September 2014
KOOS LE ROUX, SA Graan/Grain medewerker
Volgens verskeie artikels in landboutydskrifte, het die produksie van sojabone vanaf 135 000 ha in 2004 tot 480 000 ha in 2012 gegroei. Daar word ook bereken dat, met die nuwe persaanlegte vir oliesaad wat aangebou is en nog beplan word, die oppervlakte van sojabone kan verdubbel.
Ook vanuit bewaringsboerderygeledere gaan daar steeds meer stemme op wat sojabone beskou as die ideale gewas vir wisselbou saam met mielies. Die onderwerp van ‘n lesing wat vroeg in September vanjaar in KwaZulu-Natal gehou word, is: “Breek deur die 6 ton-hindernis in opbrengs van sojaboonproduksie. Is dit prakties en ekonomies uitvoerbaar?”
Dit in ag genome, tesame met ‘n laer mielieprys, moet daar verwag word dat sojaboonaanplantings opmerklik kan verhoog. In hierdie artikel word ‘n paar faktore genoem wat ‘n invloed kan uitoefen op stroperkapasiteit – dit is veral noodsaaklik om seker te maak of die bestaande stroperkapasiteit voldoende sal wees om die groter oppervlakte op ‘n plaas doeltreffend te hanteer.
Tydsbeperking op strooptye
Sojabone behoort gestroop te word wanneer die voginhoud tussen 13% en 14% is. As die voginhoud laer as 12% daal, kan baie gesplete pitte asook vergruising gedurende die dorsproses voorkom. Meer peule wat oopspring as die voginhoud te laag daal, kan ook groot verliese veroorsaak.
Verlengde strooptyd met verskillende sojaboonkultivars
Die belangrikste inligting wat in ag geneem moet word ten opsigte van kultivarkeuse, is die lengte van die groeiseisoen. Sojabone is gevoelig vir daglengte en ‘n gegewe kultivar sal later ryp word hoe verder suid in Suid-Afrika dit geplant word. Om dieselfde rede sal die plantdatum ook die lengte van die groeiseisoen beïnvloed en sal ‘n gegewe kultivar heelwat gouer blom by ‘n later plantdatum. Heersende temperature (veral nagtemperature) het ook ‘n invloed, daarom groei sojabone heelwat stadiger op die Hoëveld in vergelyking met die warmer Laeveld.
Hierdie inligting kan met vrug deur produsente gebruik word om 'n langer strooptyd te verkry deur kultivars te plant met verskillende rypworddatums. Dit sal vir produsente voordelig wees om sojaboonkultivaraanbevelings van die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) te bestudeer en/of hulle saadverskaffer hieroor te raadpleeg.
Peul- en planthoogte
Peul- en planthoogte beïnvloed die stroopbaarheid van sojabone. Oor die algemeen is daar ‘n verband tussen peul- en planthoogte en die relatiewe lengte van die groeiseisoen. Sogenaamde kort groeiseisoen-kultivars het gewoonlik ‘n laer peul- en planthoogte as lang groeiseisoen-kultivars.
Beide eienskappe word ook deur produksiepraktyke beïnvloed. 'n Nouer tussenry- en binneryspasiëring sal peulhoogte betekenisvol verhoog. Sodoende vergemaklik dit die stroopproses. Die aanbeveling vir plantpopulasie is tussen 300 000 en 400 000 plante per hektaar.
Weerstand teen die oopspring van peule
Hierdie eienskap van ‘n kultivar kan ‘n belangrike rol speel tydens ongunstige toestande met die stroop van sojabone, omdat dit verliese aansienlik kan verminder.
Kort of vinnige kultivars het die grootste risiko vir oopspring, terwyl langer groeiende kultivars die minste daardeur geraak word. Weer eens is dit raadsaam om kennis te neem van die evaluering van die LNR-IGG ten opsigte van die oopspring van verskillende kultivars.
Verliese wat tydens stroop voorkom
Wanneer daar oor stroperkapasiteit besin word, is dit nodig om verliese tydens die stroopproses in ag te neem. Tydens die stroop van sojabone kan pitverlies so hoog soos 20% wees indien die operateur nie behoorlik aandag gee aan die instelling en werking van die stroper nie.
Sojaboonverliese kan in die volgende kategorieë ingedeel word:
Vooroesverliese
Dit is saad wat van reeds oopgespringde peule op die grond lê en ook saad wat in die peule sit waarvan die plante reeds op die grond omgeval het.
Insamelingsverliese
Dit behels alle peule wat nog vas is aan plante tydens stroop, maarnooit in die stroper beland nie. Die meeste verliese kom juis in hierdie kategorie voor.
Drom- en silinderverliese
Dit is saad wat deur die stroper beweeg, maar in die peul bly. Dit word dus nie gedors nie.
Skeidingsverliese
Hier word verwys na gedorste bone wat saam met die kaf weer op die land beland. Om die totaal van dié verliese so laag as moontlik te hou, moet die instelling van die stroper behoorlik gedoen word en gedurende die stroopperiode behoort aanpassings gemaak te word soos toe stande verander.
Wat sê die kenners?
Die eerste aanbeveling wat gemaak word om die stropery glad te laat verloop en om die kapasiteit te verhoog, is om van ‘n flexi-strooptafel gebruik te maak. Die voordeel is dat die snybalk die kontoer van die land kan volg en die sojabone baie nader aan die grond kan afsny.
