• Login
  • Search Icon

DIE VERSKIL TUSSEN 'N TREKKER EN 'N FERRARI IS NIE DIE PRYS NIE

October 2012

image

Tydens hulle Bosberaad in September 2012 sal die kabinet, minister Trevor Manual se 2030 plan en aanbevelings vir Suid-Afrika oorweeg. Met die aanstelling van die lede van die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) is daar sorgvuldig deur die name gekyk om te sien wie die landbou se saak gaan dien en bevorder.

Hier wil ek veral vir professor Mohammad Karaan 'n pluimpie gee. Die wyse waarop hy homself omring het met kundiges en leiers in die landbousektor, was duidelik 'n resep wat werk. Ons lees nie verniet in Spreuke 15:22 dat: "Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is."

Die sukses van 'n gemeenskap word gebou op die fondasies van sy institusionele kapasiteit. Die landbousektor in Suid-Afrika is baie geseënd met instansies soos Graan SA en ander wat oor die land se geheue en kundigheid beskik wat deur die Nasionale Beplanningskommissie benut is om by hul planne en drome uit te kom.

Dit het my ook onwillekeurig laat dink aan die dae toe die Mielietrust moes besin oor of hulle by die oprigting en befondsing van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) betrokke moet wees al dan nie. Wat 'n skitterende belegging was dit nie! BFAP het reusewerk gedoen om vleis te gee aan drome soos werkskepping in die landbousektor en ook die identifikasie van groeigeleenthede.

Die 2030 plan skep 'n raamwerk waarbinne Graan SA ook sal moet besin oor watter tipe organisasie nodig sal wees om die graan- en oliesadeprodusente en ook die bedryf in die breë te dien. Ook hierin het die Nasionale Beplanningskommissie 'n wenk of twee gelaat oor waar die fokus behoort te wees. Die pad loop via die kennis en kundigheid van dié mense wat die organisasie lei en dien. Kundigheid dryf verandering en verandering bring ontwikkeling.

Nou wonder jy seker waar pas die trekker en die Ferrari waarna ek in die opskrif verwys, in? Daar word gereeld besin oor waarom landbou nie aantreklik is vir jongmense as loopbaankeuse nie. Vir ons wat die aarde in ons bloed het, is dit moeilik om te verstaan waarom hulle 'n Ferrari bo 'n trekker verkies, want dit kan beslis nie oor die prys wees nie, want albei is ewe duur!

Ons taak is dus om hierdie jongmense te oortuig dat daar 'n groter bevrediging lê in die bewerking van die aarde om 'n oes voort te bring en sodoende die mensdom en die diereryk aan die lewe te hou as in die kortstondige thrill om 'n Ferrari se petrolpedaal vir 'n paar sekondes weg te trap. (As gevolg van die toestand van ons land se paaie, sal hy waarskynlik enkele minute later die spaarwiel moet aansit of 'n spoedkaartjie moet betaal.)

Ons skoleprogram wat deur die Mielietrust en die Wintergraantrust befonds word, bereik jaarliks sowat 33 000 graad 9-leerders. Hierdeur word daar gepoog om hulle aan die landbousektor as 'n loopbaangeleentheid bekend te stel.

Dat landbou oor die vermoë beskik om Suid-Afrika na 'n nuwe toekoms te lei teen 2030 word nêrens betwis nie, maar dit gaan visionêre en brawe leiers kos en sommer 'n goeie klomp harde werk. Die Bybel leer ons dat landbouers uitstekende leiers oplewer wat oral as voorbeelde gebruik word.

Jou ondersteuning as lid van Graan SA sal verseker dat die organisasie nie net sy kundigheid behou nie, maar sal kan uitbrei om die nodige leiding te verskaf op pad na hierdie toekoms. As produsente weet ons dat die pad daarheen nie vir Ferrari's gebou is nie, maar wel vir trekkers en daarom sal ons nie terugdeins vir elke slaggat, opdraande en klipbank nie. Viva Graan SA, viva!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: October 2012

Section: Editorial

Search