July 2013
LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Die afgelope seisoen het weer eens bewys dat grondbone elke jaar ‘n nuwe haas uit die hoed kan pluk. Dink maar aan ‘n koekbeslag waar die resep noukeurig gevolg word en sodra die koek uit die oond uit kom, is die besef daar dat ‘n paar onvoorsiene bestanddele bygekom het.
Aan die begin van die seisoen was die verwagtinge hoog dat die 2012/2013-groeiseisoen groot beloftes gaan inhou, maar met verloop van tyd het droogtetoestande, laat reën en lae temperature baie beloftes laat sneuwel en só ook baie vrae weer eens na vore gebring. Die vraag waaroor daar veral bespiegel word, is die groeitydperk van grondbone.
Oor die algemeen is die wete dat grondbone in Suid-Afrika ongeveer 150 dae groei en dat die beste planttyd vir grondbone tussen 26 Oktober en 30 November val.
Met hedendaagse tegnologie en vooruitgang in die wetenskap is daar vasgestel dat hitteeenhede, of beter bekend as graad-dae (degree-days), ‘n meer akkurate mate van groeiseisoenbepaling is. In Suid-Afrika sal grondbone goed aard in gebiede wat meer as 1 800 graad-dae vanaf Oktober tot Maart het.
Hierdie gebiede word aangedui in Figuur 1 soos weergegee in die publikasie The farming handbook deur Barry Smith. Dus, die vraag het relevansie: Hoeveel graad-dae tot grondbone oesgereedheid bereik?
Die grondboonkultivars beskikbaar in Suid- Afrika, het die kenmerkende regop, bossietipe groeiwyse, soos die Spaanse-tipes, en benodig dus minder graad-dae as ranker-tipe grondbone; wat die Spaanse-tipe grondboon meer geskik maak vir aanplanting onder Suid-Afrikaanse klimaatstoestande.
Spaanse-tipe grondbone se graad-dae wissel tussen 1 800 en 2 200, terwyl ranker-tipe grondbone 2 600 graad-dae en hoër benodig om oesgereedheid te bereik. Daar moet egter in gedagte gehou word dat daaglikse minimum temperature ‘n groot rol speel in die fisiologiese groeiprosesse van grondbone aangesien die plant-aktiewe groei staak sodra minimum temperature onder 15°C daal.
Die plant wag dus totdat dit weer opgewarm het tot en met 18°C voordat aktiewe groei weer hervat word. Hierdie scenario het dus ‘n direkte invloed op die tydperk wat dit die grondboon gaan neem om volwassenheid te bereik asook die effektiewe gebruik van hitte-eenhede.
Plantdatum het ook ‘n groot effek op die groeiperiode en opbrengs van grondbone. Hoe later die grondbone in die seisoen geplant word, hoe minder is die beskikbare graad-dae en hitte-eenhede wat dus direk omskakel in ‘n opbrengsverlies. Bygesê, maak nie saak hoe laat die grondbone geplant is nie of hoeveel struikelblokke gedurende die seisoen opduik nie, ‘n grondboon sal altyd iets produseer, al is dit net ‘n halwe ton peule, wat nog altyd ‘n bonus kan verseker in die hooi.
Al het die wetenskap vooruitgegaan en meer opsies vir groeilengte-bepalings daargestel, bly die oesgereedheidsbepaling van grondbone steeds ‘n praktyk wat fisies op die land geskied. Die plant self sal aandui wanneer die tyd reg is om te oes.
Grondboonproduksie het vele prosesse en besluite wat in een groot “masjien” saamgevoeg word. Dit is ‘n onderneming wat jouself as produsent verbind om hierdie gewas te produseer volgens die beste produksiepraktyke beskikbaar, met algehele toewyding en energie en baie geduld daarby gemeng. Sorg vir die grondboon en die grondboon sorg vir jou sak.
Bronnelys
Smith, B. 2006. The farming handbook. University of KwaZulu-Natal press and CTA. The Netherlands.
Publication: July 2013
Section: Input Overview