October 2017
Bewaringslandbou rus op drie steunpilare, naamlik minimale grondversteuring, diversiteit deur wisselbou en die behoud van bedekking. Die sukses van bewaringslandbou is afhanklik van ‘n holistiese stelsel-benadering.
Deur net een of twee van die pilare te implementeer kan werk, maar dit is belangrik dat besef word dat daar ‘n groter kans op sukses is wanneer die volle stelsel geïmplementeer word.
Die meeste produsente in die koringproduksie-areas van die Wes-Kaap het reeds die konsepte van bewaringslandbou omarm en pas dit uitstekend toe. Daar is egter nog diegene wat hul materiaal (bedekking) gedurende die maand of twee voor planttyd begin, brand. Aprilmaand in die Swartland sien jaarliks ‘n dynserigheid as gevolg van die rook in die lug. Hierdie artikel gaan bietjie filosofies raak oor hierdie verskynsel; daarom die gekose titel.
Wanneer ‘n mens met produsente praat en vra waarom hulle die lande brand, word verskeie redes aangevoer.Die twee wat egter die meeste verskaf word, is onkruidbeheer en sodat hulle makliker kan plant met hul tandplanters. Dit is verseker twee aspekte wat probleme in ‘n produksiestelsel kan veroorsaak. Wanneer ‘n mens oesreste brand om onkruidsaad te beheer, is daar ‘n stel voorskrifte wat gevolg moet word om suksesvol te wees. Die Australian Herbicide Resistance Initiative (AHRI) het heelwat navorsing hieroor gedoen.
Om regtig suksesvol te wees, moet die materiaal in nou windrye geplaas wees, daar moet ‘n hoë volume materiaal in daardie windry wees en die brand moet stadig teen die wind in plaasvind. In die meeste gevalle, of miskien in al die gevalle, waar daar plaaslik gebrand word, is dit nie die geval nie.
Die voordele van die behoud van oesreste bo-op die grondoppervlakte is wel bekend. Dit hou die grond koeler in die somer en warmer in die winter, dit bekamp wind- en watererosie en verskaf ‘n voedingsbron aan die organismes in die grond wat die organiese materiaal verwerk, met die gevolg dat ons in staat is om organiese materiaal (dus koolstof) stadig maar seker oor tyd op te bou.
Waterinfiltrasie is ook beter waar daar materiaal op die grond is.
Wat gebeur nou as dit gebrand word?
Jy verloor jou organiese bedekking, jy verhoog jou risiko, jy verhoog jou kostes en jy word stadig al hoe armer.
Ons gaan fokus op die volgende drie aspekte: Koolstofdioksied (CO2)-vrystelling, waterhouvermoë en verlies aan voedingstowwe.
CO2-vrystelling
Almal is bewus van die rol wat CO2 in klimaatsverandering speel. Landbou het deur die lang jare van ploeg ‘n groot rol in die vrystelling van CO2 in die atmosfeer gespeel. Nie net het die ploeg van die grond CO2 vrygestel en dus gestoorde grondkoolstof verbrand nie (‘n syfer van omtrent 80% verlies doen die rondte), maar ons het ook fossielbrandstof gebruik om dit te vermag.
Dit is baie waar in die geval van die Swartland, waar die meeste van ons grond minder as ‘n 0,5% koolstof oorhet. Ons het met die oorskakeling van konvensionele bewerking na minimale grondversteuring oor die afgelope 20 tot 30 jaar (eers minimum bewerking of bewaringsbewerking en later geenbewerking) darem die verbranding van fossielbrandstowwe laat daal.
Wanneer ons egter oesreste brand, dra ons weer eens by tot die vrystelling van groot hoeveelhede CO2 aan die atmosfeer. Na ‘n interessante gesprek met ‘n grondkundige, het ek geskrik toe ons die verlies bereken.
