• Login
  • Search Icon

Die moets en moenies van plantparasitiese aalwurmbeheer op sojabone

December 2012

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Aalwurms is een van die mees ernstige ekonomiese plae op sojabone en kan vir die produsent baie skade aanrig as hy onverhoeds betrap word. Ongelukkig is dit juis aalwurms wat die produsent dikwels onkant kan betrap omdat hulle nie soos insekte met die blote oog gesien kan word nie. Hulle het dus kans om hulself op die sojabone tuis te maak. Teen die tyd dat die produsent onraad merk, is dit dikwels veels te laat.

Aalwurms wat die meeste op sojabone voorkom

Van al die plant-parasitiese aalwurms wat op sojabone parasiteer, is knopwortelaalwurms (Meloidogyne spp.) en letselaalwurms (Pratylenchus spp.) dié aalwurmspesies wat die algemeenste op sojabone voorkom. Omdat hulle so ‘n wye gasheerreeks het, gee knopwortelaalwurms die meeste probleme van die twee aalwurmspesies. Knopwortel aalwurms parasiteer dus nie net op die sojabone nie, maar ook op die meeste van die ander gewasse wat dikwels in ‘n sojaboon gebaseerde wisselbousisteem ingesluit word. Dit is dus nie so maklik om knopwortelaalwurm uit te roei nie. Al wat die produsent in so ‘n geval kan doen, is om te probeer om die aalwurmgetalle laag genoeg te hou sodat die skade wat hulle aanrig, nie aan sy sak vat nie. Die beheermetodes wat hieronder bespreek word, sal nie net vir knopwortelaalwurm werk nie, maar sal ook van toepassing wees op al die ander aalwurmspesies.

Beheermaatreëls vir aalwurms op sojabone

Dit is weer eens baie belangrik om twee of meer van die beheermaatreëls te kombineer sodat as die een beheermaatreël om een of ander rede gedurende die seisoen faal, die produsent steeds op die ander beheermaatreël kan terugval. Sodoende word die risiko van die produsent versprei en vergroot hy sy kanse om ‘n goeie soja-oes te kan afhaal.

Chemiese beheer
Geen chemiese beheer is tot op hede vir die beheer van aalwurms op sojabone geregistreer nie. Die ander maatreëls wat hier bespreek word, moet dus ingespan word.

Wisselbou
Wisselbou word sterk aanbeveel, nie net omdat sekere gewasse mekaar kan bevoordeel nie, maar ook omdat dit siektes kan kortwiek. Ongelukkig het baie produsente nie ‘n baie wye keuse in terme van gewasse wat hulle in sojaboongebaseerde wisselbousisteme kan insluit nie.

Daar bestaan gelukkig vlakke van weerstand tussen kultivars van ‘n spesifieke gewas. As die produsent knopwortelaalwurmprobleme het, vra die agent waar die saad aangekoop word of hulle aalwurmweerstandbiedende kultivars het. Wisselbou kan met al die ander beheermaatreëls gekombineer word.

Weerstandbiedende sojaboonkultivars
Indien beskikbaar, kan sojaboonkultivars met aalwurmweerstand vir die produsent baie beteken. Só ‘n kultivar kan vir die produsent ‘n goeie inkomste op aalwurmbesmette lande verseker, terwyl die aalwurmpopulasie self onder beheer gebring kan word. Boonop is dit omgewingsvriendelik en kan sonder moeite in reeds bestaande plaagbeheerprogramme ingesluit word. Hierdie maatreël kan maklik met al die ander beheermaatreëls gekombineer word. Ongelukkig is dit net Egret wat nog kommersieel beskikbaar is, wat weerstand teen knopwortelaalwurms het.

Biologiese beheer
Baie produsente begin nou die water toets met hierdie beheermetode. Neem in ag dat hierdie metode tot vyf jaar kan neem voordat ‘n mens regtig resultate kan sien. Biologiese beheer is gebaseer op lewendige bakterieë en swamme wat die aalwurms moet aanval. Die produk is dus vol lewendige organismes. Wees daarom versigtig hoe dit hanteer word en hou ook in gedagte dat dit dalk op ‘n sekere manier gestoor moet word.

Hierdie beheermaatreël kan met wisselbou en weerstandbiedende kultivars gekombineer word. Wees egter versigtig as dit saam met chemiese beheer gebruik word. Die chemiese doders kan die organismes in die biologiese produk ook doodmaak, daarom moet die spuitprogramme baie deeglik uitgewerk word.

Publication: December 2012

Section: Input Overview

Search