Dit verseker dat selfs peule wat laag gedra word, so versamel kan word. Afhangende van die opbrengs, kan daar met ‘n flexi-tafel tussen 5 km/h en 7 km/h gestroop word.
Die sogenaamde flexi draper-strooptafel gebruik bande om die afgesnyde sojabone in die stroper in te beweeg. Hierdie aksie is baie sagter en verliese by die strooptafel is minder. Dit is egter heelwat duurder om aan te koop. Voor strooptyd moet daar veral aandag aan die snybalk gegee word. Maak seker dat die lemme skerp is en vervang geslyte lemme met nuwes. Die lembeskermers moet vas en in ‘n goeie toestand wees. Die hoog teverstelling van die flexi-tafel moet behoorlik funksioneer. Die spoed van die lem (waar dit ‘n vaste spoed het) het ‘n beperking op die voorwaartse spoed van die stroper. Wanneer daar te vinnig gery word, word die sojaboonplante nie behoorlik afgesny nie en plat gedruk; groot verliese kan hier voorkom.
‘n Ander wenk wat gegee word, is dat die spoed van die riel ongeveer 10% tot 20% vinniger moet wees as die stroper se voorwaartse spoed sodat plante effens oorgedruk word en makliker afgesny word.
Twee gevallestudies
Geval 1: ‘n Boerdery op die Hoëveld en droëlandsojabone
Die produsent plant tans 1 500 ha sojabone en dit word met twee stropers wat met flexi-tafels toegerus is, gestroop.
Hy gebruik ‘n pakket van kultivars wat bestaan uit kort, medium en lang groeiers. Die kort groeiers word eerste aangeplant, waarna die ander volg.
Die voginhoud van die sojabone speel ‘n belangrike rol omdat die silo’s nie sojabone inneem waarvan die voginhoud hoër as 13% is nie. Die kort groeiers is gewoonlik in Maart gereed om te stroop. Soos die verskillende sojaboonlande gereed word, word dit gestroop.
Die spoed waarteen gestroop word, wissel van 5,5 km/h tot 7 km/h. Dit is egter nodig om gedurig die toestande en ook die dorsmonsters dop te hou. As dit nodig is – byvoorbeeld in die geval van te veel gesplete pitte of gruis – moet verstellings gemaak word. Die spoed moet ook laer afgestel word as sojabone ‘n vlak van onder 12% vog bereik.
Sy langtermyn-opbrengs is 1,5 ton/ha en met die twee stropers in ‘n goeie toestand, kan hy tot 80 ha per dag stroop.
Geval 2: ‘n Boerdery in die Laeveld en sojabone onder besproeiing geplant
Daar word 300 ha sojabone aangeplant, gestroop met een stroper wat toegerus is met 'n flexi-tafel. Wat veral vir hierdie boerdery belangrik is, is dat die landoppervlakte baie gelyk moet wees sodat die flexi-tafel later sonder probleme oor die land kan beweeg. Hulle sal soms die land voor planttyd gelyk sleep met ‘n doelgemaakte implement.
Ook hier word ‘n pakket van kultivars aangeplant met die kort groeiers eerste. Die kort groeiers is gewoonlik ook in Maart gereed om gestroop te word, wanneer die voginhoud ongeveer 13% is.
Hulle langtermyn-opbrengs is 4,5 ton/ha en die stroperspoed is tussen 4,5 km/h en 5 km/h. Met ‘n 9 m (30 voet) flexi-tafel kan hulle tussen ongeveer 20 ha en 25 ha per dag stroop.
'n Eienskap van sekere kultivars is dat wanneer die peule reeds gereed is om gestroop te word is, die plantstam nog groen. In sulke gevalle is dit nodig om die stroopspoed heelwat af te bring om verstoppings te verhoed. Hierdie produsent meen dat dit ‘n fout is om te beweer dat bemesting by sojabone nie nodig is nie. Hulle kry heelwat beter resultate met bemesting.
Kontrakteurs
Stroopkontrakteurs kan gebruik word om vergrote sojaboonaanplantings te stroop. Omdat die stroopperiode van sojabone, soos hierbo aangedui, baie kort kan wees, moet seker gemaak word dat die kontrakteur op die regte dag op die plaas is.
Kontrakteurs wil natuurlik soveel as moontlik hektaar per dag stroop; daarom is dit nodig om seker te maak dat verliese, soos elders genoem, nie te buitensporig is nie. Stroperspoed moet veral gekontroleer word.
Riglyne uit die Meganisasiegids
Die 2014 Meganisasiegids van JP le Roux gee ‘n aanduiding van die hoeveelheid hektaar wat met verskillende flexi-tafels per 10-uurdag gestroop kan word.
In Tabel 1 word die werkstempo’s van flexi-tafels van 6,1 m tot 12 m met twee doeltreffendhede aangetoon.
Jy kán seker wees
Met deeglike beplanning, veral wat aanplantings betref, kan jy seker maak of jou bestaande stroopkapasiteit voldoende sal wees vir vergrote aanplantings; óf ‘n nuwe stroper aangekoop moet word; en óf jy van kontrakteurs gebruik moet maak.
Publication: September 2014
Section: On farm level