February 2018
Die jaar is volstoom aan die gang. Die kombinasie van pryse en klimaat het weer eens ‘n unieke stel omstandighede vir produsente tafel toe gebring. Een gesoute produsent uit die Noordweste sê die ander dag vir my: “Dit was nog nooit so hier op my plaas nie. Dit is middel Januarie en nog niks van die baie reën wat voorspel is, het gerealiseer nie.”
Intussen het die regerende party seker gemaak dat ons nie ‘n goeie landboujaar sal hê nie – in elk geval nie emosioneel nie. Ongeag van die weer, het die saak van grondhervorming ‘n nuwe baadjie aangetrek. Dit is nou nie net die spoed van grondhervorming wat die mense pla nie, maar ook die prys – hulle wil sommer sonder vergoeding onteien! Dit is egter baie makliker gesê as gedaan.
Dit was besonder duidelik dat die nuutverkose president van die ANC seker gemaak het dat daar ook ‘n stertjie by die kongresbesluit gevoeg word: Net as dit nie ekonomiese groei en voedselsekerheid nadelig beïnvloed nie.
Dit is juis in die “stertjie” en die wyse waarop die land se regters die Grondwet handhaaf, waar daar ‘n stukkie gerusstelling lê. Dit is egter nou “hande in die skrum”. Ons sal voortgaan om die howe te gebruik om ons regte as landsburgers te beskerm, maar dit plaas ook besondere druk op georganiseerde landbou om die sogenaamde “stertjie” se implikasies mooi uit te spel vir dié wat gaan poog om die besluit te implementeer.
Daar is heelwat besliste redes waarom Suid-Afrika die enigste land op die kontinent van Afrika is wat voedselsekerheid het. Dit is bykans onbegryplik waarom dit so moeilik is om dit te snap. Hoe dit ook al sy, onteiening sonder vergoeding kan nie plaasvind sonder wysiging van die Grondwet nie. Geen enkele party in die parlement het genoeg stemme om dit te bewerkstellig nie. Hierdie klousule van die Wet het waarskynlik nie sonder ‘n kompromie daarin beland nie. Ons sal dit beskerm met die nodige erns wat dit vereis.
Wat egter tog verblydend is, is dat die wiel van geregtigheid op ander plekke ook draai. Die Finansiële Diensteraad (FSB) het onlangs een van ons groot multinasionale graanhandelaars skuldig bevind aan markmanipulasie. Dié graanhandelaars het tydens die droogtejaar met groot fanfare aan almal verkondig dat hulle besig was om duisende tonne witmielies van Mexiko af in te voer – wat hulle alreeds hier in Suid-Afrika verkoop het. Daarvan het toe dadels gekom.
Die pryse het daarna begin daal – tot groot nadeel van produsente. Ek merk dat daar nog vier ander sake oor mielies en koring deur die FSB ondersoek word. Dit alleen is ‘n duidelike boodskap aan almal wat in die mark deelneem, om eerlik te bly.
Dit voel hierdie tyd van die jaar kompleet asof ‘n mens ‘n toepassing op jou selfoon nodig het om jou emosies te beheer. Dit spring rond soos wat ons onsself op hoogte hou met die verandering in die weer, die politiek en markpryse. ‘n Mens sou verwag dat die weer ‘n groter invloed op markpryse sou hê as die politiek. Emosies dryf markte. Wanneer ‘n mens se emosies onstabiel raak, is jy geneig om te gou te praat of afleidings te maak. Dit laat jou so maklik verkeerde dinge sê of doen.
So vroeg in die jaar maak hierdie uitdagings dat jy diep nadink oor sommer baie dinge: Waarvoor is ek hier in Suid-Afrika en waarom boer ek? Beteken ek nog iets vir die mense vir wie ek lief is?
Een van Dawid se Psalms wat getoonset is, lui: “Hoop op God, in Hom weer rustig.” Daar is so min wat ons kan doen om ons bekommernisse in vreugde te verander, daarom neem ek raad by Dawid, die man na God se hart, om my hoop en vertroue in God te plaas. Eers as ons dít gedoen het, gaan ons werk asof alles van ons eie insette afhang.
Publication: February 2018
Section: Features