Kom ons neem koringstrooi as voorbeeld. Koolstof maak 40% van die totale gewig van koringstrooi uit. Wanneer die stoppel gebrand word, reageer die koolstof met suurstof om CO2 te vorm. Aan elke koolstofmolekuul bind daar twee suurstofmolekule en
die gevolg is dat daar ‘n swaarder verbinding gevorm word.
In kort, as ‘n mens die molekulêre gewigte van die elemente in berekening bring, lyk die som soos volg: As daar 100%verbranding plaasvind, sal 1 kg koringstrooi 400 g koolstof bevat. Dit is 33,33 mol koolstof wat gelyk is aan 33,33 mol CO2 en die massa van 33,33 mol CO2 is 1,47 kg. Hierdie syfer sal ook natuurlik tussen gewastipes verskil, maar ten spyte daarvan, is dit nogal kommerwekkend hoog.
Waterhouvermoë
Die waarde van organiese materiaal in die grond is ook alombekend. Een van die grootste waardes van die organiese materiaal is die vermoë om water vas te hou.
Die Amerikaanse Departement van Landbou het betreklik insiggewende inligting oor die onderwerp en hulle stel die waarde van
1% organiese materiaal in die boonste 15 cm van die grondprofiel gelyk aan 27 000 gelling water per akker, oftewel 252 556 liter per hektaar.
In die omstandighede waarin droëlandgraanproduksie plaasvind is dít uiters waardevol. Die waarde hiervan is duidelik sigbaar binne die langtermynwisselbouproewe op die Langgewens Navorsingsplaas (Wes-Kaapse Departement van Landbou) in die Swartland.
Aan die onderkant van die proewe is ‘n kleinerige plaasdam wat elke winter volgeloop en selfs oorgeloop het, maar nou is daar selde meer as ‘n paar sentimeter se water in die dam. Die grond hou dus die vog vas en afloop van reënwater verminder.
Verlies aan voedingstowwe
Die insluiting van ‘n peulgewas of weiding binne ‘n wisselboustrategie kan ‘n belangrike rol speel om die stikstofbehoefte van opvolgende gewasse te verminder. Net so is daar ‘n magdom voedingstowwe opgesluit in die residu wat agterbly.
Ek het onlangs my hande kon lê op ‘n sigblad-toepassing (oftewel ‘n spreadsheet app) uit die pen van ‘n Australiese agronoom en koolstofkenner. Dit gee jou ‘n idee van hoeveel stikstof, fosfaat en kalium verlore gaan as residu gebrand word.
Daar is rofweg 1,5 keer meer residu as die hoeveelheid saad wat geoes word. As ‘n mens dan die toep gebruik en op ‘n 3 ton koringoes toepas is daar derhalwe 4,5 ton residu/ha.
Volgens die toep verloor ‘n produsent 27,5 kg/ha stikstof, 1,6 kg/ha fosfaat en 26,2 kg/ha kalium. Wanneer jy dan die koste per kilogram van slegs hierdie drie voedingstowwe in berekening bring, raak dit nogal ‘n aardige bedraggie.
Hierdie verliese moet derhalwe met aangekoopte kunsmis vervang word, wat die kostes van produksie opjaag. Dan praat ons nie eers van die res van die makro- en mikro-elemente nie.
Ter afsluiting
Klimaatsverandering klop aan ons deur en ons moet alles doen wat ons moontlik kan om die impak daarvan in ons provinsie te beperk. Bewaringslandbou is daarom een van die strategieë wat in die SMARTAgri-plan vir die Wes-Kaap opgeneem is om die risiko te verminder.
As ons eerlik met mekaar is, maak dit mos basies ekonomiese sin om nie ‘n vuurhoutjie te trek nie. Nou ja, voor iemand my kruisig moet ons ook vir mekaar sê dat die waardes hierbo heel moontlik ‘n worst case-scenario is en tussen areas kan verskil, maar ons is en bly die rentmeesters van die grond waarop ons boer.
So, dink diep en maak die som voor jy die volgende vuurhoutjie trek – selfs as jy bloot ‘n sigaretjie gaan aansteek.
Vir enige navrae, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com.
Publication: October 2017
Section: Focus on