• Login
  • Search Icon

Die kwynende sorghumbedryf

October 2011

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM, MARKNAVORSING, GRAAN SA

Die produksie van sorghum is weens verskeie faktore besig om in Suid-Afrika te daal. Hierdie faktore sluit in ‘n afname in aanplantings, die invloed van plae (kwelea en duiwe), ‘n onvoldoende aantal kopers en ‘n gebrek aan mededingendheid.

Sorghum het ook in terme van opbrengs teenoor GMO-gewasse soos GMO-mielies en -sojabone, agterweë gebly. Sorghum en sorghumprodukte kan ook nie weens die BTW wat daarop gehef word, met produkte waarop daar geen BTW gehef word in die waardeketting kompeteer nie.

Afname in sorghum produksie

Sedert die 1997/1998-produksieseisoen het die produksie van sorghum van 350 000 ton tot 200 000 ton in 2011/2012 afgeneem. Die oppervlakte aangeplant het van meer as 160 000 ha tot minder as 75 000 ha afgeneem. Die produksie (ton/ha) van sorghum het ook oor die afgelope 15 jaar teenoor biotegnologie-ondersteunde gewasse agterweë gebly (Grafiek 1).

image

Sorghummeel se verbruik het sedert 1997/1998 vanaf ongeveer 50 000 ton tot meer as 100 000 ton verdubbel terwyl die verbruik van mout vanaf ongeveer 160 000 ton tot minder as 80 000 ton afgeneem het (Grafiek 2). ‘n 10% daling in die persentasie eindvoorraad as persentasie van die totale kommersiële vraag het 2011/1012 gekenmerk (Grafiek 3). Die toename in sorghumverbruik in die meelmark en afname in die moutmark is kenmerkend van die bedryf.

image

image

Markuitbreiding vir mout, meel- en uitvoerdoeleindes

Die toekomstige uitbreiding van die sorghummark is afhanklik van voldoende kultivars. Indien die beskikbare kultivars nie die toekomstige behoeftes van die meel- en maalmark aanspreek nie, moet dit aandag geniet. Daar behoort sekerheid te wees oor die vereistes wat toekomstige markbehoeftes aan nuwe kultivarontwikkeling en die saadbedryf stel. Tans word die huidige kultivarvereistes deur moutvereistes bepaal terwyl die behoefte na hoër opbrengs kultivars wat vir die maalbedryf geskik is, egter aan die toeneem is.

Die huidige stand van kultivarontwikkeling

Nuwe kultivarvrystelling word tans op die moutmark gerig en die kiemplasma vir GM-klas kultivarteling is uitgeput en geen vordering kan verder gemaak word om ‘n hoër opbrengs met goeie moutkwaliteit te behaal nie. Daar is ook ‘n negatiewe konnotasie tussen opbrengs en kwaliteit. Al manier wat daar is om hoër opbrengste op nuwe GM-klas kultivars te kry, is om kiemplasma te gebruik met swakker of geen vermoutingseienskappe nie.

Die vrystellingsnorme vir moutkultivars laat egter nie toe dat swakker vermoutingseienskappe oorweeg word nie. Intussen het die langtermyntoename in sorghumopbrengste (ton/ha) teenoor die opbrengste vir GMO-mielies agterweë gebly (Tabel 1) en spoor dié feit die produksie van mielies bo sorghum aan.

image

Die ontwikkeling van nuwe GL-klas kultivars

Daar is egter ander gebruike wat die produksie van sorghum kan bevorder. Indien die GL-klas kultivars verder vir die maalmark ontwikkel kan word, sal nuwe kultivars met betekenisvolle beter opbrengste en agronomiese eienskappe vrygestel kan word. Indien die ontwikkeling voortgaan, kan dit die volhoubare produksie van sorghum verbeter.

Die ontwikkeling van ‘n GL-klas kultivar wat vir die produsent ‘n hoër opbrengs as die GM-klas kultivars kan verskaf, maar wat ook aan die meelmark se kwaliteitsvereistes moet voldoen, is dus nodig. Tradisioneel was daar, buiten vir die voermark en teen laer pryse, nie ‘n geskikte maalmark vir GL-klas kultivars nie.

Indien ‘n GL-klas kultivar ontwikkel kan word om aan die vereistes van die maalbedryf te voldoen, behoort die maalbedryf die kultivar vir die toekomstige aanwending in die maalbedryf gunstig te oorweeg. Die GL-klas sorghum word reeds in die graderingsregulasies ingesluit en dit is moontlik om ‘n toekomstige GL-kultivar wat vir maaldoeleindes ontwikkel word se identiteit in opberging te behou.

Verskeie rolspelers in die sorghumbedryf stem reeds saam dat die ontwikkeling van ‘n GL-klas kultivar wat ‘n hoër opbrengs kan lewer (ton/ha), maar terselfdertyd aan die kwaliteitsvereistes van die maalbedryf moet voldoen, bevorder moet word. Die Wet op Landbouprodukstandaarde, 1990 (Wet Nr. 119 van 1990) tref voorsiening vir ‘n GL-klas sorghum (Graad 1 & 2) en sodoende is die behoud van identiteit van ‘n GL-klas sorghum vir die maalbedryf moontlik.

BTW op sorghum en sorghumprodukte

Weens die BTW wat op sorghum en sorghumprodukte gehef word, kan sorghum nie met produkte wat van BTW vrygestel is in die waardeketting kompeteer nie. Die koste-impak van BTW op sorghum en sorghumprodukte eskaleer verder af in die waardeketting tot by die eindverbruiker. Sorghumprodukte ding prysgewys met hierdie produkte mee en pryse word dienooreenkomstig in die waardeketting aangepas. Gevolglik dra die BTW op sorghum daartoe by dat sorghum en sorghumprodukte nie met die kommoditeite en produkte in die waardeketting kan meeding nie omdat sorghum en sorghumprodukte nie premies bo dié produkte in die markplek kan behaal nie. Gevolglik het BTW ‘n negatiewe impak op die produksie en verbruik van sorghum.

Samevatting

Sorghumproduksie (ton/ha) kan nie met GMO-gewasse soos GMO-mielies tred hou nie. Verder word die bestaande kultivars aan die vereistes wat die moutmark stel, onderwerp, terwyl die langtermynmoutverbruik teenoor meelverbruik aan die afneem is. Die mark se toekomstige behoefte aan kultivars moet dus aangespreek word, maar die saadbedryf moet sekerheid hê dat die meelmark die nuwe kultivars sal opneem.

Ten slotte behoort daar nie BTW op sorghum en sorghumprodukte te wees nie. Graan SA ondersteun die ontwikkeling van ‘n nuwe GL-klas kultivar vir die maalbedryf en die afskaffing van BTW op sorghum en sorghumprodukte.

Nota

GM-kultivars = moutkultivars met geen tannien-inhoud.
GH-kultivars = moutkultivars met tannien-inhoud.
GL-kultivars = kultivars met betekenisvolle beter opbrengste en agronomiese eienskappe en tradisioneel gerig op die voermark.

Bronnelys

Graan SA databasis, 2011.
Notule: Sorghum Wegbreeksessie by Graan SA-Kongres, 2011, NAMPO Park, Bothaville.
Notule: Sorghum Spesialiswerkgroepvergadering op 6 Junie 2011, Landbousentrum, Potchefstroom.

Publication: October 2011

Section: Input Overview

Search