• Login
  • Search Icon

Effektiewe gebruik en mengbaarheid van agrochemiese middels

November 2014

ELBÉ HUGO en MARLENE VAN DER WALT, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

image

Die nuwe plantseisoen lê voor die deur en die meeste produsente het reeds die nodige agrochemiese middels (insekdoders, onkruiddoders, swamdoders en addisionele bymiddels) aangekoop.

Nou staan die gifstore op plase vol kanne, sommiges in verskillende kleure en ander weer met verskillende kleur proppe. Die effektiwiteit van al hierdie produkte gaan egter hoofsaaklik afhang van die regte toediening daarvan om suksesvolle resultate te verkry.

Miskien is dit dalk vir sekere produsente ‘n kopseer om na al hierdie kanne te kyk en oorweldig te voel deur die vooruitsig om weer eens ‘n seisoen af te skop met produkte wat dalk vir die eerste keer gebruik gaan word of van bekende produkte wat verlede seisoen nie die gewenste resultate gelewer het nie.

In hierdie artikel wil ons poog om ‘n paar goue wenke/reëls te gee oor die suksesvolle gebruik en toediening van agrochemiese middels, veral met die klem op onkruiddoders.

Keuse van produkte

Die eerste goue reël wat ‘n spuitprogram met vlieënde vaandels kan laat slaag, of kan kelder met oneffektiewe beheerresultate, is die keuse van produkte. Tans is daar nie nuwe aktiewe bestanddele wat vrygestel word vir die beheer van onkruide in mielies nie, maar daar is wel elke seisoen nuwe produkte (van ou aktiewe bestanddele) of nuwe mengsels op die mark.

Produsente moet egter ingeligte besluite neem oor produkte en presies weet wat in die kan is, watter onkruide die produk gaan beheer en waarmee die produk gemeng kan (of moet) word om die onkruidspektrum moontlik te verbreed of om effektiwiteit te verseker. Die besluit of ‘n produk gekoop gaan word al dan nie, is verseker ‘n ekonomiese besluit, maar goedkoop koop, is nie noodwendig die beste koop nie.

Hou maar by erkende, beproefde produkte wat gerugsteun word deur die maatskappy wat dit verkoop, sodat jy as produsent die versekering het dat ‘n diens gelewer sal word met die aankoop van so ‘n produk.

image

Mengbaarheid

Die tweede goue reël is dat nie alle agrochemiese middels met mekaar gemeng kan word nie en dat nie alle generiese produkte presies dieselfde is as die oorspronklike eweknieë nie. Die rede hiervoor is dat alhoewel die aktiewe bestanddeel(e) binne-in 'n generiese produk dieselfde behoort te wees, die formulering (hoe die produk “aanmekaar gesit is”) wel verskil en dit kan die mengbaarheid en die effektiwiteit van so ‘n produk beïnvloed.

Daar is egter goed geformuleerde, generiese produkte op die mark wat effektiewe beheer van onkruide kan gee en dieselfde geld hier ten opsigte van die diens, nasorg en/of opvolgaksies wat saam met die produk verkoop word.

Effektiewe toediening

‘n Derde goue reël, en een wat die meeste gewig dra, is die effektiewe toediening van 'n agrochemiese middel. ‘n Maatskappy kan ‘n produk hoe goed formuleer en meng, maar wanneer dit nie reg toegedien word nie, beteken die produk niks vir die produsent nie.

Korrekte toediening sluit onder meer die korrekte dosis, effektiewe tenkmengsel(s) met ander produkte, korrekte apparaat en kalibrasie volgens dosis(se) op die etiket (aanbevole dosisse) in.

Korrekte toediening sluit ook die regte tyd van toediening in. Lees die produketiket sorgvuldig deur om presies te bepaal wanneer die produk toegedien moet word en wanneer dit die mees effektiewe beheer gaan verskaf. Dit kan wel onkruidspesiespesifiek wees en produsente moet bedag wees daarop dat moeilik beheerbare onkruide spesifieke riglyne of vereistes het ten opsigte van groeistadiums en/of dosisaanbevelings.

