October 2013
LOUISE KUNZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER
Ná ‘n loopbaan van meer as 30 jaar in die graanbedryf, het dr Anton Lubbe aan die einde van Julie vanjaar sy graanskoene uitgetrek. Die diep spore wat hy in die graanbedryf getrap het, sal egter nie gou vervaag nie en volgens dié wat hom ken, sal hierdie groot gees se kennis en toeganklikheid die industrie nog lank bybly.
Gedurende sy loopbaan het hy een van die grootste veranderings in die graanbedryf beleef, naamlik die oorgang van die eenkanaalbe markingstelsel na die vrye mark.
“Ek is van kleintyd af ‘n vryemark-man en het hierdie verandering as positief ervaar omdat die koöperasiewet beperkend was en dié omwenteling gelei het tot geweldige groei in die graanbedryf,” voeg hy by.
Die belangrikste voortvloeisels uit hierdie oorskakeling van regulering na deregulering is vir dr Lubbe egter dat meer sinvolle groeperinge ontstaan het en dat die belangrikheid van selfregulering en selfbefondsing raakgesien is.
“Lede was onrustig dat die nuwe politieke bestel daartoe sou lei dat surplus ledefondse wat in koöps opgesluit was, moontlik weggeneem sou word en dus nie die lede sou toeval nie. Daarmee saam was hulle ook bekommerd dat hulle aandeel in die strategiese silobates, wat oor dekades opgebou was, afgewater of verwaarloos sou word,” staaf hy dié stelling.
Dr Lubbe noem dat een van die grootste psigologiese omwentelings in hierdie tyd seker die verandering in verhouding tussen die graanprodusent en sy landbou-onderneming was. Hy verduidelik dat weens die tekort aan bemarkingsvaardighede in die destydse koöperasies, hierdie verandering ook daartoe gelei het dat leierskap in die graanbedryf verander het, landbou-organisasies moes meer bemarkingsgeoriënteerd raak, wat tot ‘n veranderde verhouding tussen die landbou-onderneming en die graanprodusent gelei het.
Die produsent moes begin dink aan sy tweeledige rol as belegger én kliënt en die koöperasie moes sy posisie as diensverskaffer versterk.
“Daar was nie meer blinde lojaliteit nie en alhoewel die verandering traumaties was vir produsente, was die uitwerking daarvan positief,” voeg hy by. Die produsent en die landbou-onderneming moes albei interne ondersoek doen en hul nuwe rolle as besigheidsvennote evalueer en posisioneer. Voortvloeiend daaruit moes hulle ook begin om besluite te neem wat nie op blinde lojaliteit gegrond was nie, maar op gesonde besigheidsbeginsels.
Sy lys van prestasies in die graanbedryf is indrukwekkend en sluit onder meer sy betrokkenheid in by die vestiging van elektroniese silo sertifikate en die totstandkoming van ‘n besigheid, Electronic Silo Certificates Edms Bpk, waarin Afgri en Senwes gesamentlike meer derheidsaandeelhouers is.
Volgens hom is en bly die bestaan van silosertifikate en elektroniese silosertifikate (wat in die nuwe bedeling tot stand gekom het) een van die belangrikste ontwikkelings om die markte en veral die termynmark in Suid-Afrika te reguleer en effektief te laat funksioneer. “Hierdie sertifikate is absoluut onderliggend tot enige transaksie op die termynbeurs en ek glo dat dit integriteit in die termynmark vestig,” noem hy.
Hy was ook betrokke by die skep van ‘n prysvormingsmeganisme en verhandelingsplatform op die JSE. “Graansilo-eienaars moes wesenlike administratiewe en intellektuele bydraes lewer en hulle is integraal tot die vestiging van integriteit in en die aanvaarding van ons bemarkingstelsel.”
Die sukses wat hy in sy loopbaan bereik het, is volgens hom grootliks te danke aan sy verhouding met ander rolspelers in die graanbedryf.
Hy reken dat omdat daar voor deregulering voordele uit selfsug bewerkstellig is, het hierdie verandering ook gesorg dat daar meer agting in die breër bedryf vir ander groeperinge ontstaan het. Die rolspelers (produsente, landbou-ondernemings, finansiële instellings en die Land Bank, die meulenaars, bakkers en ander gebruikers van graan, die verbruikers en die owerheid) moes nou met groter respek en deursigtigheid optree.
Dit het natuurlik gelei tot versterkte prominensie van groeperinge soos Graan SA, wat ‘n al groter rol begin speel het. Deur visionêre insig, groeiende goedgesindheid en verbeterde medewerking in die breër graanketting, is die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) en die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) gevestig en het rolspelers gefokus op navorsing om produksie-volhoubaarheid en kapasiteit in die bedryf te vestig. Ook hier het dr Lubbe ‘n beduidende bydrae gelewer.
Dit was dan in hierdie tyd dat hy aan die stuur van die Lubbe-komitee gestaan het, wat Uniegraan van ‘n sentrale koöperasie na ‘n maatskappy moes omskep, wat steeds in die nuwe vryemarkbestel kon funksioneer en in belang van die graansilo-eienaars kon optree. Oor die jare heen het dit vir hom duidelik geword dat kundigheid op tegniese vlak uiters belangrik is. Vaardige mense is nodig vir die meer as 500 silo- en meulekomplekse – plekke waar graan in die land hanteer en verwerk word.
Hy verduidelik: “Met die ontbinding van die rade het AgriSETA en die graanbedryf gevorder om die kapasiteit en standaarde asook die inhoudelike van leermateriaal te vestig. Ek het vertroue in hierdie proses en glo dat ons daardeur die aansien en vermoëns van graanbedryfpersoneel kan verbeter en sodoende ‘n nasionale register van vaardighede kan vestig.”
