• Login
  • Search Icon

Die sensitiewe kant van ons enigste nie-hernubare natuurlike hulpbron

November 2015

JOHAN HABIG, LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Suid-Afrika is ryk aan natuurlike hulpbronne. Lug, water en grond is wel ons land se mees kosbare hulpbronne, maar grond is egter ons enigste nie-hernubare hulpbron. Dit is nie verbasend nie, aangesien slegs ongeveer 6 cm - 8 cm vrugbare grond oor ‘n tydperk van 2 000 jaar natuurlik gevorm word.

Die sensitiewe kant van ons enigste nie-hernubare natuurlike hulpbron

Paradigma-verskuiwing

Tradisioneel was dit standaardpraktyk om grond te sien as iets wat “dood” is – geskape om mielies, sonneblom en koring regop te hou. Omdat ons nie van beter geweet het nie, het ons ons gronde dienooreenkomstig hanteer.

Dit is omgeploeg; kunsmis, insekdoders en onkruiddoders is onoordeelkundig aangewend om die jaarlikse opbrengs te vermeerder; landerye is braak gelaat direk ná oestyd en die beeste is ingejaag om elke laaste oorblywende stukkie plantmateriaal op te vreet.

‘n Handjievol produsente het mettertyd begin om met alternatiewe boerderymetodes te eksperimenteer om hulle opbrengste op te stoot. Party het meer as een gewas op hulle landerye geplant; ander het weer besluit om geld te spaar deur saad te plant sonder om landerye om te ploeg.

Só het dit gebeur dat hierdie produsente ‘n styging in hulle opbrengs waargeneem het. Navorsers het begin om ondersoek in te stel en geleidelik agtergekom dat grond eintlik vol lewe is – dit het gelei tot die ontstaan van grondmikrobiologie. Grondlewe bestaan uit duisende verskillende insekte, erdwurms, aalwurms (nematode), swamme, giste, eensellige organismes en biljoene bakterieë – elkeen met sy eie spesifieke en noodsaaklike rol om te vervul in die grond-ekosisteem.

Grond(mikro)biologie

Navorsers het oor tyd tot die gevolgtrekking gekom dat daar tussen ‘n 100 miljoen en 1 miljard bakterieë in ‘n enkele teelepel grond teenwoordig is. Dink bietjie hieroor: 100 000 000 tot 1 000 000 000 bakterieë in ‘n teelepel grond...En ongeveer 5 000 verskillende tipes bakterieë in 1 g grond.

Net omdat ons hierdie bakterieë nie kan sien nie, beteken nie dat hulle geen gewig het nie. As die gewig van al die bakterieë in ‘n 0,4 ha stuk grond bereken sou word, sou dit maklik gelykstaande wees aan die gewig van een of twee beeste. Behalwe vir die bakterieë, kan ‘n teelepel vrugbare woudgrond meer as 1,6 km se swamdrade (fungi hifes) bevat.

Die sensitiewe kant van ons enigste nie-hernubare natuurlike hulpbron

Funksie van grond

Buiten om as ‘n medium te funksioneer waarin gewasse geplant word, is grond ‘n uitstekende waterfiltreringsisteem. Soos water deur die grondlae beweeg, word baie van die onsuiwerhede deur die gronddeeltjies teruggehou en beland die skoner water in ondergrondse waterstrome en watertafels.

Grond het ook die vermoë om oorstromingsrisiko’s te verminder deur soos ‘n “spons” op te tree: Dit kan tot 9 000 ton water in slegs 0,4 ha opneem en stoor. Dit is verstommend, veral as ons in gedagte hou dat, wanneer 10 ton bogrond eweredig oor ‘n 1 ha oppervlak versprei word, dit slegs 2,35 mm diep is.

Grond bestaan uit 45% minerale, 25% lug, 25% water en 5% organiese materiaal. Hierdie samestelling verskaf voldoende voedingstowwe aan die plante en die lewe in die grond-ekosisteem. Wanneer iemand egter van termiete, miere, aalwurms, swamme of bakterieë praat, is ons ge woonlik óf nie seker wat die funksie daarvan is nie, óf dit veroorsaak ‘n spontane behoefte om chemikalieë te koop wat “dié pes” in die kiem kan smoor.

Aalwurms, swamme en bakterieë word gewoonlik met grootskaalse verliese in opbrengste geassosieer. Die teenwoordigheid van goeie en slegte grondorganismes in ‘n baie fyn balans, is egter nodig om probleme te voorkom.

Sodra hierdie fyn balans versteur word deur die onoordeelkundige toediening van kunsmis, gifstowwe en die gebruik van ander nadelige landboupraktyke, kan dit lei tot ‘n drastiese opbloei in plantsiektes en ‘n verlaging in opbrengs.

Verandering

Gedurende die laaste paar dekades het produsente en navorsers besef dat iets drasties gedoen moet word in ‘n poging om ons gronde te red van ‘n onherstelbare agteruitgang.

Dit het gelei tot bewaringslandbou: ‘n Omgewingsvriendelike boerderymetode wat nie net daarop gemik is om opbrengste te verhoog nie, maar ook om die natuurlike balans in die grond te herstel.

