur en die grondtoestand speel ook ‘n belangrike rol in ‘n trekker se brandstofgebruik. As gevolg van dié redes word daar in die kostegids voorsiening gemaak vir drie drywingsbehoeftes by trekkers, naamlik hoë, medium en laag (afhangend van die aksie en toestande).
Die hoeveelheid brandstof gebruik sal ook deur die drywing beïnvloed word. Sekere aksies sal meer van ‘n trekker vereis as ander. Dink maar aan die verskillende vereistes wat deur ‘n ploeg en ‘n spuit aan ‘n trekker gestel word.
Koste per aksie
Om die koste per aksie te kan bereken, is dit belangrik om beide die trekker en die implement se koste bymekaar te sit.
Die trekker en die implement het beide vaste en veranderlike koste. Indien die koste nie saamgetel word nie, kan dit tot onderskatting van koste lei. Die koste kan of per uur of per hektaar bereken word. In Tabel 1 en Tabel 2 word ‘n volledige voorbeeld gegee.
Koste per hektaar
Om die koste per uur om te skakel na koste per hektaar is dit belangrik om te weet hoeveel hektaar per uur bewerk word.
Die hektare bewerk per uur word deur die werkspoed van die trekker, die werkwydte van die implement en die land-effektiwiteit bepaal.
Die land-effektiwiteit sal bepaal word deur die hoeveelheid kere wat die trekker moet draai, stop en wag en hoe ver die trekker op die wenakker moet ry. Hoe minder die trekker moet draai, hoe korter die tyd wat die trekker wag en hoe minder op die wenakker gery word, hoe hoër sal die effektiwiteit van die trekker wees.
Om die koste per uur om te skakel na koste per hektaar kan die volgende eenvoudige formule gebruik word: (R/uur) ÷ (ha/uur) = R/ha.
Om die brandstof per hektaar te bereken, kan die volgende formule gebruik word: (liter/uur) ÷ (ha/uur) = liter/ha.
Tabel 1 en Tabel 2 is opgestel deur gebruik te maak van die Guide to machinery costs. In Tabel 1 word aangetoon dat ‘n 120 kW trekker 14,5 liter diesel gebruik om ‘n hektaar te ploeg. Die totale koste om ‘n hektaar te dis behoort R265,08 te beloop. Indien die plantproses oorgeskakel word vanaf ‘n konvensionele na ‘n no-till-stelsel, gaan die plantkoste per hektaar vanaf R301 na R457 per hektaar styg.
In Tabel 2 word aangetoon dat ‘n 60 kW trekker 1,27 liter diesel gebruik om ‘n hektaar te spuit. Dieselfde 60 kW trekker behoort 2,36 liter diesel te gebruik om 1 ha kalk te strooi, terwyl dit ongeveer R122 kos om kunsmis met ‘n skoffel in te plant.
Gebruik van die Guide to machinery costs
Hierdie gids stel die produsent in staat om elke masjinerie-aksie se koste te bereken sodat besluite geneem kan word. Die gids word op gemiddelde waardes gebaseer en word onafhanklik opgestel. As daar kontrakwerk tussen produsente gedoen word, kan hierdie bron as riglyn dien om die koste teen te bepaal en kan deel uitmaak van die ooreenkoms tussen die partye.
Hierdie inligting kan ook gebruik word om begrotings mee op te stel. Dit sal daartoe bydra dat gewasbegrotings meer akkuraat opgestel word en dat herstelwerkkoste op ‘n meer wetenskaplike wyse bereken word. Dit is tot elke produsent se beskikking en is nie moeilik om te gebruik nie.
Jaarliks publiseer die Direktoraat Landbou Statistiek en Ekonomiese Analise (Departement van Landbou, Bosbou en Visserye) die publikasie Guide to machinery costs waarin die meeste masjineriekoste verskyn. Hierdie inligting kan vanaf die Direktoraat Kommunikasie Dienste by (012) 319-7141 bestel word en is ook op die internet beskikbaar.
Indien enige verdere navrae bestaan, kontak Pierre Lubbe by (012) 319-8086 of Pietman Botha by (056) 515-0924.
Publication: November 2011
Section: Input Overview