• Login
  • Search Icon

Die effek van wisselbou op gewasproduksie

May 2013

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER, ANDRÉ NEL, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM EN WILLEM KILIAN, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Die afgelope aantal seisoene het die oppervlakte onder koring in die Oos-Vrystaat afgeneem, terwyl die oppervlakte onder sojabone weer toegeneem het. Die verwagte wins asook die risiko van die betrokke gewasse het waarskynlik ‘n oorwegende rol in dié verskuiwing gespeel.

‘n Gewas se ekonomiese prestasie word gewoonlik in isolasie beoordeel sonder dat die sinergistiese invloed wat gewasse in wisselbou op mekaar uitoefen, in ag geneem word. Só beskou, kan die prestasie van ‘n gewas nie na wense wees nie en besluit word dat dit nie verbou gaan word nie. Sou die gewas nie in isolasie nie, maar as deel van ‘n wisselboustelsel beoordeel word en die sinergistiese invloed wat gewasse op mekaar uitoefen ook in berekening gebring word, kan die gewas wel vir produksie aanvaarbaar wees.

‘n Sinergisme of wisselbou-effek kom dikwels tussen sekere gewasse voor indien dit afgewissel word. Dit beteken eenvoudig dat ‘n gewas se opbrengs en graankwaliteit bevoordeel kan word indien dit in ‘n sekere gewasopvolgpatroon verbou word. Dit is nie net die winsgewendheid van ‘n gewas wat deur wisselbou beïnvloed word nie, maar ook die produksierisiko word beïnvloed.

Resultate van wisselbou

Verskeie proewe is in die verlede gedoen waarin die wisselbou-effek duidelik na vore kom. Oor verskeie jare en lokaliteite gemeet, styg die opbrengs van mielies met gemiddeld sowat 12% indien dit ná ‘n peulgewas verbou word. Ná sonneblom is die opbrengs van mielies gewoonlik weer dieselfde as dié van monokultuur-mielies. Ná koring en ‘n oorlêperiode van sowat tien maande was die opbrengs van mielies 33% hoër as dié in monokultuur by die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI).

Indien na individuele seisoene gekyk word, is daar groot variasie in die grootte van die wisselbou-effek. Só was daar gevalle waar wisselbou met peulgewasse die daaropvolgende mielies se opbrengs onderdruk het, waarskynlik weens die uitputting van die grondprofiel se vogvoorraad deur die peulgewas met geen oordraging na die daaropvolgende seisoen nie.

Sonneblom is veral in staat om meer vog in die grond as mielies te benut en die daaropvolgende mielies hierdeur te benadeel. Dit vind veral plaas indien die peulgewas of sonneblom tot laat in die seisoen groei en onvoldoende reën val om die tekort na die volgende seisoen uit te wis. In sommige jare verhoog sonneblom die opbrengs van die daaropvolgende mielies asof dit ‘n peulgewas is.

Tabel 1 toon die opbrengsresultate van ‘n wisselbouproef wat by die LNR-KGI digby Bethlehem oor nege jaar uitgevoer is. In vergelyking met mielies, het koring sterk op wisselbou gereageer. Die opbrengs van koring in ‘n 18-maande-oorlêstelsel het dié van koring in monokultuur met 40% oortref. Koring is ook direk ná droëbone in ‘n mielies0-droëbone-koringstelsel verbou waar die koringopbrengs ook 31% hoër was as dié van monokultuurkoring. Weens die reënval was dit slegs moontlik om koring in ses uit die nege jaar ná droëbone te plant.

image

Dan die verrassing. Die opbrengs van koring ná sonneblom en ‘n 13-maande-braakperiode was 54% hoër as dié van die koringmonokultuur-stelsel. Selfs die proteïeninhoud van die graan was hoër as dié van die ander stelsels.

Ongelukkig is die wisselbou-effek nie orals teenwoordig nie en dit wil voorkom of dit minder gereeld op kleigrond as op sandgrond voorkom. In dele en jare waar die reënval aan die min kant is, kan spesifieke wisselboustelsels ‘n opbrengsonderdrukkende effek hê, waarskynlik weens verskille in die oordraggrondvog van een seisoen na die volgende.

Impak op die ekonomie en risiko

Wisselbou vra ‘n groter bestuursinset en tegniese kennis van die produsent en gevolglik moet dit die winsgewendheid van ‘n plaas verhoog en/of die kans vir ‘n mislukking (risiko) verlaag om sin te maak. Verder is daar ook impakte op die meganisasie. Met wisselbou waar dieselfde implemente in verskillende tye gebruik word, kan daar weggekom word met minder trekkers per hektaar.

Om die sinvolheid van wisselbou te toets, is die opbrengsresultate wat met die LNR-KGI-proef verkry is, gebruik om die netto marge van stelsels met koring en mielies in monokultuur te vergelyk. Die gewasbegroting vir die 2012/2013-seisoen wat deur Graan SA gepubliseer is, is gebruik en word in Tabel 2 getoon.

image

Dié direk toedeelbare koste en graanpryse, soos tydens die opstel van die begrotings, is gebruik om marges vir die verskillende gewasse en wisselboustelsels met die opbrengste wat behaal is, te bereken. Waar ‘n braakperiode in ‘n stelsel voorkom, is aanvaar dat dit R700/ha kos om dit onkruidvry te hou.

Ten einde die winsgewendheid van die stelsel te vergelyk, is ‘n denkbeeldige plaas van 400 ha gebruik en verskillende stelsels is op die plaas aangeplant. Daar word aanvaar dat mielies-monokultuur die maatstaf sal wees waarteen die ander stelsels vergelyk sal word. Ten einde die verandering in die gebied te weerspieël, is mielies en sojabone in wisselbou aangeplant asook ‘n stelsel wat bestaan uit mielies, sojabone, koring en dan braak tot weer mielies. Net om die effek van oorlê so min as moontlik te maak, is ‘n stelsel ook getoets waar mielies, droëbone, koring en dan weer droëbone geplant word.

Die winsgewendheid van al hierdie stelsels word deur die winsgewendheid van die individuele gewasse bepaal. Die oorlêstelsel se winsgewendheid word deur die oorlêtydperk en die koste daarvan benadeel. Indien daar ‘n vang-oes geplant kan word, afgesien van die inkomste, word die stelsel se winsgewendheid dramaties verhoog.

Volgens Tabel 3 is dit duidelik dat die winsgewendheid van die verskillende gewasse ‘n groot rol speel. Indien produsente dit ook kan regkry om nie grond te laat oorlê nie, is die winsgewendheid ook beter.

image

Diversifikasie is ‘n maatreël om risiko te bekamp. Die produksierisiko, dit wil sê die kans op ‘n mislukking, is ook altyd laer vir ‘n wisselboustelsel in vergelyking met ‘n monokultuurstelsel. Gewasstelsels se risiko’s verskil ook en beide die risiko en marges behoort in aanmerking geneem te word by die beplanning van ‘n stelsel.

Elke produsent sal self sy eie stelsel vir sy plaas moet ontwerp en kyk of dit werk.

Vir enige navrae, kan Pietman Botha by 082 759 2991 of dr André Nel by (018) 299-6100 gekontak word.

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search