• Login
  • Search Icon

Direkte plant-proewe in Suid-Afrika – ‘n oorsig oor vyf jaar

April 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Na aanleiding van ‘n ooreenkoms tussen Graan SA, verskeie Argentynse navorsingsinstansies en Suid-Afrikaanse insetverskaffers is direkte plant (no till in oesreste)-proewe op Manjoh Ranch by Nigel aangeplant.

Die proef met sy behandelings is op ‘n perseel wat meer as 10 ha beslaan, aangeplant. Dit het bestaan uit ‘n konvensionele gedeelte asook die direkte plant-gedeelte waar die gewasse in 0,5 m-rye geplant is. Wisselbougewasse is ook ingesluit en bestaan uit sojabone en permanente aangeplante weiding.

In die direkte plant- en die konvensionele gedeelte is ‘n enkelkoppige, enkelstammige mieliekultivar teen verskillende plantestande aangeplant. Die rywydtes het ook gevarieer tussen 0,5 m-rye en 1 m-rye. Die sojaboonaanplantings het kultivars met verskillende groeilengtes en variërende plantestande ingesluit en is in 0,5 mrye geplant.

Die mielies in die direkte plant-gedeeltes het ‘n 40 000-, 60 000- en 80 000-plantestand beslaan. Dieselfde na-opkomsonkruiddoderprogram is by alle gewasbehandelings toegepas. Wat bemesting betref, het die 80 000 mielieplantestandperseel hoër bemestingspyle van veral stikstof ontvang.

Grondversteuring
Uit die staanspoor was daar heelwat verskille tussen die konvensionele stelsel en die direkte plant-stelsels. Grondversteuring is die eerste element wat in die proef waargeneem is. Die Argentynse planter het die grond beduidend min versteur en kon die oesreste weer bo-op die rytjie terugplaas. Die turbo-kouters waarmee die planter toegerus is, kon gemaklik deur die oesreste sny en die grond genoeg versteur sodat die saad op die regte diepte in die grond geplaas kon word. Wat ons verder opgeval het, is hoe gelyk die land was nadat dit met die Argentynse planters geplant is.

Dit was opmerklik hoe gelyk die gewasse wat met die Argentynse planters geplant is, opgekom het en dat die interplantspasiëring presies was. By die proewe op Nigel het die mielies op dag agt reeds 97% opgekom.

Onkruidbeheer
Die hoë plantestand met die nouer rye was laatopkomende someronkruid se moses. Die oorskaduwing was net te groot en die laat ontkiemende onkruide het die wind van voor gekry.

Tog het daar heelwat meer onkruide in die bewerkte gedeeltes opgekom – ongeag die onkruiddoder wat toegedien is. As gevolg van die hoër plantestand, was die oesreste direk na stroop beduidend meer en het dit veroorsaak dat die winteronkruide in die beter omstandighede kon gedy. Die beheer van sodanige winteronkruide moet tydig (as hul nog klein is) geskied, anders is dit bykans onbeheerbaar.

Groei van gewasse
Wat die groei van die gewasse betref, was daar ook duidelike verskille. Die gewasse in die direkte plant-gedeeltes het heelwat stadiger as die konvensionele gewasse gegroei. Tydens stroop was daar egter nie regtig verskille tussen die stelsels se planthoogte en die graanvog nie.

Tydens die wortelondersoeke was daar duidelike verskille tussen die stelsels. Die konvensionele stelsels se wortelverspreiding was oor die algemeen dieper as die direkte plant-stelsels.

Daar was by direkte plant ‘n opmerklike groter konsentrasie van wortels in die boonste vrugbare gedeeltes van die grond as by die konvensionele stelsels. ‘n Paar waarnemings het egter ons aandag getrek.

Waar die grond te nat was tydens plant – en veral waar die oesreste uiters dig was – het die planters se planterkouters die grond gesmeer en geen wortel het deur sodanige lae beweeg nie. Die gevolg was ‘n groot aantal klein plante reg langs groot plante.

Wortelontledings van veral sojabone en sonneblom het ‘n interessante verskynsel openbaar: Indien die verandering in die grond van sagte na stywe grond te vinnig plaasgevind het, het die wortels presies op hierdie veranderings in die grond gedraai. Dit is derhalwe noodsaaklik dat die planterkouters reg gestel word om hierdie probleem te oorkom.

Die turbo-kouter moet deur die eerste paar verdigtingslae, asook deur die stoppel, kan sny sodat daar ‘n dieper voor is waarin die wortels kan ontwikkel. Die verwagting is dat die jong wortels van veral sonneblom en sojabone geneig sal wees om nie maklik te draai nie, maar dit wil voorkom asof dit nie die geval is nie. Heel moontlik moet die turbo-kouter vir hierdie gewasse eerder nie te diep werk nie.

Die belangrikste les wat hieruit geleer is, is dat as die grond te nat is, daar nie geplant moet word nie.

