May 2018
Listeriose word veroorsaak deur die bakterie Listeria monocytogenes. Dit is ‘n soönotiese (‘n siekte wat normaal in diere voorkom en die mens kan besmet) voedsel-, water- en melkverbondesiekte. Die meeste mense het ‘n weerstand teen listeriose.
Belangrike bronne van Listeria-besmetting is beeste, bokke, skape en pluimvee. Die bakterieë kom ook in honde, katte, hase, visse, wild, voëls, sowel as water, melk, mis van diere, grond, verrotte plante, modder, slyk, riool, groente wat blaarryk is, varke, kuilvoer en vrugte voor.
Listeriose kom wêreldwyd voor, maar word meestal gevind in gebiede waar die temperatuur gematig en koud is soos Europa, Noord-Amerika en Nieu-Seeland. Alhoewel die kiem koeler temperature verkies, kom dit ook in warmer lande soos Suider-Afrika en talle ander lande voor. Die Listeria-kiem is al uit meer as 40 mak en wilde soogdierspesies geïsoleer. Die kiem kan geredelik tussen temperature wat wissel van 4°C tot 44°C groei.
Besmetting by mense vind gewoonlik plaas deur die inname van besmette rou groente wat gekontamineer is deur die mis van besmette diere, besmette verwerkte vleis, sagte kaas, ongepasteuriseerde melkprodukte en rou melk. Besmette gerookte vleis en visprodukte kan ook ‘n belangrike rol speel in die besmetting by mense wat die produkte eet. Die kieme lewe ook in voedselverwerkingsaanlegte en kan vleis- asook visprodukte wat verwerk word, besmet. Dit is moontlik dat besmetting ook deur inaseming van die kiem kan voorkom.
‘n Groot aantal plaasdiere soos skape, bokke en beeste is onopsigtelike (subkliniese) draers van Listeria-kieme en skei die kieme in hulle mis en melk as hulle gestres word, uit. Hierdie diere is nie siek nie. Bogenoemde diere kan ook siek word weens listeriose. Die diere kan aborteer (nageboorte kan vassit), mastitis, bloedvergiftiging asook breinvlies- en breinontsteking kry. Ander simptome wat die diere toon is koors, depressie, inkoördinasie, verlamming van gesig met eensydige verslapping van die lippe, ore en ooglede.
Sekere mense het ‘n groter risiko om om listeriose te kry: Babas (<30 dae) en kinders onder vyf jaar, swanger vroue, persone wat teensuurmiddels gebruik, mense wie se immuniteit onder druk is en persone wat ouer as 65 jaar is, het ‘n groter risiko om siek te word. Persone met diabetes (suikersiekte), lewersiekte, niersiektes en alkoholiste loop ook ‘n risiko om listeriose te kry.
Die fetus van swanger vroue kan ook aangetas word en tot aborsies lei. ‘n Pasgebore baba wat voor geboorte besmet is, kan breinvlies- en breinontsteking opdoen en sterf. Swanger vroue is 20 keer meer vatbaar vir listeriose as die gemiddelde gesonde volwasse vrou. Persone met MIV/vigs is 300 keer meer vatbaar vir listeriose as mense met ‘n normale immuunsisteem.
Die kieme wat die liggaam binnedring, het ‘n voorkeurvestiging vir die brein, dermwande en plasenta. Die Listeria-kiem leef binne-in liggaamselle en het die vermoë om van sel tot sel te versprei en sodoende deur die bloedbreinskans asook die derm- en plasentaskans te dring en infeksie te veroorsaak. Simptome by mense wat listeriose het, kan die volgende wees: Koors, spierpyne, naarheid, diarree, hoofpyn, stywe nek, verlies van balans, spiertrekking en hul kan deurmekaar wees. Partykeer dink mense hulle het griep-simptome, maar dit kan in werklikheid listeriose wees. Die voorkoms van listeriose is sporadies wêreldwyd, maar kan groot skade met ‘n uitbreek veroorsaak.
Die Listeria-kiem kan in ‘n yskas (2°C tot 6°C) oorleef en vermeerder. Die kiem kan ook bevriesing (-9°C tot -18°C) oorleef. In die voedselketting kan besmetting vanaf die plaas tot by die bord met kos plaasvind. Herkontaminasie van voedsel hou groot gevaar vir higiëniese hantering van voedsel in. Daar is tans nie ‘n geskikte Listeria-entstof vir voorkoming beskikbaar nie.
Voorkoming en beheer van listeriose
Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by info@zoonoses.co.za of besoek www.zoonoses.co.za.
Publication: May 2018
Section: On farm level