September 2014
ANNEMIE ERASMUS, LNR-Instituut vir Graangewasse
Die ekonomies belangrike stamboorderkompleks wat mielies in Suid-Afrika aanval, bestaan uit drie stamboorders, naamlik die Afrika-mieliestamboorder (Busseola fusca), die Chilo-boorder (Chilo partellus) en die pienk stamboorder (Sesamia calamistis).
Al drie hierdie stamboorders kan ernstige oesverliese in mielies veroorsaak. Stamboorderskade wat lei tot oesverlies kan varieer afhangende van die tyd en vlak van besmetting.
Afrika-mieliestamboorder
Vir die Afrika-mieliestamboorder (Foto 1) kom daar drie duidelik afgebakende motvlugte per seisoen voor. Mielieplante word gewoonlik besmet deur óf die eerste óf die tweede generasie, afhangend van die plantdatum.
Wyfiemotte lê eierpakkies agter die blaarskede. Pasuitgebroeide larwes is donkerbruin van kleur en word ligter namate hulle ouer word. Hierdie pasuitgebroeide larwes migreer opwaarts na die kelk waar hulle begin voed. Die skade wat hierdie larwes veroorsaak, lyk soos “venstertjies” op die kelkblare. Groter larwes vreet reg deur die kelkrol sodat kelkblare ‘n ry gate vertoon as hulle uitgroei.
Hierdie tipe skade staan bekend as “hael”-skade. Indien die groeipunt van die plant beskadig word, lei dit tot “dooiehart”-simptome.
Larwes bly lank in die plantkelk voordat hulle in die stam inboor. Die larwale stadium duur ongeveer ses weke, waarna die larwes papies word.
Larwes oorwinter (Foto 2) in stoppelreste wat die hoofbron van besmetting in die volgende seisoen is.
Chilo-boorder
Die Chilo-boorder (Foto 3) het ‘n kort lewensiklus, wat lei tot grootskaalse oorvleueling van generasies en ‘n aanhoudende toename in larwale getalle. Chilo-boorders kan tot vyf generasies per seisoen produseer.
Motte (Foto 4) lê eiers bo-op en onder die blare. Eiers is skubvormig, word dakpansgewys gerangskik, en lyk soos geel vlekkies op die blare. Larwes is roomwit van kleur met twee rye kolletjies op die rug en een ry kolletjies op elke sy.
Larwes migreer na die kelk waar hulle tien tot 14 dae voed voordat hulle uitklim en die stam binnedring. Die skadesimptome van die Chilo-boorder op die stam stem ooreen met dié van die Afrika-stamboorder. Larwes word dan passief en oorwinter in die stamme van die mielies of agter blaarskedes. Chilo-larwes is nie ware diapouse larwes (larwes wat oorwinter), soos in die geval van die Afrika-mieliestamboorder, nie.
Pienk stamboorder
Die pienk stamboorder (Foto 5) kom meestal voor in kusstreke waar dit ‘n belangrike plaag is, maar sy belangrikheid neem tans ook toe in die binneland en dit is waarom die vorige twee stamboorderspesies ekonomies meer belangrik is.
Motte lê hul eiers in groepe tussen die blaarskede en die stam van die mielieplant. Larwes wat onder die blaarskede uitbroei (Foto 6), penetreer die stam direk, terwyl dié wat onder die skutblare uitbroei, die mieliekop binnedring. Hierdie gedrag verskil van die mielie- en Chilo-boorder waar larwes na die kelk beweeg en nie die stam direk binnedring nie.
“Dooiehart”-simptome is die eerste simptome wat waargeneem word omdat larwes die stam direk binnedring en nie skade aan die kelk aanrig nie. Generasies oorvleuel tot so ‘n mate dat individuele generasies nie onderskei kan word nie. Larwes ontwikkel dwarsdeur die jaar en gaan nie in ‘n rustoestand in nie.
Bt-mielies beheer al drie stamboorderspesies. Die Chilo-boorder en die pienk stamboorder word baie effektief beheer deur beide Bt-gene wat kommersieel in Suid-Afrika beskikbaar is. Die Afrika-mieliestamboorder word goed beheer deur die nuutste Bt-geen, maar het wel weerstand opgebou teen die eerste Bt-geen wat in Suid-Afrika vrygestel is.
Dit is daarom baie belangrik om gebruik te maak van die hoëdosistoevlugsoordstrategie sodat die stamboorders nie weerstand teen die geen kan ontwikkel nie.
Vir navrae, stuur ‘n e-pos aan dr Annemie Erasmus by erasmusa@arc.agric.za.
Publication: September 2014
Section: Focus on