• Login
  • Search Icon

Finansies van wisselboustelsels in die midde-Swartland ontleed

November 2018

CONRAD BASSON, meestersgraadstudent by Universiteit van Stellenbosch, DR WILLEM HOFFMANN, landbou-ekonoom, Universiteit van Stellenbosch, DR JOHANN STRAUSS, senior navorser: Plantproduksiestelsels, Wes-Kaapse Departement van Landbou en PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Koringmonokultuur was vir lank die dominante stelsel in die Swartland. Die destydse Koringraad was veral sterk en kon koringproduksie grootliks steun, maar sedert die ontbinding van die bemarkingsrade het ander gewasse in gewildheid toegeneem. 

Die gevolg is dat die area onder koring sedert die middel 1990’s afgeneem het en ander gewasse in wisselboustelsels saam met koring ingesluit is. Die gewasse sluit in kanola, lupiene, hawer, gars (tot ’n kleiner mate) en weidingsgewasse soos medics en klawer. 

Ten spyte van die afname in die area onder koring, is die koringproduksie in die Swartland relatief konstant, wat toegeskryf kan word aan wisselboupraktyke, beter bewerkingspraktyke en tegnologiese vooruitgang met kultivars en meganisasie. 

Kanola is in die 1980’s in Suid-Afrika bekend gestel, hoofsaaklik as wisselbougewas saam met koring. As wisselbougewas bied kanola bekende voordele – veral wat onkruidbestuur betref. Dit maak dit dus nie net moontlik nie, maar ook aantreklik om kanola in kleingraangewasstelsels in te sluit. 

Bykomende voordele van kanola sluit in:

  • Verhoogde opbrengs in ’n daaropvolgende koringaanplanting.
  • Verlaging in siektedruk.
  • Verbeterde wortelstelsel vir opvolggewasse (deurlugting en organiese materiaalinhoud verbeter).
  • Meer doeltreffende benutting van masjinerie.
  • Beter verspreiding van finansiële risiko.

Kanola as wisselbougewas kan egter slegs een keer in vier jaar op dieselfde grond verbou word weens die risiko van grondgedraagte siektes. Daar is steeds risiko in terme van slakke – veral in die vroeë groeistadium, maar die uitdaging behoort oor tyd bestuurbaar te wees. 

Medics en klawer as weidingsgewasse is goed in die Swartland-omgewing aangepas en dra weens die stikstofbinding by tot grondvrugbaarheid vir opvolggewasse. As weidingsgewas vaar die medics en klawersoorte uitstekend weens die hoë proteïeninhoud in die groen groeiende plante, sowel as die sade wat die kleinvee in die warm, droë somermaande kan benut. 

Medics is goed aangepas vir goedgedreineerde klei-tipe gronde, terwyl die klawersoorte weer die natter kolle kan akkommodeer. Die kombinasie van medics/klawer-weidings is daarom ’n goeie weidingsgewas vir die Swartland-area. Met goeie bestuur kan medics en klawer vir ’n hele aantal jare self hervestig.

Ten einde die verskillende kombinasies van gewasse in wisselboustelsels te evalueer, is langtermynwisselbouproewe op die Langgewens-proefplaas in die midde-Swartland sedert 1996 uitgevoer. Die proewe bestaan uit vier kontantgewasstelsels en vier stelsels wat weidingsgewasse insluit. 

Die bestuur van die proewe word so na as moontlik aan die produksiepraktyke in die omgewing gedoen en daar word jaarliks voor die aanvang van die produksieseisoen konsultasies met produsente en ander rolspelers gehou om beste praktyke vir implementering te bespreek. 

Kontantgewasstelsels 

  • Stelsel A: Koring, koring, koring en koring. Die stelsel is basies ’n koringmonokultuurstelsel en dien as kontrole vir die wisselbouproewe. 
  • Stelsel B: Kanola, koring, koring en koring. In die stelsel dien kanola as alternatiewe gewas elke vier jaar, met gepaardgaande voordele – soos vroeër bespreek. 
  • Stelsel C: Koring, kanola, koring en lupiene. In die stelsel word koring elke jaar afgewissel met ’n breëblaargewas, waarvan een ’n stikstofbinder is. 
  • Stelsel D: Koring, koring, lupiene en kanola. Dieselfde gewasse as in stelsel C, maar met variasie in die opeenvolging van die gewasse. 

