• Login
  • Search Icon

Gauteng se Bermuda-driehoek

March 2018


Beste Grootneef

Suid-Afrika het sy eie Bermuda-driehoek waar goed spoorloos verdwyn. Die gevaarte van ‘n plek is geleë tussen Brakpan, Boksburg en Benoni. Van lorries tot mense verdwyn eenvoudig in die niet. Ook empatie en padreëls waai daar by die venster uit. Ou Neef, die suiker in jou koffie en die sein uit jou foon is ook nie veilig nie.

Die paaie wat daarheen lei, is vir enige vlakte-mens van die Vrystaat een groot kraaines. ‘n Verskrikking van meer karre as pad, met die gevolg dat die verkeer drupsgewys in die spitstyd aankruie. Behalwe vir die taxi’s en ander waagmoediges wat links van die geel sperstreep resies jaag om ‘n entjie verder in te druk. 

Ou Neef, so is ek en Buurman na Gauteng om sy suster by die groot vlieghawe in Johannesburg af te haal. Ons is die oggend vroeg stad toe, met ons ID-boeke, doopseël en testament toegeknoop in die linker bo-sak. 

Was ons darem bly toe ons op die geverfde vliegtuigies op die pad afkom: Dit wat soos broodkrummels in Hansie en Grietjie se bos. Maar helaas, net soos in die storie, lok die ry vliegtuigies op die teer jou tot in die hok en verdeel dan plotseling in verskeie rigtings met drop off zones, hotelle en trosse parkeerareas. 

Buurman beveel aan dat ons ‘n boom met lekker koelte soek om te parkeer, maar die knaap agter my ry so op ons, dit lyk of hy agter óp die Isuzu wil parkeer. Ons mik en meet vir al wat stilhouplek is, maar die verkeer druk ons dwarsdeur die lughawe tot binne-in ‘n baan wat sommer net so verdeel na Johannesburg of Pretoria. Nie een van die twee was ons keuse nie, maar ons druk die bakkie se neus noorde toe in Pretoria se rigting en sien in die truspieël hoe die vlieghawe agter ons verdwyn. Dwarsdeur die hele lot sonder Buurman se suster. 

Teen dié tyd sit Buurman meestal met sy oë toe om nie vir Sodom of Gomorra raak te sien nie. Nou en dan prewel hy iets in hoog Hollands wat klink soos “hijgend hert der jacht ontkomen”. Dis nou wanneer ‘n lorrie of ‘n taxi naby ons verbyskuur.

By die eerste afdraai het ons links gewys en regs gedraai, onder deur ‘n brug en terug op ‘n snelweg vlieghawe toe. En weer kry ons die sylyn met geverfde vliegtuigies om die rigting aan te dui. Buurman se ferm standpunt was: “Bly nou in jou baan al gaan jy ook staan.” Ons laat ons deur niemand van koers af boelie nie en haastige jafels moet maar om ons jaag. Die keer spoeg die verkeer ons uit op ‘n brug vir baie siek mense. Ons sien eers Terminaal A en toe Terminaal B. Ons kruie stadig verby en verkyk ons aan al die vreemdes met tasse en trollies. 

Ou Neef, maar wat ‘n mooi gesig begroet ons toe nie! Buurman se sus met ‘n rooi rok en ‘n beblomde hoed, hande op die heupe en ‘n voet wat op die teer tik, die ene ongeduld oor ons wat haar laat wag. Ons druk sonder meer die Isuzu se neus op die sypad en parkeer ‘n halfdosyn Gautengers vas. Buurman druk sy sus dat haar hoed skuins sit en laai haar saam met hom op die voorste sitplek. Die suitcase met ‘n handle with care-plakker word staangemaak agterop die bakkie. Teen dié tyd het ‘n verkeersowerste met ‘n pienk boek met lang hale aangekom en beduie dat ons die wiele moet laat rol.

Met Buurman en sy sus veilig in die bakkie, vat ons sommer kortpad bo-oor die sypad om in ‘n groter baan te kom. Toe waai die spietkop éérs vir ons. Maar ons is deur ‘n tonnel en onder deur ‘n brug uit die drukgang, met Buurman wat ons aanmoedig met ‘n 
“hou 90 en hou links”.

Die pad terug Vrystaat toe was kort met Buurman se sus wat vertel het wat sy op haar reis gesien en beleef het. Met die laaste tolhek agter ons kon ons weer begin asemhaal, want die wye vlaktes het voor ons gestrek.

Ou Neef, maar toe ons die middag by Buurman se opstal stilhou, maak ons die ontdekking dat sy sus se tas skoonveld was. Herverdeel van die bakkie tot in die niet van Gauteng se Bermuda-driehoek van Brakpan, Boksburg en Benoni.

Ou Neef, daardie middag lees ek in die Volk se blad dat beide Grace Mugabe en Charlize Theron uit Benoni se geweste is. Ek kon geen simboliek uit dié toeval raaklees nie. Behalwe dat die plaaslike driehoek dalk ook vir hul te veel geraak het en hul toe verkas het – die een na Zimbabwe toe en die ander een tot in Hollywood.

Groete op die Oosgrens.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Publication: March 2018

Section: Features

Search