April 2017
Die Graan SA-leierskap het tydens verlede maand se Kongres vir produsente probeer aandui dat ‘n hele paar gebeure en omstandighede daarop wys dat die tydperk van die vryemark, soos ons dit leer ken het na die sluiting van al die Rade wat graan gereguleer het, verby is.
Dit hou dalk verband met die droogte, dalk met Brexit of dalk die nuwe rigting wat die Amerikaanse president inslaan. Hoe dit ook al sy, graanproduksie is in ‘n tydvak waar daar nie veel bekende paaie is nie. Dit is wat ons as organisasie nou moet soek en vind.
Wanneer ‘n mens in die bos stap en daar is nie ‘n pad nie, is daar ‘n paar belangrike sake wat bepalend gaan wees van hoe die reis gaan verloop. Eerstens moet jy ‘n vaste wete hê van waarheen jy wil gaan. Dit het ons as organisasie vasgemaak met ons visie van volhoubare graanproduksie.
Die volgende saak waaraan ek gedink het, is die gevare of plekke waar ons nie wil of kan gaan nie: Dit is die sake waaraan ons as produsente min of niks kan doen nie. Dit is die steil kranse of groot riviere – ek sien dit as die huidige politieke omgewing.
Ons het daarop gelet dat daar tydens die afgelope twaalf maande heelwat verrassings met verkiesingsuitslae was, maar dit is uiters moeilik beheerbaar. Selfs die internasionale ekonomiese omstandighede en die wisselkoers is dinge waaraan Graan SA en sy lede weinig kan doen.
Dan is daar dié plekke wat wel begaanbaar is en waaraan ‘n mens iets kan doen: Oor ‘n koppie of deur ‘n sloot of sommer net ʼn paar haak-en-steektakke wegkeer sodat ‘n mens daarlangs kan stap. Daarvoor het ons leiers met onderskeidingsvermoë nodig wat weet wat ons moet aandurf en wat ons nie moet aandurf nie.
Die roete deur ‘n bos met geen paaie nie, gaan ook nie sonder skrape en seerplekke wees nie, maar as ‘n mens vasbyt en verduur, sal ons eendag by die nuwe bestemming aankom.
Dit was presies dieselfde in 1997 toe ons die Rade gesluit het en die wilde tog van die vryemark aangepak het. Leiers het nie presies geweet hoe die pad gaan loop nie, maar daar het uiteindelik ʼn pad gekom waarlangs ons gemakliker kon stap.
As ek nou na dít kyk waaraan ons as organisasie saam met ons produsente iets kan doen, kom sake soos beter navorsing en markinligting by my op. Opleiding en ontwikkeling van ons kundigheid is ook belangrike boustene. Al is dit hóé moeilik, moet ons voortbeur – bult op – om die beleidsomgewing te verbeter om volhoubaar te kan produseer.
Dit was uiters bemoedigend dat soveel van die sprekers by Kongres aangedui het wie hul Kompas vir dié nuwe roete is. Ons sal nooit deur hierdie “woestyn” kan loop sonder die wolkkolom bedags en vuurkolom snags nie.
Ons vennote vir die tog waarmee ons besig is, het ook hul ware kleure tydens die 2016-droogte gewys. Dit is hulle wat by ons gestaan het toe die kranse verskriklik steil was. Ek het al in die verlede genoem dat ‘n mens nie juis besondere sterk leiers nodig het wanneer dit maklik gaan nie, maar wanneer dit moeilik gaan, salueer ons die ouens en vroue wat hand opsteek om voor te vat.
Dankie ook vir julle wat die rol opgeneem het om ons te bemoedig wanneer dit regtig ‘n uiters moeilike dag op kantoor was – al het jy ook ‘n taai dag op die plaas gehad. As ons eers weer ‘n slag tussen ons eie mense waardeer word en ons wonde versorg is, sien ons weer kans om die steiltes aan te pak om dié roete te vind waardeur ons by volhoubaarheid kan uitkom.
Laastens het die lewe my geleer dat daar maar min plekke is waar dit afdraande of gelyk is – dit is meestal opdraande. Daarom soek ons nie na kort paaie of net afdraandes nie. Dit is óf in die dieptes van die laagtes (die pyn hiervan kan nie so aangaan nie) óf die bergtoppe wat vir ons die inspirasie gee om vorentoe te beur.
Sterkte vir die pad saam met ons.
Publication: April 2017
Section: Features