January 2014
Aan die einde van elke jaar vra al die landboutydskrifte en media ‘n vooruitskouing vir die nuwe jaar. Nadat ek ‘n dokument vir hierdie doel opgestel het, was ek eintlik verbaas oor die goeie vooruitsigte ten opsigte van die vraag na grane en oliesade.
Ja, ek weet, daar is ook dié dinge wat nie so goed lyk nie, maar dit is meestal dinge waaraan ons baie min kan doen. Die hele seisoen was ‘n maand laat. Die produsente van die suide moes ‘n maand lank wag vir die reën om op te klaar sodat hulle kon oes en toe moes die produsente van die noorde ‘n maand wag vir die reën om te kom voordat hulle kon plant.
Dalk is dit juis iets wat ons die nuwe jaar saam met ons moet indra: Kom ons bekommer ons nie oor dit waaraan ons min kan doen nie. Die proses van grondhervorming sal steeds voortgaan en die weer en markte sal onvoorspelbaar bly. Swak dienslewering en korrupsie sal seker, soos die armes, altoos met ons wees in 2014.
Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat die vraag na graan en oliesade steeds sterk groei. Met die immer groterwordende fokus op landbou in Afrika en die voedselsekerheid wat dit moet meebring, voorspel dit net goeie tye vir produsente. In 2014 sal ons aandag as organisasie steeds gefokus wees op volhoubaarheid. Al hierdie groei in vraag (plaaslik en/of internasionaal) moet omgeskakel kan word na winsgewende produksiegeleenthede.
As deel van volhoubaarheid gaan ons as organisasie hierdie jaar ook met nuwe ywer en visie kyk na ons volgende generasie...Volgende generasie tegnologie, maar veral ook na die mense van die volgende generasie. Waar sit die navorsers, landbou-ekonome, markontleders en leiers van môre? Wie leer hulle? Waar is die volgende generasie plaaswerkers wat ons hoogsgesofistikeerde implemente moet hanteer? Hulle is dalk nou so iewers in hulle twintigs besig met hul selfone, oorfone en hormone!
Miskien weet hulle nog nie van springhaasrotte, Sclerotinia en dieselrabatte nie, maar hulle is gereed om daarvan te leer – as daar maar net iemand is wat vir hulle die pad kan wys. Ek het ook in my nadenke oor die volgende generasie gewonder hoe verkeerd die woord transformasie of oordraging kan wees.
Transformasie klink soos iets vat van een en vir ‘n ander gee en dan het jy dit nie meer nie. Met grond kan dit dalk nog so werk, maar met inligting en kennis kan dit mos nie so werk nie. Ek verloor mos nie iets as ek dit vir ‘n ander leer nie. So, kry gerus ‘n nuwe beeld van kennisoordraging.
In Novembermaand het ek die “jongspan” van Graan SA se personeel, so in hulle twintigs, op ‘n dag bymekaargemaak en hulle so ‘n paar basiese lewenslesse geleer. Daar was ook so ‘n paar Ekonomie 101 lesse tussenin net indien hulle dit dalk op universiteit gemis het, maar die uitkoms was baie positief.
Almal het nou ‘n beter begrip van waar Graan SA is en waarheen ons op pad is. Die redes waarom ‘n organisasie soos Graan SA bestaan en die dinge wat hulle moet leer om die verantwoordelikheid van volhoubaarheid en voedselsekerheid na ‘n volgende vlak te neem, is mooi aan hulle verduidelik. Ná die tyd het ek ryker en nie armer gevoel nie.
Ek het niks verloor nie, maar ‘n klompie kennis in jong, energieke en talentvolle jongmense se lewens ingebou tot voordeel van al ons lede en die mense in Suid-Afrika. Dit gee my ook hoop dat, ongeag waar my kinders en ongebore kleinkinders eendag sal wees, daar wel nuwe landbou-ekonome en -werkers sal wees wat dít waarmee ek al vir 29 jaar besig is, kan voortsit en daarop sal kan verbeter.
Sterkte vir die nuwe jaar en mag jy ook iewers ‘n geleentheid kry om kennis oor te dra aan die volgende generasie sodat dit jou ook ryker kan agterlaat.
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Publication: January 2014
Section: Editorial