February 2014
Die jaar het afgeskop en vir baie het dit bykans dieselde patroon as 2013 aangeneem. Dit is nat in die ooste en droog in die weste. Die suide se reën het lank aangehou en het graadprobleme vir produsente veroorsaak. Die ou gesegde van dié wat ons vooruitgegaan het, vind byklank in bykans elke gesprek: "Ons kan leef met te veel reën, maar nie met te min nie; 'n mielie vrek so twee weke ná die boer dood is".
Met die skryf van hierdie artikel het meeste ou hande in die bedryf aangedui dat die weste nog so twee weke het, dan raak dit kritiek. Ek probeer oor en oor terugdink aan die vorige seisoen toe dit ook laat gereën het en dit daarna droog was. Vir die produsente in die weste was dit 'n jaar wat hulle nie lank sal wil onthou nie, maar tog het die land in totaal genoeg gelewer sodat ons selfs ander kon help.
Dit bring my by die punt van waarom daar nou so 'n geween en 'n gekners van tande is deur die gulsige kopers wat, toe daar 'n oorvloed was en die graan goedkoop was, nie wou koop nie. Nou is hulle bykans daagliks by die staat om hulle uit hulle eie verknorsing te probeer red.
Dit bly steeds Graan SA se missie om surplusproduksie aan te moedig en dan die mark so spoedig moontlik "skoon te maak" deur uitvoere te bevorder. As die plaaslike kopers egter sit en slaap, moet hulle nie by die regering gaan huil nie. Ons het nog nie eers met die vervaardiging van biobrandstof begin nie. Ons het hulle, as ons beste kliënte, 'n geruime tyd gelede al gewaarsku: Dit is nie meer business as usual nie!
Graan SA het, en is steeds besig, om ons hoenderboere te help om 'n behoorlike tariefstelsel te kry sodat hulle regverdig kan meeding en werksgeleenthede kan skep. Dit is nogal 'n teleurstelling dat hulle, noudat hul alreeds sekere vlakke van beskerming gekry het, skielik omdraai en ons verkla dat ons, volgens hulle, te veel uitgevoer het.
Ai, manne (en vroue), kan ons nie maar mekaar elkeen 'n plek onder die Afrika-son gun nie? Dit is mos so dat dieselfde argumente oor beskerming van plaaslike produksie en werksgeleenthede, immers vir almal geld?
Anderkant die plaashek gaan die jaar wat voorlê nie sonder opwinding wees nie. Ons skop af met baie lae graanvoorrade wat moontlik voedselprysstygings tydens die verkiesing gaan veroorsaak. Dit kan selfs tot politieke onstabiliteit lei. Ek kan maar net raai hoe sommige politici die situasie gaan misbruik om weer beheer in die landbou terug te bring. Die aanslag op die vrye mark gaan beslis in sy felheid toeneem en dit gaan baie vernuf neem om ons saak te verdedig.
Ons gaan waarskynlik ook groot spronge moet maak om grondhervorming op 'n pad te kry waar almal minstens die einddoel en -datum kan sien.
Dan is daar ook uitdagings ten opsigte van die herstrukturering van georganiseerde landbou op nasionale vlak. Hierdie sake kan baie vererger word as die seisoen droog gaan draai in die noorde. Ten spyte van alles, behou ons hoop dat die Vader reën op Sy tyd sal stuur.
'n Definitiewe pluspunt is die nuwe, vars energie wat die jongmense in ons bedryf bring en staatsamptenare (buite landbou) wat ons moed gee omdat hulle die wil het om die land te maak werk. Ons bewaar hulle soos goud en werk saam met hulle om seker te maak graanproduksie bly volhoubaar en dat daar genoeg kos in die land is vir almal.
Ons kan nog sonder donkerbrille, iPad's en TV's aangaan, maar nie sonder kos nie. Dit is dus meer as net 'n werk om vir die land kos te produseer – dit is 'n roeping en ons mag nie daarin faal net omdat daar 'n opdraande pad voorlê nie. Baie van ons en ons voorouers is al meer as een maal teen dié tipe steiltes uit. Sterkte.
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Publication: February 2014
Section: Editorial