• Login
  • Search Icon

Droogtes beperk wereldgraanproduksie

October 2012

– Gaan die komende 2012/2013-somerreënvalseisoen steeds droog wees?

image

REINHARD KUSCHKE, PORTEFEULJEBESTUURDER: LANDBOUPRODUKSIE, ABSA VERSEKERINGSMAATSKAPPY; DAWID SNYMAN, SENIOR INLIGTINGSPESIALIS: AGRIBESIGHEID, ABSA KLEINHANDELS- EN BESIGHEIDS - BANKDIENSTE EN JOHAN MALHERBE, NAVORSER: INSTITUUT VIR GROND, KLIMAAT EN WATER, LANDBOUNAVORSINGSRAAD

Die afgelope paar jaar, veral sedert 2008, was ‘n tydperk waartydens die gemiddelde jaarlikse mielie-opbrengs in Suid-Afrika dié van alle tye in die verlede oorskry het.

Terwyl daar geen twyfel bestaan oor die bydrae van gewasverbeterings en verbeterde tegnologie wat deur die kommersiële landbousektor ingespan word nie, moet daar ook opgelet word dat seisoenale reënval oor die gewasproduserende gebiede in die somerreënvalstreek gedurende die seisoene 2007/2008 tot 2010/20011 heelwat bo normaal was.

Gedurende die 2011/2012-seisoen, waartydens ondernormale reënval vir die eerste keer sedert 2008 oor wydverspreide dele voorgekom het, het groot gebiede steeds baat gevind by oordragvog uit die nat 2008 tot 2011-tydperk.

Graanproduksie op globale skaal het ook onder druk gekom hoofsaaklik weens die mislukking van die Amerikaanse mielie-oes. Die gevolglike effek hiervan word duidelik weerspieël in die beweging van graanpryse.

Die primêre oorsaak van die afname in produksie, plaaslik en internasionaal, is gedryf deur gebrekkige reënval in die onderskeie streke. Met die aanvang van ‘n nuwe plantseisoen, moet ons die komende seisoen sien in die konteks van die sikliesiteit van enkele waarneembare weerselemente.

Oorsig van die afgelope plaaslike seisoen

Die afgelope seisoen het die oorgrote gedeelte van die somerreënvalgebied ‘n intense droogte ervaar. Bykans die hele gebied, dit is die noorde van KwaZulu-Natal, suidelike Mpumalanga, die oos en sentrale dele van die Vrystaat en dele van die Noordwes Provinsie, was geaffekteer. Die intensiteit hiervan kan beskryf word as ‘n desielwaarde van drie of minder, met ander woorde ‘n droër seisoen as die drie droogteseisoene in tien jaar.

Ons aanvanklike vooruitsig vir die afgelope seisoen was positief met die verwagting dat ‘n La Niña-tipe somerreënvalseisoen te wagte is. Die karakter van só ‘n seisoen is dat normale tot bonormale reënval hoeveelhede vir die seisoen as geheel te wagte kan wees, met ‘n droë lente of vertraagde aanvang van die somerreënval gevolg deur ‘n na-jaar met ‘n redelike konsentrasie van reënval in die herfs en vroeë winter.

Met hierdie vooruitskouing en in die konteks van ‘n baie goeie grondvoginhoud oor die hele saaigebied, was die aanvangstoestande uiters gunstig vir graanverbouing. Dit was juis hierdie buffer wat die impak van die droogte versag het, anders sou die uitkoms veel erger gewees het.

Internasionale graantoestande

In die buiteland is die verbouingstoestande ook ongunstig. Waar ‘n rekord mielie-oes aan die begin van die plantseisoen in Amerika voorspel is as gevolg van rekordaanplantings, het die droogte die mielie-oesskatting van 166 skepels (bushels) per akker, na ‘n 123 skepels per akker verander (39,37 skepels = 1 ton). Dit is ‘n verlies van meer as 30 miljoen ton wat veroorsaak dat daar nie mielies oorgedra kan word na wêreldvoorrade nie, dus bly wêreldvoorrade onder druk.

Die sojaboonoes is ook aansienlik kleiner. Die kleiner oes het veroorsaak dat die mielieprys en sojaboonprys die hoogte in skiet. As gevolg van die laer oeste, is lande soos China bereid om meer te betaal vir mielies – hulle gee nie werklik om hoeveel hulle betaal nie, solank hulle mielies bekom om die nasie te voed.

Nie net het die hoë mielieprys ‘n effek op menslike verbruik nie, maar ook op die verbruik van dierevoedsel. Intensiewe voeding van diere in voerkrale, asook varke en hoenders is ook onder druk as gevolg van die hoë mielieprys.

In Brasilië, die VSA en Duitsland kort produsente bedrywighede, soos die groei van hoenders, in as gevolg van verliese wat gely word. Die koste van hoër voeding kan nie altyd na die verbruiker deurgegee word nie omdat hulle ook onder druk is. Lande soos Indië en Brasilië stel maatreëls in om hoenderprodusente by te staan.

Die hoë mielieprys sal veroorsaak dat produsente in veral die Suidelike Halfrond, die komende seisoen soveel moontlik mielies en sojabone plant as gevolg van die pryse wat nie gou baie laer behoort te beweeg nie.