Dit word onder andere bereik deur ‘n groter verskeidenheid gewasse op ‘n land te plant, ‘n minimum van 30% grondbedekking te handhaaf en om die grondoppervlak so min as moontlik te versteur. Deur ‘n groter verskeidenheid gewasse te plant as deel van ‘n wisselbousisteem of ‘n tussenverbouingsprogram (intercropping), word ‘n wyer verskeidenheid grond mikroörganismes gestimuleer wat gelyk tydig ‘n klomp ander belangrike funksies in die grond kan verrig.

Een van die belangrikste funksies behels die omskakeling van organiese materiaal in opneembare elemente wat dien as plantvoeding. Verskillende grondmikrobiese spesies besit ook die vermoë om spesifieke chemiese stowwe af te skei wat skadelike grondlewe nadeling kan beïnvloed, terwyl ander “voordelige” grondmikroörganismes ander chemiese stowwe afskei wat wortelgroei kan stimuleer. Plant- en grondgedraagde siektes verminder omdat die siekteveroorsakende organismes nie voldoende geleentheid gegun word om te vestig nie. Grondstruktuur verbeter omdat die wye verskeidenheid gewasse se verskillende wortelstelsels groot stukke grond opbreek soos dit deur die verskillende gronddieptes groei.

Voedingstowwe word sodoende ook in die dieper grondlae afgeskei, wat lei tot ‘n verhoging in grondvrugbaarheid in die dieper grondlae. Deur ‘n minimum van 30% grondbedekking te handhaaf, word die bogrond voortdurend koel gehou en verdamping tot ‘n minimum beperk. Onder hierdie gunstige omstandighede, word die groei van swamme (hoofsaaklik) en bakterieë wat verantwoordelik is vir die afbreek van organiese materiaal, gestimuleer.

Erdwurms, termiete, miere en ander tonnelgrawende organismes word gevolglik gestimuleer om organiese materiaal vanaf die grondoppervlak te vervoer na dieper grondlae waar bakterieë en ander mikroörganismes dit omskakel in voedingstowwe wat deur plantwortels opgeneem kan word.

Dit is duidelik dat alles in die grond-ekosisteem baie fyn geïntegreer is en in harmonie saamwerk om die grondomgewing soos ‘n groot suksesvolle fabriek te laat werk. Deur grond om te ploeg, is soos om die uitwerking van ‘n aardbewing wat 20 op die Richterskaal registreer, in ‘n stad soos New York te aanskou: Totale vernietiging!

Met die omdraai van die boonste grondlaag word organismes wat geen sonlig en min suurstof benodig om hulle funksies suksesvol te verrig, skielik blootgestel aan te veel sonlig en suurstof. Organismes wat weer baie sonlig en suurstof benodig om hulle funksies te verrig, se wêreld word ook só omgekeer. Swamme wat verantwoordelik is vir die afbreek van na-oes plantreste, word vernietig en die afbreekproses word vertraag.

Die tonnels wat deur miere en erdwurms gegrawe is, word vernietig en funksionele mikrobiese gemeenskappe word totaal verwoes. Gevolglik gaan dit ‘n geruime tyd neem voor al die organismes hulleself kan herorganiseer om die grondprosesse weer optimaal te laat verloop.

Die sensitiewe kant van ons enigste nie-hernubare natuurlike hulpbron

Hoe bepaal ons grondgesondheid?

Reeds vir dekades lank word grondfisiese chemiese analises gebruik as ‘n maatstaf om grondgesondheid te bepaal. Alhoewel dit nie verkeerd is nie, maak dit tog sin om eerste na die meer sensitiewe indikatore te kyk.

Aangesien mikroörganismes uiters sensitief is vir enige versteuring/verandering in die grondomgewing, is daar ‘n hele reeks toetse wat op grondmikrobiese populasies gedoen kan word om grondgesondheid te bepaal.

Soos met ‘n siek persoon, sal ‘n enkele toets nie die volle antwoord verskaf nie; daar is ‘n hele lys toetse wat gedoen moet word voordat ‘n finale diagnose gemaak kan word. Presies dieselfde geld vir grond. Dit is onmoontlik om met slegs een grondmikrobiese analise te bepaal in watter toestand ‘n grond is. Dit word ten sterkste aanbeveel dat grondmikrobiese analises minstens twee keer in ‘n seisoen gedoen word oor ‘n periode van minstens drie tot vyf jaar. Die LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming in Pretoria, beskik oor voldoende fasiliteite en kennis om hierdie indikators te kan bepaal as ‘n aanduiding van grondgesondheid. Hierdie diens is beskikbaar aan enigiemand wat besorg is oor hulle grond.

imageOns is aangestel as opsigters oor ons gronde. Kom ons tree so op, want wanneer ons gronde eendag in duie stort, neem dit die hele mensdom saam: Geen grond, geen produsente, geen landbou, geen mensdom.

Vir meer inligting hieroor, kontak die outeur by HabigJ@arc.agric.za.

Publication: November 2015

Section: Focus on

Search