April 2018
Die koringbedryf is tans onder erge druk weens die kwynende volhoubaarheid van die bedryf. Tydens die onlangse Graan SA Kongres se spesiale koringsessie is daar talle redes hiervoor geïdentifiseer, waarvan die belangrikste is: Plaaslike pryse stem nie ooreen met die internasionale waarde van dieselfde kwaliteit koring nie.
Die kosteknyptang bly ‘n groot uitdaging en opbrengsverhogings hou nie kers vas met die stygings nie. Die koringprodusent het nie ‘n spektrum van alternatiewe gewasse om risiko te bestuur nie. Dit was van die knelpunte wat uitgelig is – en natuurlik is daar nog ‘n magdom ander aspekte wat ook genoem is.
In 2014 het die Koringforum ‘n omdraaistrategie met verskillende uitkomste op die tafel gesit, wat onder andere insluit graadgewaarborgde kontrakte, verwydering van ingevoerde koringdiskonto, graadprysverskille (4% en 2%), minimum proteïenvlakke wat aangepas moes word, verwysingsprys van koring, verslapping van vrystellingskriteria en chemiese paspoortstelsel.
Aanvanklik is daar betreklik stadig vordering in terme van die omdraaistrategie gemaak en is besluit om die proses in verskillende fases op te breek.
Fase 1
Fase 1 het die verwydering van die kultivarlys en verslapping van vrystellingskriteria ingesluit, tesame met die graadgewaarborgde kontrakte, verwydering van ingevoerde koringdiskonto en graadprysverskille. Dit was rolspelers se eerste stap om te bewys dat verandering wel kan plaasvind. Hieroor is die bedryf baie dankbaar.
Hierdie fase is in 2016 en 2017 met stampe en stote afgehandel. Tesame met dié veranderinge, is daar ook die inisiatief in plek gestel om ontwikkeling van nuwe saad- en kultivartegnologie te bevorder, naamlik die eindpunttantiemestelsel wat by South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) gesetel is. Die hoofdoel is om nuwe tegnologie te ontwikkel ten einde die Suid-Afrikaanse koringopbrengste te verhoog.
Fase 2
Fase 2 is egter die grootste uitdaging, waar die verandering in die graderingstelsel moet plaasvind. Na eindelose gesprekke en onderhandelings, het die kopers van koring die verandering teengestaan en dit het tot gevolg gehad dat daar nie verdere vordering plaasgevind het nie. Die Forum was genoodsaak om weer ‘n gesamentlike sessie te hou om die pad vorentoe te bespreek.
Verskeie rolspelers het dit duidelik gemaak dat die omdraaistrategie se doel is om die produsente volhoubaar te maak en sodoende produksie te bevorder. Dit het egter later in die gesprekke geblyk dat dit nie almal se motief/siening is nie.
Dit bly belangrik om Fase 2 van die omdraaistrategie te implementeer, omdat van die veranderinge die knelpunte kan oplos. Die verandering in gradering klink na ‘n klein verandering, maar dit het wesenlike uitkomste.
In die plaaslike koringbedryf bly die uitdaging steeds dat produsente koring produseer van dieselfde gehalte en selfs beter as harde rooi winterkoring, maar die prys wat ontvang word, is gelykstaande aan ander laer kwaliteit ingevoerde koring. Dit kan duidelik in Grafiek 1 gesien word, waar ‘n produsenteprys in die Kaap vergelyk word met ‘n Kaapse invoerpariteitsprys.
Die verandering in gradering en prysbepaling op Safex (verwysingsprys) beteken dat Suid-Afrika se koring geprys gaan kan word op dieselfde basis as ingevoerde koring, maar dit gee aan die produsent die geleentheid om dieselfde produk met ‘n laer proteïeninhoud, maar nog steeds die goeie kwaliteit weens die intrinsieke waardes (maal- en bakkwaliteit), te kan lewer.
Tesame met al die uitdagings, is dit ook uit ‘n studie wat deur mnr Michael Day van Stellenbosch gedoen is, duidelik dat daar wel ongelykhede in die mark bestaan en dat die produsent en die verbruiker te na gekom word hierdeur.
