• Login
  • Search Icon

Die lang wag voor Kanaän se poorte

April 2013

– April 2013

image

Beste Grootneef

Ou Thysie was 'n vrygewige man. Of die vliegtuig al oor was of nie, hy wou vir jou 'n knertsie gooi as jy by hom aangedoen het. Soms het hy gekla oor die wêreld wat hom nie verstaan het nie. "Almal praat van my groot drink, maar niemand praat van my groot dors nie," het hy gemurmureer.

Eenmaal met nagmaal was beide sy hande hoog in die lug as antwoord op die vraag wie oorgeslaan is met die beker. Met ontvangs van die beker, het hy dit soos 'n kleinood teen die bors gedruk en toe begin om diep teue daaruit te neem. Die diaken wou nog die beker terugneem, maar met elke beweging van die diaken, skuifel ou Thysie dieper die bank in. Teen die tyd dat die desperate diaken versterkings kon kry om ou Thysie aan die ander kant van die bank voor te lê, was die beker tot die laaste droesem geledig...Vir die res van die diens het hy ewe tevrede in sy hoekie gesit en dut.

Die kerkraad het hieruit geleer en in die vervolg met nagmaal 'n eie beker met 'n enkelsopie aan ou Thysie bedien. En glad nie gereageer op sy gehandeswaai as dit kom by wie oorgeslaan is nie...

Ou Thysie is jare later tragies oorlede. Sy buurtante het kom hulp soek om 'n nuwe gashouer aan die geiser te koppel. Die hoekie waar die houer gestaan het, was effe in die donker en ou Thysie het 'n vuurhoutjie getrek om te sien wat fout is. Dit was ook die laaste ding wat hy op aarde gedoen het...

'n Kennis van my verdien nou sy sout in Dubai se wêreld. Om daar iets soos klippies en Coke of Richard Louw te bekom, is nie so maklik nie. Jy moet as vreemdeling in die poorte 'n propperse "dranklisensie" bekom, al is dit vir eie gebruik. 'n Hele boekrol moet vir die lisensie voorberei word. Dit sluit in jou paspoort en visum, bewys dat jy in Dubai woon en werk, skriftelike toestemming van jou werkgewer dat jy 'n geleentheidsdoppie mag gooi, jy moet jou inkomste verklaar (ónder 'n sekere inkomste kwalifiseer jy glad nie!), 'n verklaring dat jy nie 'n Moslem is nie en helaas 'n paspoortfoto om te sien of dit jy is wat die aansoek bring!

Dié kaboedel papiere vat jy na die owerste oor dranklisensies in Shaik Zayedstraat. Die plek is behoorlik gefortifiseer met dik staaldeure. Abdoel agter die toonbank vat jou aansoek en plaas 'n swierige tjap daarop. Hy vra ook terstond daar en dan 'n "munisipale fooi". Dié beland waarskynlik in sy eie kleinkas!

Die aansoek vat drie tot vier weke om te verwerk en dan word jy verwittig of jy suksesvol was al dan nie. Maar helaas, as die poorte van Kanaän agter Abdoel oopgaan, begewe jy jou tussen rakke vol nektar uit die Kaapse wingerde en Germaanse bruisdrankies van oor die hele planeet. Jy kan maar sê, trosse druiwe waaraan twee man moet dra...

Nou dink ek so by myself. As ou Thysie vier weke moes wag vir 'n dranklisensie, was hy dalk nog met ons op die ondermaanse. Maar toe is sy lot bepaal deur 'n vliegtuig wat oor onse dorpie is...

Groete op die Oosgrens

Kleinneef

Publication: April 2013

Section: E-mails

Search