Droogte in Rusland en die Oekraïne het ‘n invloed op die koringproduksie, met nat weerstoestande wat weer ‘n invloed het op die hoeveelheid koring wat in Australië geproduseer word (verliese as gevolg van té nat toestande).

Om hierdie toestande te vererger, het die droogte in die VSA ook ‘n invloed op die beesproduserende gebiede in Texas. Kuddes is drasties verklein as gevolg van die droogte. Buiten die invloed wat duur voeding op vleis gaan hê (in terme van ‘n verhoging in prys), sal die verkleinde kudde vleispryse ook verder laat styg.

‘n Droër somerseisoen word verwag

Wye navorsing is die afgelope aantal jare onderneem om die moontlike voorspelbaarheid van seisoenale weersomstandighede te verstaan en te verbeter. Oor Suid-Afrika is sikliesiteit van ongeveer 10- en 18-jaar - tyd perke in reënvalsyfers van die somerreënvalstreek welbekend.

Verskeie faktore in die klimaatstelsel kan hieraan verbind word, waarvan een, eksterne forsering, moontlik die veranderlikheid gekoppel aan die sonsiklus met ‘n periode van ongeveer tien jaar is.

Vele teorieë bestaan oor die presiese meganisme waarmee hierdie veranderlikheid in die aarde se energiebron totale seisoenale reënval oor verskeie dele van die aarde beïnvloed. Sonvlek-aktiwiteit word soms gebruik as aanduiding vir die variasie, hoewel daar meer veranderlikheid aan die straling van die son (tipe/intensiteit) is as wat net deur hierdie proksie (sonvlekke) aangedui kan word.

Daar sal nog heelwat navorsing gedoen moet word om dit beter te verstaan en verder ook hoe die klimaatstelsel, met ‘n verskeidenheid van interne terugvoerprosesse, reageer. Aanduidings bestaan wel dat veral gedurende tye van afnemende sonvlek-aktiwiteit, daar ‘n geneigdheid vir droër toestande oor groot dele van Suid-Afrika ontstaan, terwyl tydperke van toenemende aktiwiteit meerendeels geassosieer word met ‘n geneigdheid tot bonormale reënval.

Ons is tans in ‘n oorgangstydperk waar ons besig is om vanaf ‘n tydperk wat sedert 2008 deur toenemende aktiwiteit oorheers was, na ‘n tydperk van afnemende aktiwiteit te beweeg. Vervolgens dui sekere seisoenale voorspellings ook op die moontlike ontwikkeling van ‘n El Niño in die Stille Oseaan. Gedurende El Niño-toestande, ontstaan ‘n reaksie in die drukverspreiding in die atmosfeer, waarvan die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) ‘n goeie aanduiding gee. Gedurende El Niñotoestande sal die SOI gewoonlik negatief neig, wat ‘n aanduiding is van die atmosferiese reaksie op die see-oppervlaktemperatuurafwykings (SST).

Hoewel die 2010 El Niño-seisoen besonder nat was in Suid-Afrika, is die kanse skraal dat so ‘n situasie herhaal sal word, gebaseer suiwer op die historiese verspreiding van reënval gedurende El Niñoseisoene. Verder is daar ook aanduidings dat die reënval oor die somerreënvalstreek meer negatief beïnvloed word deur ‘n El Niñoepisode gedurende die droër eerder as gedurende die natter tydperk van die multi-jaarsiklus.

Grafiek 1 dui die totale seisoenale reënval (Julie tot Junie) bereken as die gemiddeld tussen Lichtenburg, Potchefstroom en Bothaville sedert 1903/1904 tot 2011/2012 aan vir alle gevalle met ‘n negatiewe SOI (tydens die relevante November tot Februarie-tydperk).

image

Hierdie waardes is bloot verdeel in twee groepe – tydperke van afnemende sonvlek-aktiwiteit (links) en toenemende sonvlek-aktiwiteit (regs), wat hier rofweg ‘n aanduiding gee van die multijaar reënvalsikliesiteit (± 10).

Uit hierdie data, wat 54 jaar van ‘n negatiewe SOI verteenwoordig, kan gesien word dat El Niño-seisoene eerder droog sal wees tydens jare met afnemende sonvlek-aktiwiteit, as met toenemende sonvlek-aktiwiteit. Suid-Afrika se mediaan reënval is byvoorbeeld 480 mm, maar 585 mm vir jare met negatiewe SOI tydens tydperke met onderskeidelik afnemende en toenemende sonvlek-aktiwiteit.

Hoewel daar baie meer invloede as bloot ENSO en die sonsiklus op Suid-Afrikaanse weerpatrone is, kan daar wel tot die gevolgtrekking gekom word dat die variasie wat deur hierdie faktore teweeg gebring word, ‘n negatiewe bydrae kan lewer tot die reënval gedurende die komende somer – as die voorspelling vir ‘n El Niño korrek is.

Gegrond op die voorspelling van ‘n moontlike El Niño asook die naderende tydperk van afnemende sonvlek-aktiwiteit, wil dit voorkom asof die tydperk van hoë reënval wat gedeeltelik verantwoordelik was vir hoë mielie-opbrengste in Suid Afrika, vir eers dalk iets van die verlede kan wees.

Publication: October 2012

Section: Markoorsig

Search