Graderingsverandering
Watter voordeel hou graderingsverandering vir die produsent in? Die produsent kry sodoende ‘n meer regverdige prys – gegewe die kwaliteit in terme van proteïene wat geproduseer word.
Verder gaan die produsent se produksiebestuurspraktyke verander en kan hy op insette bespaar. Hiervan is die belangrikste die bestuur van stikstoftoediening. Neem in ag dat die plaaslike stikstof onder van die duurste in die wêreld is. Die grootste voordeel is natuurlik dat opbrengste met verslappings van die vrystellingskriteria tesame met verandering in gradering, kan verhoog – wat die grootste voordeel is en wat broodnodig is.
As produsente ‘n laer standaard vir proteïene het, kan hul die beter koring apart stoor/bestuur en sodoende ‘n premie ontvang deur dit aan die verwerker te bied. Dit kan tans ook gedoen word, maar die huidige gradering maak daarvan ‘n uitdaging weens meer graderingsklassifikasies en ‘n hoë B1-basis.
Die standpunt bly dat die plaaslike produsent dieselfde standaard produseer as die huidige invoere, teen goeie produksiekostes en hoër opbrengste en dat die hoër kwaliteit koring ingevoer word. Dit beteken dat dit meer in lyn sal wees met die wêreldneiging van koringproduksie.
Wat is die voordeel vir die koper?
Volgens SAGL se statistieke gaan daar met die verandering van die graad ‘n groter hoeveelheid (%) koring in Suid-Afrika onder dieselfde graderingskategorie gelewer kan word. Dit beteken ‘n groter basis – wat dit makliker maak om ‘n standaard minimum kwaliteit produk te lewer.
Uitdagings
Wat bly die uitdagings en hoekom word daar nie verder gevorder nie? Die grootste uitdaging vir die bedryf is dat die tyd al hoe minder raak en die droogtes die afgelope tyd het dit nog verder verkort. Die realiteit bly dat dit lank vat om nuwe kultivars te teel en opbrengste te verhoog, maar hoe vinniger dit gedoen word, hoe vinniger kan dit ‘n verskil maak.
Die verwerkers van koring voel nog sterk dat hul met die huidige bestel en selfs met die graadgewaarborgde kontrakte nie noodwendig die regte kwaliteit vanaf die opbergers ontvang nie. Volgens die rolspelers beteken dit dat enige ander veranderings hul risiko’s verhoog.
Die volgende knelpunt is dat daar rolspelers is wat beweer dat die Wes-Kaapse koring se kwaliteit nie op standaard is nie, alhoewel daar saamgestem word dat dit ‘n moontlike weergedrewe faktor in die afgelope twee jaar was.
Onder die huidige goedgekeurde metodiek wys die SAGL se syfers nog steeds dat die maal- en bakkwaliteit wel op standaard is.
Waaroor word daar wel saamgestem?
Daar is konsensus bereik dat die rapportering vir intensie van koringinvoere op dieselfde basis moet geskied as wat deur die Mielieforum goedgekeur is. Die Koringforum moet dus ‘n proses in plek sit om aansoek te doen vir die statutêre maatreël.
Daar is wel konsensus dat, om onsekerhede uit die weg te ruim, daar verandering in die stelsel met betrekking tot die afkondiging van die tarief moet plaasvind. Verder is partye dit ook eens dat die tariefinkomste eerder spandeer moet word om die bedryf te bevorder en nie aangewend moet word vir die befondsing van Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland (BLNS-lande) nie.
Die invoerkwota en rebatstelsels binne die verskeie huidige handelsooreenkomste sal daadwerklik ontleed moet word.
Gevolgtrekking
Fase 2 van die omdraaistrategie kan vorder, mits daar aan die verwerkers bewyse gelewer kan word dat hul ‘n minimum uitlaaikwaliteit gaan ontvang. Ongelukkig is daar nie tans sprake by enige van die twee rolspelers om die eerste beweging te maak nie.
Daar is veranderings gemaak wat produsente wel ondersteun om meer volhoubaar te wees, maar daar is nie ‘n kitsoplossing vir die kort termyn nie. Die beste oplossing lê in hoër opbrengste en beter kultivars – veral in die droëlandstreke.
Publication: April 2018
Section: On farm level