Oorskaduwing
Wat oorskaduwing betref, was daar ook ‘n paar punte wat aandag getrek het. Die eerste was die hoeveelheid vog wat beskikbaar was vir die gewasse. Hoe hoër die oorskaduwing, hoe meer vog was vir die plante beskikbaar.

Daar word algemeen verwag dat dit heelwat warmer moet wees waar die plantestand hoër is. Die teendeel is egter waar: Hoe hoër die plantestand, hoe laer is die temperatuur op die grond. Dit is bevind nadat temperatuurmeters op die grondoppervlakte aangebring en die temperature aangeteken is. Die verskille het gevarieer, maar by die hoër plantestande was die temperatuur regdeur laer.

Die belangrikste waarneming was dat die resultate met die direkte plantstelsel betekenisvol is. Ten spyte van die uitdagende jaar was daar nog steeds goeie stroperresultate. Of die resultate volgehou kan word, bly ‘n ope vraag, maar dat daar iets in steek, is gewis. Dat daar nog ‘n klompie nuwe vrae en nuwe probleme sal wees, is ‘n uitgemaakte saak en elke produsent sal sy bestuur moet opskerp om hierdie nuwe benadering baas te raak.

Kultivarverskille
Die prestasie van verskillende kultivars in die stelsel het ook merkbaar verskil. Sommige kultivars sal verseker nie in hierdie stelsel pas nie. Nog heelwat navorsing sal hieroor gedoen moet word.

Winsgewendheid
Winsgewendheid by so ‘n drastiese verandering is krities. In hierdie vyf jaar is die koste van die stelsels bygehou en ‘n volledige kosteberekening – wat beide veranderlike asook vaste koste insluit  kan gedoen word. In Tabel 1 is ‘n samevatting van die verskil in koste tussen die verskillende verbouingstelsels.

Hierdie inligting in ag genome, maak dit ekonomiese sin om hierdie direkte plant-stelsel te oorweeg. Die direkte koste vir die verskillende praktyke het tussen 93% en 127% van die konvensionele stelsels verskil.

Die groot verskil in koste het egter by die vaste koste voorgekom, omdat die hoeveelheid trekkers en masjinerie benodig soveel minder is. Die waardevermindering en die vervanging van trekkers sal oor tyd ‘n groot rol speel.

Dit is interessant dat die veranderlike koste tussen die stelsels – waar dieselfde plantestand toegepas en bemesting toegedien is – nie dramaties van mekaar verskil nie. Diesel- en herstelkostebesparings word bloot deur meer onkruiddoder vervang.

Tog lyk dit of die direkte plant-stelsel ongeveer 7% goedkoper kan wees. Met dieselfde plantestand en bemesting kan die totale koste per hektaar 15% minder wees. Onthou net: As besluit word om oor te skakel, kan die druk op die kontantvloei vir die eerste vyf jaar verhoog word, omdat ‘n groot gedeelte van die betaalde toerusting met nuwes vervang moet word. Beplan hierdie oorskakeling met sorg.

Die mielie- en sojaboonopbrengste vir die proefperseel word in Grafiek 1 en Grafiek 2 weergegee. Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die graanopbrengste op hierdie perseel noemenswaardig hoog was. Dit wil voorkom asof die 60 000-stand dalk oor tyd die beste gevaar het. Alhoewel die winsverskil tussen die 40 000 en 60 000 so naby was, is die gevoel dat die 60 000-stand dalk die beter keuse sal wees.

Die swamsiekte Sclerotinia het die sojaboonaanplantings beduidend benadeel en al die behandelings was ewe erg getref – soveel so dat die eerste jaar se data nie gebruik kon word nie. Dit wil voorkom of die sojabone wat op die hoër plantestand vir mielies geplant was, se opbrengste dalk ook hoër was.

Maar dit daar gelaat. Direkte plant is die moeite werd om te ondersoek en sal verseker die toekoms van graanverbouing verander. Alles binne die totale verbouingspraktyk moet egter by mekaar inskakel.

As daar net iets uit die stelsel geneem word en in ander stelsels ingeskakel word, sal die resultate verskil en ander probleme sal oor tyd kop uitsteek. Die wegspring is krities in hierdie stelsel. Moenie dink dat waar daar reeds grondverdigting teenwoordig is, direkte plant met watter gewas ook al die probleem gaan oplos nie. Dieselfde geld ook vir lae pH of tekorte aan plantvoedingstowwe. Stel dit eers reg en begin dan met die stelsel.

Die rol van die medewerkers kan nie misgekyk word nie. Mnr Tony da Costa, sy oorlede pa, Manny, en die personeel van Manjoh Ranch het alles in hul vermoë gedoen om hierdie projek te laat slaag. Baie dankie vir julle werk.

‘n Woord van dank word ook aan al die plaaslike insetverskaffers gerig. Pannar, Syngenta, MBFi en Omnia het die direkte insetkoste vir hierdie proef goedgunstiglik verskaf. Sonder hul hulp kan hierdie projekte nie bestaan nie.

Vir navrae kan Pietman Botha by 082 759 2991 of Tony da Costa by 083 254 1847 gekontak word.

Publication: April 2017

Section: On farm level

Search