• Login
  • Search Icon

Die klein jakkalsies wat 2012/2013-graanproduksie gekniehalter het

August 2013

KOBUS VAN ZYL, LANDBOUKUNDIGE, OMNIA KUNSMIS

Die 2012/2013-plantseisoen sal sekerlik onthou word as ‘n seisoen van hoogtepunte sowel as laagtepunte. Dit is veral die reënval wat vanjaar in die oostelike produksiestreke bygedra het tot vroeër mielie-aanplantings en dan ook die goeie opvolgreën wat oor die grootste deel van dié produksiestreek voorgekom het.

Plek-plek het die reën op kritieke groeistadiums weggebly, wat ‘n definitiewe merk gelaat het op mielie- en sojaboonproduksie.

Aangesien dit in die 2011/2012-seisoen ook min gereën het in die westelike mielieproduksiearea vanaf einde Januarie, was die meeste profiele droog. Goeie winterreën het egter die situasie verander sodat primêre bewerkings vir die 2012/2013-plantseisoen vroeër gedoen kon word.

In die westelike produksiestreke was reënval vroeg in die seisoen baie sporadies en kon slegs oorlê-lande vroeër geplant word. Min grondbone kon vroeg (Oktobermaand) geplant word.

Die 2012/2013-seisoen sal, veral in die weste, onthou word vir die abnormale hoë maksimum temperature gedurende Januarie, Februarie en Maart vanjaar en ook die gebrek aan voldoende reënval om in die verdampingsaanvraag te kon voorsien.

Die doel van die artikel is om die algemene probleme wat in die westelike produksiegebiede tydens die 2012/2013-seisoen voorgekom het, aan te dui (in geen spesifieke volgorde nie).

Bewerking

Bewerkingsdiepte wat die grond komplementeer, bly een van die grootste uitdagings. Trekkerwielkompaksie en natuurlike verdigting bly steeds een van die grootste beperkings op sandgronde.

Sandgronde met watertafels moet diep genoeg bewerk word, om die plantwortels, so gou as moontlik binne die bereik van die kapillêre sone te laat versprei. Die volume grond wat losgemaak word, moet ook in ag geneem word om te verseker dat opvolgbewerkings nie bemoeilik word nie en dat die effek van die bewerking steeds effektief is.

Die volgende voorbeeld skets van die probleme wat dikwels voorkom. Die primêre ripbewerking word 100% reg uitgevoer. Die sekondêre bewerkings met rolstawe of skoffels om vogverliese na bewerkings te beperk, onkruidbeheer toe te pas of voorplant kunsmis toe te dien, veroorsaak dat die implemente skuif en die saad tydens plant, nie presies op die rip-ry geplant word nie.

Hierdie probleem kan dalk op die oog af nie ernstig klink nie, maar indien die reën weg bly en die plant ook nie voldoende voeding ontvang vanaf voorplantbemesting nie, verander die prentjie drasties.

Foto 1 dui duidelik die verskil tussen die mielies aan die linkerkant en regterkant aan as gevolg van bewerking. Die mielies aan die linker kant was die vorige jaar nie gerip nie, maar is wel presies op die ou rip-ry geplant, terwyl die mielies aan die regterkant elke jaar gerip is. Beide is wel gerip vir die 2012/2013- seisoen en presies op die rip-ry geplant.

image

Gronde wat hoër is in klei, is ook nie gevrywaar van verdigting nie. Die gewig van trekkers en implemente word al hoe swaarder en dit noodsaak ook die korrekte bewerkings om die verdigtingseffektief op te hef. Gronde wat met ‘n verminderde bewerkingstelsel bestuur word, word ook hierby ingesluit.

Bemesting

Die gebruik van hoëkwaliteit plantermengsels (vloeibaar of korrel) is ononderhandelbaar om te verseker dat die gewas wat geplant word die beste moontlike kans het om die beplande oes te realiseer.

Kunsmisplasing is net so belangrik soos die kwaliteit daarvan. Dikwels veroorsaak swak geplaasde kunsmis (té ver of té naby van die saad af) dat die jong plante nie na wense groei nie, of geel vertoon. Indien daar onsekerheid bestaan oor die plasing van kunsmis, kontak gerus jou verskaffer.

Koue, nat toestande aan die begin van die 2012/2013-plantseisoen het weer die waarde van ammoniumnitraatryke vloeibare- en korrelplantermengsels getoon. Suurstof en stikstof is gewoonlik die lewensnoodsaaklike voedingstowwe wat ontbreek onder koue, nat toestande. Goeie deurlugting (skoffel), ammoniumnitraatbasis (KAN)-topbemesting en warm sonlig kan die plante net goed doen.

Swaeltekorte is wydverspreid in die westelike produksiegebied en gewasse soos mielies en sonneblomme benodig genoegsame swael. Die insluiting van swael in ‘n plantermengsel of as topbemesting kan groot voordele inhou, veral as dit die mees beperkende plantvoedingstof is.

Sekondêre voedingstowwe, soos kalsium (Ca) en magnesium (Mg), en mikro-elemente soos B, Cu, Fe, Mn, Mo en Zn word ook deur plante benodig om maksimaal te produseer. Kalsium en magnesium word wel deur bekalking aangevul, maar die waarde van die elemente (Ca, Mg, B, Cu, Fe, Mn, Mo en Zn) in ‘n plantermengsel is dat dit ‘n meer gebalanseerde voeding aan ‘n ontwikkelende plant lewer.