Belangrik om te onthou

Die impak wat ‘n tenkmengsel van agrochemiese middels op gewasproduksie het, word meestal deur produsente onderskat. Daar is 'n magdom saadbehandelings, onkruiddoders, insekdoders, swamdoders, nematosiede en dan ook nog plantgroeireguleerders op die mark wat produsente kan gebruik.

Die mengbaarheid van hierdie produkte moet egter streng volgens registrasievoorskrifte geskied. Dit beteken dat elke produketiket 'n afdeling bevat waar “Mengbaarheid/Mixing instructions” aangespreek word en dat agrochemiese middels nie lukraak met mekaar gemeng kan word nie.

Die effek en impak van ‘n tenkmengsel is ook gewoonlik nie dadelik sigbaar nie, maar eers aan die einde van ‘n seisoen wanneer geoes word, of selfs eers die volgende seisoen waar agrochemiese middels dalk ‘n lang nawerking het en daar steeds residue in die grond agtergebly het.

Wanneer middels net lukraak gemeng word, kan dit die onderskeie produkte se werking óf inhibeer óf verhoog, wat kan lei tot gewasskade, en/of oneffektiewe beheer word ondervind. Dit is dus nie die produkte wat foutief is nie, maar die tenkmengsel.

Verder speel die sogenaamde hardheid en pH van water ook ‘n baie groot rol wanneer middels met mekaar gemeng word. Wanneer “harde water” (‘n aanduiding van onder meer CaCO3 in die water) of water met ‘n té lae pH (<4) gebruik word om agrochemiese middels te meng, kan die aktiewe bestanddele uitsak (presipiteer), ‘n emulsie vorm (jellieagtige vloeistof) of aan ander molekules bind en nie in oplossing gaan nie. Die regte aktiewe bestanddeel is dan nie beskikbaar om sy werk te doen nie.

Daar is ook ‘n definitiewe volgorde waarin agrochemiese middels in ‘n tenkmengsel gemeng moet word. Heel eerste moet die water reggestel word.

Wanneer die pH te laag is, moet daar eerste ‘n buffer in die tenkwater gegooi word. Daarna kan ‘n produk soos ammoniumsulfaat bygevoeg word (indien nodig en soos voorgeskryf deur die produk se etiket) om harde water reg te stel.

Die formulering (wat ook ‘n indikasie is van die oplosbaarheid van ‘n produk in water) van agrochemiese middels speel ook ‘n rol in die mengbaarheid van produkte. Dit word op die etiket of soms in die naam van ‘n produk aangedui, soos byvoorbeeld Roundup PowerMax™ wat ‘n oplosbare konsentraat (SL) is, of Guardian S® EC wat aandui dat dit ‘n emulgeerbare konsentraat is.

Die korrekte volgorde van sekere formulerings is soos volg: WG>GR>WP>SC>CS>EC>SL. Moet ook nooit troebel water in ‘n tenkmengsel gebruik nie, water moet helder wees sonder enige afvalstukkies in.

Wanneer die produk in die tenkwater gemeng moet word, is dit raadsaam om eers die produk op te los in ‘n bietjie water en dan met die res van die tenkwater (wat klaar voorberei is) te meng, veral waar die produk in ‘n korrelformulering is.

Sekere insekdoders kan met sukses (en volgens registrasie) met onkruiddoders gemeng word, maar swamdoders is as ‘n reël nie mengbaar met onkruiddoders nie. Byvoeging van enige ander produkte, soos byvoorbeeld groeireguleerders en bymiddels (penetreerders en benatters) moet met groot omsigtigheid hanteer word.

Slegs geregistreerde, aanbevole produkte met aanduidings op hulle etikette (menginstruksies) moet gebruik word. Produsente kan hulle vingers lelik verbrand deur lukraak sommer enige middels met agro chemiese produkte te meng.

Vir verdere navrae, kontak Elbé Hugo by 018 299 6298 of HugoE@arc.agric.za.

Publication: November 2014

Section: On farm level

Search