February 2019
Die pryse van speenkalwers, ou koeie en slagbeeste het die afgelope jaar sywaarts beweeg. Heelwat ontleders, soos Absa en die vleispryse van mnr Chris Derksen, ondersteun dié stelling. Soos in die meeste landboubedrywe is die beesbedryf ook prysnemers.
Dit veroorsaak dat dit vir produsente ’n uitdaging bly om aan te hou produseer. Produsente moet seker maak dat effektiwiteit en doeltreffendheid hoog is – en dan bly winste nog steeds onder druk.
Ten einde die winsgewendheid te verhoog, moet óf meer verkoop word óf die prys waarteen verkoop word, verhoog word. Beter bemarking vereis meer aandag, maar weens die sikliese aard van produksie, is dit ’n enorme uitdaging om die groot aanbod van vee op sekere tye vry te spring.
Verskillende stelsels en winsgewendheid
Ongeag van watter produksiestelsel vee in geproduseer word, die winsgewendheid van die verskillende stelsels verskil nie veel nie. In Tabel 1 word die verskillende beesproduksiestelsels aangedui.
Gegewe hierdie inligting is dit duidelik dat die winsgewendheid per stelsel, behalwe wat die 36 maande-stelsel betref, nie veel van mekaar verskil nie. Ons kan daaruit aflei dat die stelsel waarbinne geboer word, die winste nie noodwendig dramaties beïnvloed nie.
Daar is egter ander fasette van boerdery wat ’n groter impak op winsgewendheid het as wat ’n mens besef. Produsente vergeet hiervan en uiteindelik kan dit die beesvertakking se winsgewendheid dramaties verlaag.
Hier volg ’n lys van die basiese faktore wat in plek moet wees en in plek gehou moet word:
Bestuur jou hulpbronne fyn
Die eerste faktor wat ’n groot rol speel, is om binne die boerdery se natuurlike hulpbronne te bly produseer. Met die opstel van die begroting moet daar as standaard een baal hooi per dier in die winter ingereken word. Dit beteken dat daar vir een maand hooi verskaf moet word. Sodra hierdie voerperiode na twee maande verleng word, is die winsgewendheid wesenlik onder druk. In Grafiek 1 word die effek van een ekstra baal hooi per dier getoon.
Grafiek 1 mag dalk effe skeef getrek word, omdat die hoeveelheid grootvee-eenhede (GVE) wat nou gedra word, meer mag wees. Dit kan opmaak vir die hoër produksiekoste.
Vergewis jouself van hoeveel diere jou natuurlike hulpbron kan dra. Stel vir jou ’n goed deurdagte voervloeiprogram op en bestuur die tekorte in dié program met aangekoopte of opgebergde voer.
Die bestuur van aangeplante weiding is net so belangrik. Bemes die aangeplante weiding volgens die potensiaal van die gewas. Die duimreël is dat 1 ton droë materiaal per hektaar ongeveer 100 mm reën benodig. Verder produseer groeiende diere 1 kg vleis per hektaar per millimeter reën.
Indien aangeplante weiding gesny, gebaal en verwyder word, kan die volgende onttrekkingsyfers gebruik word:
Grond-pH en ontledings bly die basis waarvolgens bemes moet word. Praat met jou kunsmisverteenwoordiger om te besluit wat die beste vir jou boerdery sal wees. Die algemeen aanvaarde norm is om eerder ’n gedeelte té veel te bemes as om die hele oppervlakte net gedeeltelik te bemes. Onthou net dat as die aangeplante weiding bewei word, die bemesting wat benodig word dramaties van die norm verskil.
Rus van natuurlike weiding is belangrik. Navorsing wat op Nooitgedacht Landbou-ontwikkelingsentrum gedoen is, het bewys dat weiding wat ’n volle groeiseisoen gerus het, se produksie die daaropvolgende jaar dubbel dié van geweide weiding is. Dit maak dus sin om weiding in die winter te rus, te benut en dan weer die volgende seisoen te benut.
Mortaliteitsbestuur
Produsente mag dalk dink dat enting nie die moeite en koste werd is nie. Dit is mos net nog ’n kalf wat vrek. In Grafiek 2 word die effek van verskillende kalfmortaliteitspersentasies geïllustreer. Die aanname word gemaak dat die produsente met die 3,5% mortaliteitspersentasie alle entings doen, terwyl die ander geen entings doen nie.
Onthou: Alle entings word nie noodwendig in die mortaliteit weerspieël nie, maar ’n groot persentasie in die kalfpersentasie gereflekteer.
Grafiek 2 illustreer dat die produksiewaarde tussen 3,5% mortaliteit en 15% mortaliteit ongeveer R400 is terwyl die besparing in kostes ongeveer R117 is. Dit maak nie sin om entings nie te doen nie. Praat met ’n veearts in jou gebied om die regte entings vir jou area te kry.
Hoë kalfpersentasies is ononderhandelbaar
Kalwers is die kommoditeit wat in ’n speenkalfstelsel verkoop word. Hoe meer doeltreffend en effektief jy as produsent is, hoe meer kalwers sal beskikbaar wees om verkoop te word. In Grafiek 3 is die effek van verskillende kalfpersentasies aangebring.
Dit bewys dat produsente alles in hul vermoë moet doen om soveel as moontlik kalwers tot op bemarkingsvlak te produseer. Jy as produsent moet dus sorg dat daar ten alle tye genoeg weiding beskikbaar is, dat die regte lekke en voer betyds gevoer word, die entings tydig gedoen word en die bulle in staat is om hul werk te doen – om net ’n paar faktore te noem.
Swaarder kalwers bring meer geld in. ’n 10%-verandering in kalfmassa met verkoop het ’n dramatiese invloed op die uiteindelike winsgewendheid. Uit berekeninge wat gedoen is deur net die speenmassas met 10% te verhoog, het die inkomste vir die stelsel met ongeveer R200 per GVE verhoog. Doen alles in jou vermoë om die kalwers so swaar as moontlik te kry en dat die gemiddelde daaglikse toename (GDT) van die kalwers die beste is wat dit kan wees.
Gegewe die verwagting dat die pryse dalk vir die komende seisoen relatief sywaarts kan beweeg, sal produsente moet klem lê op die effektiwiteit en doeltreffendheid van produksie. Doen moeite om jouself te evalueer en te vergelyk met ander produsente. Op dié manier kan jy die winsgewendheid van jou boerdery verhoog.
Publication: February 2019
Section: On farm level