Bekalking

Die basis van enige goeie saaiboerdery is grondchemiese bestuur, daarmee moenie net verseker word dat daar nie oor- of onderbemes word nie, maar grondsuurheidbestuur is ook kritiek belangrik.

Saam met die gebruik van groot hoeveelhede stikstof as voorplanttoediening, kom daar ongelukkig ook die versuring van grond voor. Wanneer die stikstof op ‘n diepte van 25 cm - 30 cm toegedien word, sal die versuring vanaf dié diepte voorkom.

Dit is duidelik dat ondergrondsuurheid (30 cm - 60 cm) ‘n groot probleem word en dat die regstelling daarvan nie altyd maklik of goedkoop is nie. Poog sover as moontlik om die totale stikstofbehoefte van die plante tussen drie toedienings te verdeel, voorplant, met-plant en topbemesting.

Plantdatum

Mielies wat verlede jaar in die laaste week van November en eerste week van Desember geplant is, het geweldige temperatuurwisselings ondergaan wat die plante vir tot solank as twee weke laat stilstaan het. Kyk gerus na die temperature gedurende die periode, in sekere gedeeltes van die westelike mielieproduksie-area het die temperature tot so laag as 0°C gedaal.

Plantestand

Plantestand en kultivarkeuse loop hand aan hand. Meerkoppige mieliekultivars kan teen ‘n laer plantestand per hektaar geplant word om risiko te verlaag. Baie produsente het die afgelope drie jaar na nouer rywydtes verander.

Bestuur die plantestand steeds soos in die verlede, al is die plante op nouer rye verder uitmekaar in die ry. Doen ook genoeg proewe om die mees geskikte stand vir jou hoë-, medium- en laepotensiaalgronde te identifiseer.

Indien lande dalk met planttyd baie nat is, sal ‘n hoër plantestand nie noodwendig help om van die oortollige vog ontslae te raak nie. Die verskille in vogverbruik sal eers vanaf heuphoogte duidelik word.

Aalwurm

Aalwurmdruk was geweldig hoog die afgelope seisoen en dit het die jong mieliesaailinge se groei, veral op die sandgronde, maar selfs ook op die gronde wat ‘n hoër klei-inhoud het, vertraag.

Dit is natuurlik, nie net die mielies wat onder die hoë aalwurmdruk gelei het nie, maar ook sojabone, sonneblomme en grondbone. Maak seker dat goed beproefde aalwurmdoders gebruik word in die komende seisoen en raadpleeg die verskaffer van die produkte.

Foto 2 dui die effek wat aalwurm op mielies het aan, terwyl Foto 3 die effek van aalwurm op sojabone aandui.

image

image

Siektes op mielies

Die geweldige hoë temperature met gevolglike stremming het ook die voorkoms van wortelsiekte, soos Fusarium graminearum (stam- en wortelvrot) aansienlik verhoog. Groot kolle kon oral in die lande opgemerk word. Waar die voorkoms van dié siekte baie hoog was, het die plante ook omgeval.

Houtskoolvrot (Macrophomina phaseolina) het ook algemeen voorgekom – meestal saam met stam- en wortelvrot. Beide die twee siektes het die plant se vermoë om normaal vog en voedingstowwe na die ontwikkelende graan te translokeer, beperk. Dit het veroorsaak dat die koppe nie goed gevul het nie en pitgewig ligter as normaal was.

Rooi spinnekop

Rooi spinnekop het, soos tydens die 2011/2012-seisoen, vanjaar weer sy opwagting gemaak. Die voorkoms van rooi spinnekop is ook met stremming geassosieer. Indien daar ‘n baie hoë druk van rooi spinnekop voorkom op ‘n relatiewe vroeë stadium, soos byvoorbeeld sagte deeg, moet beheer van die plaag ernstig oorweeg word.

Stronkboorder

Met die koms van BT-tegnologie is dit amper asof ‘n mens vergeet het hoe ‘n belangrike plaag stronkboorder vroeër jare was. Inspekteer steeds lande vir potensiële stronkboorderskade en rapporteer die skade aan die saadverskaffer, veral as dit ‘n BT-kultivar is.

Springhaasrotte

Groot hoeveelhede hektare is gedurende die 2012/2013-seisoen oorgeplant as gevolg van rotskade. Daar is egter groot dele wat nie oorgeplant is nie, maar waar daar wel standverliese voorgekom het. Pas die nodige beheer toe om ‘n oorplantsituasie af te weer.

Daar kan moontlike baie ander oorsake wees waarom gewasse nie goed presteer het gedurende die 2012/2013-groeiseisoen nie. Probeer om die redes vir swak gewas prestasie te identifiseer, om sodoende beter te kan beplan ten opsigte van bewerking, gewaskeuse, kultivarkeuse, bekalking, bemes ting, onkruidbeheer en plaagbeheer.

Mag die 2013/2014-seisoen nog ‘n voorspoedige oesjaar wees.

Publication: August 2013

Section: Input Overview

Search