Vir die produsent het die vooruitgang van biotegnologie ook ‘n omwenteling meegebring en hy glo dit is vir die toekoms van die graanbedryf van onskatbare waarde. Hy sien dat die onvermoë van regerings in Suider-Afrika om volhoubare graanproduksie te verseker, wel uitdagings skep, maar ook groot uitvoergeleenthede bewerkstellig vir Suid-Afrika, wat homself bewys het as ‘n land wat die vermoë het om surplus grane te produseer.
Ongelukkig het deregulering ook een van die minder aangename herinnerings in sy loopbaan veroorsaak met die herorganisering van die landbou-omgewing. Hy noem dat ondersoek gedoen is na die omvang van personeelkorpse en deelnames in sekere produksiegebiede, wat tot gevolg gehad het dat mense afgelê en bedryfspunte gesluit is. Hierdie gebeure het traumatiese gevolge vir groot gedeeltes van die platteland veroorsaak, veral op sosio-ekonomiese vlak.
Dr Lubbe noem dat een van die belangrikste lewenslesse wat hy in die bedryf geleer het, is dat hoewel leierskap en “voorloop” belangrik is, die uitsette of prestasie deur spanwerk bewerkstellig word. “Dit is my filosofie: Dit is die ouens in die loopgrawe wat jou sukses bewerkstellig. Iemand moet baas wees, maar jy kry niks reg as die troepe jou nie ondersteun nie.” Hy voeg by dat hy ook besef het dat jy nooit jou professionele rol kan losmaak van die ander dimensies in jou lewe nie, dat mislukkings nie die einde van die wêreld beteken nie en dat dit noodsaaklik is om met deernis en empatie op te tree teenoor mense wat jou pad kruis.
Van die mense wat sy pad gekruis het en ‘n blywende indruk gelaat het, is groot name in die landbou, leiers in die graanbedryf by wie hy baie geleer het. “Dit is moeilik om mense uit te sonder, maar ek moet mense soos Johan Dique en Francois Strydom uitsonder vir hul unieke leierskap. Ek het ook groot respek vir Jannie de Villiers,” gee hy tog erkenning aan mense saam met wie hy ‘n pad gestap het.
Dr Lubbe voel positief oor die toekoms van die graanbedryf in Suid-Afrika en noem dat Graan SA spesiale erkenning verdien vir die rol wat hulle speel om landbouers bymekaar te hou; om tot gelyke voordeel vir alle belanghebbendes met die regering te onderhandel en leierskap in bepaalde krisisse te openbaar.
“My gevoel is dat die beleidmakers aan die bedryf se kant, waar hulle al hoe meer besig is met politiese, strategiese en grondwetlike aspekte, ‘n toenemende rol het om deur uitmuntende leierskap die energie en krag wat in hul onderskeie assosiasies opgesluit is, vorentoe toe te vat. Daarmee saam bevind die professionele bestuur van landbouondernemings, -assosiasies en -korporasies hul so toenemend in ‘n onvriendelike owerheidsomgewing, met die druk van internasionalisering en grondwetlike regstellings, dat hulle ook ‘n groot uitdaging het om vorentoe toe te gaan, maar die talent asook die leierskap is daar,” staaf hy sy positiwiteit oor die toekoms van die graanbedryf. Dit is ook vir hom belangrik dat aspekte soos voedselsekerheid, grondkwessies en die owerheid se rol asook plaasveiligheid, hoog op die agendas van die landbougesprek moet bly.
Hierdie plaaskind van Makwassie se wêreld, is ‘n Wes-Transvaler in murg-en-been, wat sy hoërskoolloopbaan op Wolmaransstad deurloop het. Ná sy militêre opleiding het hy sy studies aan die Noordwes-Universiteit voltooi en noem dat hy oor ‘n tydperk van 25 jaar vier grade in graanverwante rigtings behaal het: BCom, MBA, Mcom asook ‘n PhD.
Sy loopbaan het by Bremer meulens op Hennenman afgeskop, by Suidwes op Leeudoringstad gedraai en stilgestaan by Senwes, waar hy vir 25 jaar werksaam was. Tot en met sy aftrede was hy die besturende direkteur van die Graan Silo Industrie (GSI), die pos wat nou deur Mariana Purnell beklee word. Dr Lubbe het tot met sy uittrede, as trustee by die Koringtrust gedien en is steeds die voorsitter van die SAGL.
Dr Lubbe gaan egter nie van die toneel af verdwyn nie en noem dat hy aangestel is as lid van die subkomitee van die Nasionale Bemarkingsraad. Hy voeg gou by, “Ek het egter my rol in die bedryf gespeel en gaan nie dinge uit die graf probeer hanteer nie.”
Hy en sy vrou, Elmarie, gaan in Klerksdorp aanbly om naby hulle kinders en twee kleindogters te kan wees. Saam gaan hulle Afrikaanse kultuurfeeste platloop omdat hy buiten vir die graanbedryf, ook ‘n passie vir sy taal het. Hy sal graag onthou wil word as iemand met goeie menseverhoudings, wat baie hoogtepunte in die graanbedryf deurloop het en deel was van die suksesvolle omskakeling van ‘n gereguleerde na ‘n gedereguleerde omgewing.
Dié wat bevoorreg genoeg was om hom as kollega te ken, sal saamstem met Jan F. Cilliers se woorde, “Stil broers, daar gaan ‘n man verby.”
Publication: October 2013
Section: Other Articles