Kontantgewas/weidingstelsels

  • Stelsel E: Koring, medics, koring en medics. Die stelsel simuleer ’n situasie waar die helfte van ’n boerdery onder weiding (medics) is en skape word aangehou op die medics-kampe. Die ras is Dohne Merino, wat vleis-/wolskape is. Die medics dien ook as stikstofbinder. 
  • Stelsel F: Koring, medics/klawer, koring, medics/klawer. Dieselfde opeenvolging as stelsel E, maar met klawer as deel van die weidingsmengsel om voorsiening te maak vir die natter kolle op lande. 
  • Stelsel G: Medics, koring, medics en kanola. In die stelsel word kanola in een jaar ingesluit in die plek van die ekstra koringjaar vir die potensiële voordele – soos reeds genoem. Dit is dus die enigste stelsel wat op ’n stelsel werk wat minder as 50%-oppervlakte onder koring insluit. 
  • Stelsel H: Koring, medics/klawer, koring en medics/klawer (met oumansoutbos). Dit is dieselfde as stelsel F. Die oumansoutbos, alhoewel dit deel van die oppervlak beslaan, laat toe dat skaap nie met die aanvang van die seisoen op die medics/klawer-weidings wei nie en die weiding kan ordentlik vestig voor daar weidingsdruk plaasvind. Dit verbeter die drakrag van die weidings. 

Die insluiting van weiding is belangrik, aangesien dit die tipiese boerdery in die omgewing akkurater simuleer. Dohne Merino’s is ’n belangrike diversifiseringshulpmiddel – met wol en vleis, terwyl die inbring van weidingsgewasse in die graanstelsel belangrik is. Dit is ook belangrik om daarop te let dat vee en grond onderskeidelik die enigste items op die balansstaat is wat oor tyd appresieer. 

Data wat in die proewe opgeneem word, word noukeurig gedoen en sluit alle aspekte van produksiestelsels in. Die volgende aspekte word gedokumenteer: 

  • Fisiese inligting: Jaar, kampnommer, gewas, gewasstelsel, fase in die be­trokke stelsel, insethoeveelhede, da­tums van toediening en opbrengs. 
  • Aktiwiteite: Alle aktiwiteite wat betrok­ke is by die gewasverbouingspraktyke, soos grondvoorbereiding, plant, spuit, bemesting, oes en weg­ry. Trek­kergrootte en datums word ook aangeteken. 
  • Finansiële inligting: Produksiekoste en inkomste geassosieer met elke kamp, gewas en stelsel. Elke aktiwiteit sluit ’n fisiese kostekomponent, byvoorbeeld saad en ’n meganisasiekompo­nent in, wat die gepaardgaande aktiwiteit met die trekker en planter se loopkoste insluit. Produkpryse en gradering word ook noukeurig gedokumenteer. 

Die proewe word reeds sedert 1996 gedoen, maar aangesien daar sedert 2002 van bewaringsboerderypraktyke gebruik gemaak word, is slegs die resultate van 2002 en later in ag geneem. 

Een positiewe uitkoms is die effek van voorafgaande gewasse op koringopbrengs wat in die daaropvolgende jaar op dieselfde kamp geproduseer word. Aangesien koringproduksie steeds aansienlik belangrik in die Swartland is, is hierdie effek noemenswaardig. Die koringopbrengs is in Tabel 1 vir die tydperk 2002 tot 2015 aangebring.

Wat vanuit Grafiek 1 waarneembaar is, is dat koringmonokultuur oor tyd, wat bruto marge betref, deur al die wisselboustelsels geklop word. Die kontantgewasstelsel met die beste prestasie is stelsel B – met een jaar kanola en drie jaar koring. 

Lupiene het ’n positiewe impak op koringproduksie, maar die lupienefase opsigself is nie winsgewend nie, weens lae pryse in die mark. Die stelsel met weidings vaar oor die langer termyn besonder goed, alhoewel die kontantgewasstelsels hulle in goeie jare, gemeet aan reënvalverspreiding, klop. 

Elke produsent sal, gegewe sy hulpbron en sy doelwitte, sy eie stelsel moet bepaal. Veepryse sal ook die winsgewendheid van die stelsel tot ’n groot mate beïnvloed. 

Vir meer inligting, kontak dr Willem Hoffmann by 021 808 3411.

Publication: November 2018

Section: On farm level

Search