March 2016
JAN DU PREEZ, besturende direkteur: Instituut van Lewendehawe Tegnologie
Die effek en voorkoms van sekere belangrike dieresiektes gedurende droë toestande word kortliks bespreek. Dit is belangrik om die holistiese omstandighede en uitwerking van droë toestande op dieresiektes met jou veearts te bespreek.
Abnormale langdurige droë toestande kan die voorkoms van sekere dieresiektes verminder soos insekgedraagde virussiektes (byvoorbeeld drie-dae-strywesiekte by beeste; bloutong by skape, bokke en beeste; slenkdalkoors by skape en beeste; knopvelsiekte by beeste en perdesiekte).
Bosluisoordraagbare siektes soos rooiwater (babesiose), bosluisoorgedraagde galsiekte (anaplasmose) en hartwater se voorkoms kan ook verminder in droë toestande. Die voorkoms van vrotpootjie by vee asook mastitis by melkbeeste toon meestal ‘n afname in droë toestande.
By voerkrale sal daar gewoonlik ‘n afname wees in van die bogenoemde beessiektes – en veral vrotpootjie. Gedurende droë toestande is die reënval baie minder en die gevolg daarvan is dat die voorkoms van bosluise en insekte wat siektes oordra, baie minder is. Siekteveroorsakende mikroörganismes (byvoorbeeld bakterieë) se voorkoms en verspreiding is ook minder in droë toestande.
Voorkoms van siektes in droë toestande
Drie-dae-stywesiekte het ‘n seisoenale voorkoms. Dit kom veral gedurende die somer (veral die tweede helfte van die somer) en herfs (Maart tot Mei) voor. Gevalle is al aangeteken waar dit gedurende die winter voorgekom het.
Uitbreke van drie-dae-strywesiekte kom gewoonlik met goeie, bogemiddelde reënval voor. Indien die reënval swak is, word gewoonlik net sporadiese gevalle van driedae- strywesiekte gesien. Die siekte verdwyn gewoonlik na die eerste ryp. Hoe en waar die virus oorwinter, is nog nie volledig nagevors nie.
Bloutong is seisoensgebonde en kom in die middelsomer en -herfs voor totdat die eerste ryp val. Die bloutongvirus oorwinter veral in beeste. Inheemse skaaprasse soos die Namakwa-Afrikaner, swartkoppersie en die karakoel, is minder vatbaar vir bloutong. Europese skaaprasse soos die merino is weer baie vatbaar.
Warm en vogtige weersomstandighede bevorder die uitbroei van die Culicoidesmuggies (wat die bloutongvirus oordra) in hulle natuurlike blyplek (habitat) – veral laag liggende gebiede soos vleie, om panne, damme en riviere.
Skape wat in sulke gebiede wei, se risiko om bloutong te kry, is baie groot. In sekere dele in Suid-Afrika waar strawwe ryp voorkom, verdwyn bloutong tussen Junie en Desember. In langdurige droë tye is daar gewoonlik ‘n afname in die voorkoms van bloutong.
Knopvelsiekte kom gewoonlik gedurende nat somer- en herfsmaande voor, by veral diere wat in laagliggende en waterryke gebiede wei, maar uitbreke kan ook gedurende ‘n droë seisoen voorkom. Gewoonlik is daar ‘n afname in die voorkoms van knopvelsiekte in droë tye.
Slenkdalkoors kom gewoonlik in die laatsomer voor as dit warm is en die lugvogtigheid hoog is as gevolg van baie reën. Die muskiete wat slenkdalkoors oordra, broei dan goed uit. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, loop die grootste risiko om slenkdalkoors te kry, want muskiete is baie aktief in daardie gebiede.
Hartwater kom heeljaar voor. Die voorkoms wissel na gelang van die bosluisbevolking en hulle aktiwiteit en is gevolglik minder straf in die droër wintermaande. Die verskuiwing van diere wat besmette bosluise dra na of deur gebiede wat vry van hartwater is, kan tot verliese onder vatbare vee lei, indien hulle besmet raak deur bosluise wat van die diere afgeval het.
Die bosluise oorleef egter selde langer as een seisoen in ‘n gebied waar die klimaat nie vir hulle geskik is nie. Erge droogte verminder gewoonlik die voorkoms van dié siekte.
Rooiwater het dikwels ‘n duidelike seisoenale voorkoms en uitbreke kom meer dikwels gedurende die nat somer- en herfsmaande voor. Met erge droogtes verlaag die voorkoms van die siekte gewoonlik.
Die Culicoides-muggie dra die virus wat perdesiekte veroorsaak, oor. Die siekte kom hoofsaaklik in die laat nat somer en herfs, wanneer muggies volop is, voor. Warm, vogtige klimaatstoestande begunstig die uitbroei van die insekte, wat skemeraande en snags aktief is en in groot getalle in laagliggende dele in vleie en rondom panne en damme waargeneem word.
Gedurende die droër winter, vernaamlik in gebiede waar strawwe koue en ryp voorkom, verdwyn die muggies en gevolglik kom gevalle van perdesiekte nie voor nie, totdat klimaatstoestande wat dit begunstig, die volgende somer weer intree.
Anaplasmose toon gewoonlik ‘n sterk seisoenale voorkoms en uitbreke van die siekte kom meer dikwels tydens die warmer nat somer- en herfsmaande voor. Die hoër voorkoms van die siekte hou verband met die hoër voorkoms en aktiwiteit van bosluise en bloedsuiende vlieë gedurende hierdie tydperk. Klimaat, veral reënval en bosluis beheermaatreëls (soos dip) sal dus ook ‘n invloed op die voorkoms van anaplasmose in ‘n gebied se beeskuddes hê.
In langdurige droë toestande is daar gewoonlik ‘n afname in die kwaliteit (byvoorbeeld voedingswaarde) en volume van gras en ander ruvoer (en soms kragvoer) wat die dier se immuniteit en kondisie ernstig benadeel. Alhoewel baie van die siektetoestande,soos reeds genoem, baie minder is in droë toestande, is die probleem dat die kos of voer wat die diere kry, te min is en die kwaliteit daarvan swak is. Dit kan nadelige gevolge vir die dier hê.
Lamsiekte
Die voorkoms van lamsiekte (botulisme)- vergiftiging by beeste en skape kan vermeerder tydens droogtetye.
Gedurende droogtes verminder ou grasweiding se fosfaatinhoud en kan tot só ‘n mate afneem dat beeste wat daarop wei, pika (dringende lus om aan bene te kou, beenhonger of osteofagie) ontwikkel indien die tekort nie met fosfaat in ‘n lek of in die water aangevul word nie.
‘n Tekort aan fosfaat by diere word gekenmerk deur swak groei, algemene swakheid van die bene, ‘n stywe gang en pika.
Sulke diere kou en lek ou bene van verrotte karkasmateriaal van enige diere wat alreeds gevrek het. Indien hierdie bene of karkasse met die Clostriduim botulinum-bakterieë se botulismegifstof (senuweegifstof/neurotoksien) besmet is en gesonde diere dit deur die bek inneem, ontwikkel hulle lamsiekte.
Die bakterieë kan ook in ontbinde organiese plantmateriaal (byvoorbeeld lusern) hulle gifstof produseer. Botulismegifstof is een van die giftigste en mees dodelike organiese gifstowwe, indien nie dié giftigste op aarde nie.
Lamsiekte kan doeltreffend deur jaarlikse inenting voorkom en beheer word – dit is die veeprodusent se versekeringspolis teen die siekte. Indien hoendermis in die droogte aan beeste gevoer word, moet diere verseker teen lamsiekte ingeënt word, want die botulismegifstof kan ook daarin voorkom.
Raadpleeg jou veearts oor die voorkoming van lamsiekte en moontlike ander siektes wat veral in droogtetye kan voorkom. Die verskuiwing van diere wat nie teen hartwater geïmmuniseer is nie na hartwatergebiede weens ‘n tekort aan weiding, kan erge vrektes veroorsaak. Dieselfde beginsel geld vir rooiwater en bosluisoorgedraagde galsiekte.
Ander aspekte van belang in droë tye
Kontak die outeur by drjanh.dupreez@gmail.com.
Publication: March 2016
Section: Focus on